Sy is beeldskoon en slim en het boonop ’n groot hart vir ons planeet. Die voormalige Mej. Aarde SA Ilzé Saunders is in Februarie met haar beste vriend, Dewald Buys, getroud. Nou begin sy vir SARIE.com blog oor haar lewe, die lesse wat sy leer, en haar nuwe avonture.  

Hier is haar eerste inskrywing.

Screen Shot 2017-04-20 at 11.44.20 AM

Ek en jy is dieselfde.

Ons wil elkeen meer doen as wat nodig is, ’n positiewe bydrae lewer tot die wêreld rondom ons, en soms oorskat ons onsself as ’n soort "superhero". Die lewe het egter sy eie planne met ’n mens en ek is hier om te rammel oor my week, elke week. Dalk, net dalk, help ek jou sin maak van jou lewe soos ek myne probeer verstaan.

Sien, dit is ek nog altyd. Iemand wat ’n rolmodel wil wees vir gewone mense soos ek. Iemand wat vroeg geleer het dat sukses slegs danksy toewyding en harde werk oor jou pad kom en dan net met verantwoordelikheid daarna afgerond en behou word. Dit klink nou soos iets wat mens op jou CV sit, maar jong, dit is die waarheid!

So, hier begin ek vandag heel opgewonde my reis as pasgetroude vrou in ’n uitdagende lewe met soveel keuses, geleenthede en lekker dinge om te beleef. Ek nooi jou uit om saam te kom beleef aan al hierdie nuwe uitdagings, saam te kom ontdek en sommer net saam te kom soek na die mooi in die lewe.

FOTO Du Wayne Photography FOTO Du Wayne Photography

Paasnaweek is sopas verby en was opnuut ’n tyd van introspeksie, om die flikkerende batterye te herlaai en vir moed-skep vir alles wat voorlê. Voor die naweek was my batterye behoorlik pap. Ek is altyd op ’n drafstap en dit is omtrent ’n storie om alles gedoen te kry in een dag, een week of sommer net hoegenaamd. Deel jy dalk hierdie emosie? Wel, ek en Dewald (dit is nou my beste vriend en ek kan self nog nie glo nie, my man!) is baie gesteld op mekaar se welstand en as die batterye begin flikker, dan weet ons dat daar net een oplossing is:

Tyd saam met ons familie en vriende!

Iemand deel nou die dag hierdie stukkie waarheid met my: Die lewe is soos ’n roos. Jy moet gesnoei word om weer te kan blom. Die oud moet jy wegsny om nuwe hoop weer lewe te gee. Dit alles sodat jy God se volle droom kan leef. Nou juis – dankie tog vir die Paasnaweek om weer te kom nuut raak saam met die mense wat vir jou die meeste beteken.

20170416_125750 FOTO Verskaf

20170416_125803 FOTO Verskaf

Nou maar toe, hier is ons nou so ’n paar dae ná die herlaai en ek dink dit is nou die beste tyd om gou so ’n bietjie by jouself uit te kom en seker te maak die vonk is terug en reg om veldbrand te maak in alles wat jy het om aan te pak. As jy enige vrae of raad soek, gesels saam, skryf ’n boodskap onderaan, of vra op SARIE se Facebook-blad en so vat ons hande en vat die lewe nie so vrou-alleen aan nie.

Wees bevonk, dames! Tot volgende week!

Ilzè 

#InspiredLiving