Ek is ’n alkoholis. Dit het my letterlik jare geneem om uiteindelik die waarheid in die gesig te staar en dit te erken.

Soggens het ek opgestaan nadat ek die vorige dag (en aand) net eenvoudig verdrink het in wyn en later sterker drank. Elke oggend het ek ernstige besluite geneem om my lewe te verander: Jy moet ophou drink. Vandag gaan jy net een glas wyn drink. Jy moet iets doen. Teen een-uur lê my voornemens onder in ’n leë bottle. Die probleem was dat ek meer en meer alkohol nodig gehad het. Een of twee is nie genoeg nie. Nog net een. En nog een.

Ek het alleen gedrink by die huis. Ek het daaglikse take met moeite verrig. Hoofpyn, moegheid, en depressie was my maats. Pynpille ook. Tot ek daai eerste glas kon drink.

My gesinslewe het natuurlik daaronder begin ly. Ek het begin om my hele dag te beplan om daardie eerste glas wyn, en dié daarna. Dit is net genade dat ek nooit vir dronkbestuur afgetrek is nie. Of erger.

’n Paar maande gelede ontmoet ek iemand en ons kliek dadelik. Sy is toe ’n sielkundige by ’n bekende rehabilitasie/psigiatriese sentrum. Ek erken toe aan haar ek het ’n probleem. Ek gaan sien haar, en ’n week later laat ek myself in die sentrum waar sy werk opneem.

Ek moes AL my afsprake op daardie oomblik uit my kop skuif, al my verantwoordelikhede. Ek het nie tyd gehad om eers te dink nie, want ek het geweet, as ek nie nou iets doen nie gaan ek myself en almal om my vernietig. Met baie trane en onsekerheid het ek in die kliniek ingestap op die eerste dag, en ná drie weke kop omhoog uitgestap.

En raai wat? Dis fantasties! Ek kan weer dinge onthou. Ek is weer EK. Natuurlik is dit moeilik! Dis ’n daaglikse stryd, maar ek vat dit een dag op ’n slag. Elke keer as ek getempteerd voel, dan dink ek net: Wil jy weer van voor af begin?

Ek skryf hierdie omdat ek weet daar is baie vrouens wat in dieselfde stryd gewikkel is. Ontkenning is tog soveel makliker. Ek weet hoe moeilik dit is. Maar om nie te drink nie het soveel positiewe kante. Vir een, my vel lyk of ek ’n “facelift” gehad het! Almal vra wat ek gedoen het, ek lyk so wonderlik. DIT, liewe vriendinne, is wat alkohol aan jou doen. Dit maak jou oud, moeg, lelik, vergeetagtig. Dit maak jou dood.

Ek tel elke “skoon” dag met ’n silwer muntstuk in ’n pot. Moenie meer wonder nie. Doen dit net. Dis elke dag 100% die moeite werd.

Nina (Skuilnaam), Pretoria