Dit het vir haar gevoel sy word versmoor in haar huwelik. Maar Christel Rohrs wou bewys dit kán werk. Sy het op 19 op hom verlief geraak. Hy was haar eerste kêrel en sy was idealisties oor die liefde. ’n Paar jaar later is sy getroud. Haar ouers en suster was gekant teen die huwelik. Toe begin dinge weliswaar verkeerd loop. Sy het haar aan familie en vriende begin onttrek en haar hele lewe aan haar man gewy in hul huis in Pietermaritzburg. Want sy het vas geglo die liefde sal alles oorwin. Sy het ook geglo die fout lê by haar. Sy kon nie uit die huwelik wegbreek nie. As Christen was sy boonop oortuig dat egskeiding sonde is. Haar oë het dowwer geword van die hartseer en haar lewe het soos ’n tronk gevoel . . . Die egskeiding, toe dit uiteindelik kom, was lank en pynlik. Tóé sou sy nooit kon dink dat sy eendag in staat sal wees om ánder te help wat soos sy ook platgeslaan is deur die lewe nie. Want ’n wonderlike reis het vir haar voorgelê - van die armes in die Himalaja tot die prostitute van Pattaja, Thailand. Hier het sy haarself weer ontdek. Vandag weet sy: Jy kan heling vind op vreemde plekke. Én ’n nuwe lewe.

“Ek moes ’n ver pad stap om te kom waar ek vandag is. Dis danksy elke moeilike tree dat ek nou kan sê ek voel volkome vry van die verlede. Dit het alles begin aan die einde van 2000 toe ek ’n paar dae in ’n vriendin se tuinkothuis gaan bly het om weg te kom uit my omstandighede. Ek wóú nie meer huil nie en het tydelik uit my huis getrek. Dit was ’n lang proses, maar op 21 Augustus 2001 is ons geskei. Ek moes van voor af begin: finansieel, emosioneel . . . My vriende en familie het my baie emosionele ondersteuning gegee. Sonder hulle sou ek nie daardeur kon kom nie. Ek het uit my werk as skakel- en bemarkingsbestuurder bedank en ’n garageverkoping van my besittings gehou. Dit was tyd vir ’n nuwe lewe.

’n Maand later is ek na Fort Lauderdale in Amerika om te gaan werk soek. My eerste werk was as ’n skoonmaker - hulle het dit ewe ’n hostess genoem - op ’n gemotoriseerde seiljag wat na die Bahamas en die Maagde-eilande gevaar het. Dit was die regte werk op die regte tyd. Daar was ’n bemanning van vyf en ons het goed oor die weg gekom. Ek het baie tyd gehad om te dink en om te huil. Dit het my tyd gegee om my pyn te verwerk. Ná ’n ruk het ek kontak met my eks-man gemaak. Ek wóú hê hy moet weet ek oorleef en ek is ’n ‘iemand’. Binne 15 maande het ek sowat $31 000 (sowat R310 000) gespaar.

Vir die eerste keer het ek besluite geneem wat goed was vir my

Vir die eerste keer in my lewe het ek gesien hoe mense hulself sorgvry geniet. Die grootste gedeelte van my twintigs was ek immers vasgevang in ’n toksiese verhouding waar ek net kop bo water moes hou en boonop my man probeer gelukkig hou. Ek het nie ’n jongmenslewe gehad nie.

Skielik was ek omring deur mense in ’n vakansiestemming, ek het selfs die sosiale lewe op die seiljag geniet en die wêreld gesien. Ná die ondervinding op die seiljag het ek ’n Pilates-kursus gedoen, sodat ek nog ’n vaardigheid sou hê om mee geld te verdien sodra ek terug was in Suid-Afrika.

Ek en ’n medebemanningslid het ook ’n reis (per motor) deur Amerika oor sowat 23 100 km aangepak. Dit was bevrydend en bemagtigend. Vir die eerste keer in my lewe het ek besluite geneem wat goed was vir my. Ek het myself laat geld. In September 2003 was ek terug in Kaapstad en het ek as Pilatesinstrukteur gewerk. My selfvertroue het teruggekeer. Ek was dankbaar oor die verloop van my lewe. Dit was tyd om iets terug te gee aan die mensdom. Ek het begin navorsing doen oor liefdadigheidswerk en besluit om ’n drie maande lange kursus by Youth With a Mission (YWAM) in Los Angeles te volg. Dit was een van my beste besluite nóg. Die reis na my eie heling was in sy tweede fase en het momentum gekry. Ek het vir die eerste keer begin voel dis nié sonde om te skei nie.

Dit was tyd om aan te beweeg en myself en die wêreld te probeer verbeter. Ek en 11 vrywilligers is na Nepal. Ons is op ’n staptog van Pokhara deur piepklein dorpies in die Himalaja (wat nie per motor bereik kan word nie) met net die allernodigste in ons rugsakke. Ons het sowat 50 km per dag gestap - soggens van seweuur tot saans halfses. Dit was ongelooflik. Van die mense het nog nooit Westerlinge gesien nie en aan ons gevat, na ons gestaar en ons nie ’n oomblik met rus gelaat nie. Ons het vir hulle Engels geleer, liedjies gesing en met hulle gespeel.

