Ek het weer eens in my bed gelê en bid, dat ek net kan slaap, dat ek net kan wegraak. Maar dit is vergeefs, want hoe slaap jy met die duiwel in jou gees?  SARIE skryf soveel artikels oor beroemdes, bekendes, geskendes ... maar ek wonder dikwels of jul lesers met al die pyn bekend is? Hoeveel mense kan nie slaap nie? Hoeveel mense wens nie dat hul net ’n pil kon drink nie? Net iemand kon vashou nie of ’n laaste glas alkohol skink nie? Hoeveel lesers smag tans na aanvaarding? Hoeveel mense wil net skree, dat hul inderwaarheid net alles wil opgee? Ons is geskool, geleerd, soms selfs vereerd, maar steeds doen ons als verkeerd. Ons het nie ’n man, ’n kind of ’n toy boy om te verslind. Ons is net hier, alleen, bang en so dikwels onkant gevang, want die lewe is laatnag en van geen belang. Genoeg van rym. Ek sit hier, met myself, die enigste samesyn. Ek het geleerdheid en verskeie beroepe gehad, maar dit maak nie saak (daar doen ek die rym weer, maar dalk verweer dit my seer), want die waarheid sal nie ophou klop aan my deur. Die behoeftes sal ek nooit kan versweer, want die alleenheid en verlies kom altyd net weer. Gebore in ’n goeie gesin, dit is ’n begin ... al die luukses waarvoor ek kan vra. Jip, ek het die beste etikette gedra. Ek was uitgetof met Italiaanse skoene en al, maar dit het nie gekeer die grote val. Ek was net so verskriklik alleen, en geen mens êrens kon my van hierdie swart wegneem. Waarom? Ek weet nie, want ek het werklik nie daarvoor gevra. Die swart is van kleintyd my skaduwee, wat nie bereid is om op te gee.  Ek het probeer doen en dink en dazzle, maar op 41 weet ek dat dit nie genoeg was nie, want ek kan nie slaap nie, ek kan nie leef nie en ja, ek kan nie vergeef nie. Hoe som ons dit op? Wou nie met maatjies speel in die kleuterskool. Wou nie kleinsussie laat ophou droom. Kon nie goed lees in die laerskool, kon nie saamstem met die Calvinistiese droom. Van toe af dra ek die rok met die swart soom. Wiskunde was nooit my sterk vak, dus het die binnekring gedink ek is eenvoudig ... swak. Wiskunde is ’n vak waarin jy moet presteer, anders slaan ’n onderwyser jou kop keer op keer. Of hy skiet jy bra-strap, terwyl almal lag, want jy is ’n mishap. Jy gaan na universiteit, aanvanklik baie jolyt, want jou ouers is nie daar om na jou te kyk.Dan maak jy weer eens ’n gemors, en begin oor ... onwetend. Hierdie nagmerrie herhaal hom later telkemale in jou drome. Jy voel trots en begin met ’n werk, maar jou menswees is nie sterk. Word swanger en kry ’n aborsie in die dae toe die agterstraat nog die enigste uitweg was. (Hier verlaat my rym my totaal en al, want daardie dag het ek ver geval. Daardie dag toe die naald nader kom, het ’n stukkie van “ons” menswees omgekom.) Het die afdraand toe begin, of was dit met my eerste sin? Wie weet, die fetus sal nooit vergeet. In elk geval, laat ek verder vertel. Ek het aangehou en probeer moed hou, maar in die nagte en later dae, was daar net hierdie geweldige berou. ’n Seer, ’n swart wat my altyd tart, wat skeur aan my hart ... iets wat die lewe uit my wil vat. Ek het egter aanhou probeer, want die gang van die lewe kan niemand keer. Ek het probeer om niemand seer te maak nie, maar ek wonder? Het ek my nie daardeur geskaak nie? Twee keer in ’n psigiatriese kliniek, tussen-in rehabilitasie, want ek is siek. Elke keer moet my geliefdes daardeur, terwyl ek hallusineer in die seer. In die kliniek kry ek pille en terapie. Vra vir nog, want die duiwel is besig om te bie. Wil eerder in ’n waan en waas weggaan, want dit is beter as hierdie aardse bestaan. Maar dan kom jy uit, en moet weer probeer, op jou eie aangaan met die geweldige innerlike seer. Weens al die pille en luister na die psigiater se grille, raak jy aan nog iets verslaaf. Iets wat jou laaf, maar weer eens jou medemens nerf-af skaaf. In die kliniek is jy ’n kliek. Jy vra en jy kla. Iets moet jou deur die wit gange dra. Jy fake en jy pleit vir nog ’n pil, om die gat mee te vul. Dan kom jy uit en jou geliefdes het verwyt, want die “veilige” dwelms neem nou jou besluit. Hoeveel moet ek nog dink, hoeveel pille moet ek drink, hoeveel glase wyn moet ek nog skink totdat iemand verstaan wat in hierdie menswees van my aangaan? Ek wou ook trou, wou so graag ’n baba hê, maar wat het ek nou om te sê? Is ek deur die lewe uitoorlê? Het ek dit verkies, het ek gevra om alleen te wees, getreiter deur hierdie nagmerries, hierdie altydoorheersende vrees? Ek glo nie ek het, maar hierdie alleenbestaan is duidelik al wat ek nou het.  Waarom skryf ek juis vanaand? Die woorde was al so dikwels op my tong – onbeskaamd – want ek weet nie meer hoe lank ek nog kan wakker lê en dan wel sal opstaan om iets te sê. Aan almal wat die son kan sien, wil ek vra: “Kan jul dalk so ’n bietjie van my swart dra?”