Daar is soveel swaar en seerkry om ons en daarom deel ek graag my positiewe uitkyk met julle.
Ek is gelukkig en tevrede met myself. Al sit ek vanoggend kruisbeen met my skootrekenaar op die bed, in ’n pajama-broek so hoog opgetrek dat my dogter sê ek lyk soos Steve Urkel in die TV-reeks Family Matters. Maar wat is ’n pajama-broek nou eintlik as jy op die drumpel van ’n ‘nuwe ek’ staan?
Ek is geen skrywer nie en sou nooit voorheen my hand op papier gesit het nie, maar nou pak ek die proses met bravade aan.
Genoeg is genoeg! Op 45 het daar pas ’n nuwe straal van opwinding en energie deur my begin vloei, en het ek tot die besef gekom dat ek met die hulp van God alleen verantwoordelik is vir my ‘eindbestemming’ en genoeg van die seerkry-verlede gehad het. Ek sien vroue wat so baie seëninge het, maar tog ontevrede rondloop. Ek wil nie so lyk nie. Die eerste stap is om na my liggaam om te sien. Ek het gewig verloor, want ’n gesonde liggaam huisves ’n gesonde gees. So, basta met die onnodige vetrolletjies.
Ek soek al jare na ’n geleentheid om my kreatiwiteit uit te leef, maar was te vasgevang in my eie klein wêreld en bang vir nuwe uitdagings. Wat as ek sou misluk? Maar ek het die bul by die horings gepak en begin skryf en skilder en teken. Ek is baie trots op my pogings.
Elke dag is vol nuwe geleenthede en dis wonderlik om weer te voel ek ‘lééf’. Ek is realisties genoeg om te besef daar gaan wel dae wees dat ek dalk sal wil tou opgooi wanneer die hormone deurmekaar is, maar ek gaan deurdruk en elke geleentheid aangryp. Hoekom omgee wat mense van my dink? Ek is uniek, ’n goeie ma, harde werker en kreatief. Dus kruip ek uit my dop en word weer die vrou wat God geskape het. Ek gaan myself ordentlik grimeer en versorg voordat ek werk toe gaan. Verby is die dae van ’n bleek gesig en hare in ’n poniestert. Ek gaan my mening verander oor mense wat my seergemaak het, en hulle vergewe. En die manne wat met hul 4 x 4’s so intimiderend op my klein motortjie se agterstewe ry, gaan ek met ’n glimlag laat verbykom! Wanneer ek teater toe gaan en die ballerina so ligvoets sien dans, dink ek telkens terug aan my jeug toe ek ’n kranige danseres was. Ek gaan weer by ’n dansgroep aansluit en die musiek deur my liggaam voel vloei. En in my gedagtes sal ek die hoof-balletdanseres in Giselle wees. My ‘optelhondjie’ spring nou op die bed en lek my gesig blink. Eenvoudige liefde van ’n dier ... ons kan baie hieruit leer.
Ek is geseënd met ’n wonderlike dogter wat my ondersteun en in my glo. Sy’s ’n student en woon nog in die huis. Ons gaan dinge saam doen: fliek, uiteet, vir mekaar gesigbehandelings gee en lag vir die hawermout wat taai geword het op die tuismasker! En ek gaan luister wat haar drome en ideale is. Ek gaan vir my gereeld ’n skuimbad tap, die kerse in my gangkas uithaal en aansteek en na Beethoven luister. Ek gaan tyd maak vir my vriendinne en saam lag oor ons lief en leed. Deel gerus die volgende gedagte met my: Life is a journey - enjoy the ride. Corné Cronje, Pretoria