Soms voel jou drome baie ver buite jou bereik. Soos wanneer jy vir weke sonder werk in Duitsland sit nadat jy uit jou eie sak moes betaal om daar uit te kom. Kersie op die koek is as jou agentskap jou vra om 'n moontlike kliënt in Lille, Frankryk, te gaan sien - op jou eie onkoste. So kos die 10 minute-sessie om twee uitrustings aan te pas my R3 000 aan trein- en taxi-geld. Dis nie ongewoon vir modelle om in hul loopbaan te belê voor hulle dit "maak" nie, maar dis nie maklik om jou laaste sente bymekaar te skraap as jy nie eens weet hoe jy gaan terugkom nie. As jy by 'n agentskap teken, betaal jy 'n paar rand vir 'n ordentlike "test shoot", en jy gaan op eie risiko oorsee as jy so gelukkig is. Dan neem dit tyd om kliënte te gaan sien en hulle vertroue te wen. Dis 'n gambling game!

Een van my beste vriendinne in Duitsland, Anna.

Terug by my 10 minute-R3 000-aanpassessie: My reis was allesbehalwe smooth sailing. Die trein het in Frankryk onklaar geraak, waarna ons België toe is om op 'n nuwe trein te klim. Ek was laat, maar kon niemand laat weet nie: my simkaart werk net in Duitsland en ek was WiFi-loos. Op die ou end moes ek 'n vreemdeling vra of ek 'n e-pos van sy foon (in 'n ander taal) kon stuur terwyl ek hurkend in die treingang my balans probeer hou. Hoe ook al, ek het daar uitgekom en die klere het gelukkig gepas. Terug na Amsterdam, waar ek die naweek by 'n vriendin sou kuier, is die treine tjok en blok vol omdat die Gay Pride die naweek daar gehou word. So kry ek op die laaste trein 'n staankaartjie - vir 'n rit van vier uur. Die naweek was fantasties ... die twee maande ná my selfgeborgde laat-my-drome-waar-word-reis na Europa nie heeltemal nie.

Lille in Frankryk waar dit 3°C is. Brrrrrrr!

Ek hoor nie 'n woord van enige kliënt nie en is op moedverloor se vlakte. Ek begin dink ek moet handdoek ingooi en aanvaar die lewe waarvan ek droom is my nie beskore nie ... tot November, toe elke liewe kliënt wat ek gaan sien het my boek. Die Franse kliënt (10 minute, R3 000, ja daardie een!) het my hul kurwemodel vir 2018 gemaak en nou sit en skryf ek hierdie blog uit Frankryk met die lekkerste sjokolade-croissant wat ek in 'n lang tyd geëet het. Ek was intussen ook Duitsland toe vir 'n fotosessie van twee dae, en kla nie meer oor my laaste sente wat ek in euro moes omskakel nie.

Op stel saam met my Franse span. So oulik met hulle gebroke engels.

Die les wat ek geleer het? Soms neem dit maande (selfs jare!) om die vrugte van jou harde werk te pluk. Dalk was 2017 nie jou jaar nie en voel jy moedeloos oor 2018 se vooruitsigte, maar ek wil jou vra: Asseblief, byt vas! Jou deurbraak is nader as wat jy dink, hou net aan glo, hoop en vertrou dat jy dubbel en dwars beloon sal word. As dit maklik was, het almal dit gedoen. Dit laat my dink aan wat 'n koshuismentor eendag vir my gesê het: "Jy kry áltyd terug wat jy insit, net nie noodwendig hoe en wanneer jy gedink het nie." Harde werk word altyd beloon.

FOTO Instagram / Marcielhopkins

Mag jy 2018 aanpak met 'n hart wat nie terugstaan vir teleurstellings en groot drome nie.

Liefde

Marciel X