Klein Duney Ludick is op 22 Januarie 2010 gebore, maar sy's kort na haar geboorte met Vacterl TOF OA gediagnoseer. Dit is 'n rare sindroom waar 'n babatjie se esofagus (slukderm) en tragea (lugpyp) verbind is, met die gevolg dat kos of melk in die longe beland. Boonop het sy 'n gesplete verhemelte. Op dag 4 na haar geboorte is sy teater toe om haar esofagus te verleng en sy is net twee dae na haar geboorte na die Baragwanath-hospitaal oorgeplaas, omdat haar ouers, Mariska en Jacobus, nie 'n mediese fonds het nie. En daar het klein Duney amper 4 keer haar lewe verloor.

Ten spyte van baie terugslae het 'n wonderwerk gebeur, en klein Duney word môre geopereer.

"Ek het 'n maand en 'n half gelede 'n boodskap van 'n mamma ontvang wat vir my gesê het dat sy haar dogtertjie na my genoem het, en dat dit 'n spesiale babatjie is," het Dunay vanoggend gesê.

"Sy het vir my die links na Duney se Facebook-blad aangestuur en vertel van Duney se rare siekte. Sy het ook gevra of ek weet dat die naam Duney ''dogter van God'' beteken. Ek het dit gelees, en hoe sê 'n mens nou, the rest is history. Ek't van die dag wat ek van Duney gehoor het, álles ingesit en volstoom probeer om geld vir haar in te samel."

"Ons het by plekke aangeklop, maar baie keer kry jy net automated replies. Ek het al begin moed verloor, maar ons het aanhou probeer. Jacaranda 94.2 se Good Morning Angels het 'n ruk gelede vir ons by die hospitaal ontmoet en R20 000 geskenk vir Duney se mediese sorg." (Kyk 'n video van die geleentheid)

"Dokters het aanvanklik gesê hulle kan niks vir haar doen nie, maar Duney het net sieker geword. Sy is toe na 'n dokter by die Sandton Medi Clinic geneem. Toe ons uitvind dat haar operasie byna R383 000 gaan kos, was ons omtrent histeries. Die arme kind is al deur so baie. Sy's onlangs ook met spina bifida gediagnoseer, 'n geboortedefek waar die rugwerwels nie behoorlik vorm nie."

Dis toe dat die ontbyt-radiospan van Just Plain Darren op Jacaranda 94.2 vanoggend (23 November) 'n beroep op luisteraars gedoen het om geld te skenk vir Duney se operasie.

"Mense was awesome hierdie week. Almal het my Facebook-status by hulle status inge-paste en so het ons die nuus versprei. Mense het, as hulle nie kon geld gee nie, gesê hulle sal bid. En so met Facebook en Jacaranda 94.2 se hulp het ons R200 000 ingesamel. Ons het R183 000 gekort. Toe kom die oproep. 'n Anonieme inbeller het gesê hy sal die verskil opbetaal. Die trane het net gekom!" Duney word vandag (Woensdag 24 Nov) in die Sandton Medi Clinic geopereer. (Duney is intussen geopereer, lees hier)

Dunay Nortjé by klein Duney

Só kan jy help

Jy kan 'n donasie aan die Duney-hulpfonds skenk
Rekeningbesonderhede:
Duney Hulpfonds
Standard Bank
Lichtenburg-tak: 052539
Rekeningnommer: 284363219
Spaarrekening
OF Besoek haar Facebook-blad en versprei die nuus
  • Dunay vra dat almal vanaand 21h00 vir 9 minute bid vir 'n voorspoedige operasie, maar ook om dankie te sê vir die geld wat tot dusver geskenk is.
  • Ook, dra môre wit gedagtig aan die engelkind.