Drie jaar gelede het die kanker teruggekeer en in haar rug versprei. Dit stuit egter nie dié gr. 12-leerder van die Hoërskool D.F. Malan nie. Sy wil minstens drie onderskeidings behaal en daarna reis.

"Die liefde van die gemeenskap en my skoolmaats is ongelooflik. Dis asof my siekte almal rondom die skool soos ’n familie saambind. Die ervaring met die ballonne was absoluut oorweldigend. Ek is dankbaar oor die geld wat daarmee ingesamel is, maar die liefde waarmee dit gedoen is, beteken nog meer.

Die chemoterapie maak my nie moedeloos nie. Ek wil net hê dit moet werk. Die dae wanneer ek effens neerslagtig voel, sit ek The Witch, my funky pruik, op. Ander dae dra ek Jana, die gewone blonde een.

Dit was ’n groot inspirasie toe ek Elsje Blair, die swemmer Ryk Neethling se suster, ontmoet het, want sy het ook kanker in die rug. Sy is al 31 en het dit van haar dertiende jaar af. Dit gee my hoop.

My drome vir die toekoms is anders as my tweelingsuster, Martie, s’n. Sy gaan volgende jaar fisioterapie studeer, maar ek wil nie die eise van studies ook nog op my skouers laai nie. My droom is om die inkleurboeke wat ek vir graadeentjies ontwerp het, te versprei.

Buiten om nog eendag saam met Ryk te gaan sky-dive, wil ek ook ’n boek oor my lewe skryf.

Hoewel my lyf dalk deur die kanker afgetakel word, is my gees gesond.”

Mense wat geld vir Gesie se behandeling wil skenk, kan die skoolhoof, Joh Dorfling, by 021 948 8781 bel.