Vanjaar druk die ekonomie meer en minder Kersversierings kan dié plastiekwêreld wegsteek.  Ek dink terug aan my jeugjare (die sestigs en vroeë sewentigs) ... die afwagting vir daardie geskenkie van liefdevolle, opregte ouers wat vandag nie meer daar is nie.  Maar ek sit ook met teleurstellings – daardie opregte ouers het nooit vir my gesê ek is in 1964 aangeneem nie.  Ek sit met die vraag: Waar is my biologiese ma en hoe ervaar sy Kersfees? Het sy vergeet, of is daar nog elke jaar trane oor daardie seuntjie wat nooit Kersfees saam met haar gevier het nie? Wat weggegee is in November van daardie jaar. Maar daar is ook dankbaarheid vir ’n liefdevolle kinderlewe saam met ouers wat ontsettend vir my omgegee het en elke klein deeltjie van hulself gegee het om ons gelukkig te maak.  En ek besef dís eintlik waaroor Kersfees gaan. Die saamwees met ’n gesin wat my kleinmenswees gekoester het, die blink Kersboom met presente, die boodskap van Kersfees, van nederig wees oor die grootste Geskenk wat ooit vir ons gegee is, wat alle hartseer en wonder en alleenheid kom wegvat het en vir ons die verlossing kom bewerkstellig het.   Ek het net een wens vir Kersfees 2009. Koester alles wat mooi is, skryf die ware boodskap van Kersfees in jul harte, koester liefdevolle ouers, kinders en gesinne. Bid vir vrede in elke huishouding in Suid-Afrika. 
Ek bid daarvoor, en spesiaal ook vir ’n mamma wat ek nooit geken het nie. Ek dink ook met dankbaarheid terug aan my aanneemouers wat my lewe so spesiaal gemaak het.
Jan Gouws, Kempton Park