Die siklus van ellende het begin breek. Ek het al meer gevoel my lewe het ’n doel. Dit was van kleintyd my begeerte om mense te help. Terwyl ek getroud was, kon ek nooit by sulke projekte betrokke raak nie. Ek het gevoel of ek blom. Ons het uiteindelik toilette gebou in ’n afgesonderde gehuggie - dit danksy die vaardighede van die inwoners wat die waterdruk hoog teen die Himalaja verstaan. Die vreugde op hul gesigte was iets om te aanskou. Ná twee maande se werk daar het YWAM besluit om ’n missie na Pattaja in Thailand te stuur om vroue te help om uit die kloue van prostitusie te ontsnap. In Augustus 2004 het ek by die Tamarsentrum, ’n gemeenskapsentrum waar YWAM gemeenskapswerk doen, in Pattaja begin werk.

Die meisies se ‘singerige’ gepraat het baie gevoelens in my wakker gemaak. Dis asof ek hul pyn en gevoel van nutteloosheid kon aanvoel, selfs al kon ek nog nie Thais verstaan nie. (Ek het dit later leer praat en skryf.) Miskien het ek dié aanvoeling gehad omdat ek ook voorheen minderwaardig gevoel het.

Hulle was vasgevang in lewens waaruit hulle nie maklik kon ontsnap nie. In die Theravada-Boeddhisme word geglo ’n vrou verdien merietepunte vir die hiernamaals as sy tot op 25 geld verdien. Seuns en jong mans verdien ook meriete-punte voor 25 deur slegs drie maande lank ’n monnik te wees. Die meeste meisies, veral dié van arm plattelandse gebiede, het min kwalifikasies, en word gedwing om geld uit prostitusie te verdien. Die regering betaal vir hul basiese opvoeding tot graad 6 (ouderdom 12 of 13), maar daarna moet hul ouers betaal. Arm ouers kan dit net nie bekostig nie. As prostitute verdien jong vroue redelike salarisse, wat hulle dan huis toe stuur as bewys van hul inkomste. Baie van hul ma’s het dit ook gedoen. Dit word aanvaar as deel van ’n vrou se lot. Dit word nie bespreek nie. Jy doen dit immers vir die hiernamaals.

Ons het vir hulle vertel dat daar ander maniere is om geld te maak. Hulle het in die Tamar-sentrum geleer om te bak, om mani- en pedikure te doen en geskenkkaartjies te maak. Dít bemagtig hulle om hul eie ondernemings op die been te bring. Baie van dié meisies kon nie glo daar is ’n uitkoms nie. Van hulle is so raad-op ná ’n jaar of twee as prostituut dat hulle begin dwelms gebruik om die geestelike pyn te verdoof. Net die beeldskone meisies beland as dansers in Hongkong of Bangkok. Die gemiddelde meisies moet van 14 tot 25 jaar baie lang ure per dag werk as prostitute. Dis gevaarlik. Op 25 lyk hulle al lewensmoeg.

Danksy skenkings aan die Tamarsentrum kon ons hulle ’n ‘salaris’ gee om huis toe te stuur. Van die ouers wat gehoor het hul dogters is nie meer prostitute nie, was bekommerd dat hulle dalk nie ryk mans gaan ontmoet om hul geldkoffers aan te vul nie. ’n Mens kon sien hoe die meisies se siele ligter word en hoe hulle meer glimlag. Dis asof hulle begin besef hulle is meer werd as seks. Baie van hulle het, weens hul ‘beroep’, liefde gelykgestel aan seks. Dié wat God se liefde ervaar het, het mettertyd bely dat hul lewe sinvoller voel as ooit tevore. Danksy hul geldelike onafhanklikheid kon hulle nou die toekoms selfversekerd tegemoet gaan. Nes ek.

Ek het by die prostitute gesien hoeveel krag het 'n glimlag

En ek was dankbaar dat ek kon help om hulle dié lig te laat sien. Ek het baie heling in dié verhale gevind. Ek kon my groeiproses dáár voltooi. Deur hulle te help om hulself te help, het ék gegroei. Deur met hulle te gesels, het ek my eie pyn weggepraat. Dit het my opnuut dankbaar gemaak vir mý lewe en vir die krag van God se liefde. Ek het ook by hulle gesien hoeveel krag het ’n glimlag en hoe belangrik dit is om mekaar in vriendskap te dien. Die Thais is baie saggeaard en ingestel op hul naaste.

Thai-massering, waarin ek ’n kursus gevolg het, het my ook baie geleer oor respek vir die liggaam. Ek het gedink ek kan dit moontlik in Suid-Afrika inspan as nuwe beroep. Met my terugkeer verlede jaar was dit vir my baie belangrik om soveel as moontlik vroue daarvan bewus te maak dat dit belangrik is om lief te wees vir hulself. Goeie liggaam- en sielsorg is hiervoor belangrik. Ek het eers ’n ruk lank vir myself gewerk. Daarna het ek masserings in ’n luukse hotel in Kaapstad gedoen en later het ’n spa my gevra om by hulle te kom werk. Massering is nou my beroep en my passie. Toe ek getroud was, het ek min aandag aan myself gegee. Nou besef ek hoe belangrik dit is om jou liggaam en siel te pamperlang. Ek geniet dit om vroue te koester. Dis ’n bevredigende beroep. Hier kan ek iets doen om ander te help en sien hoe goed hulle voel as hulle by die salon uitstap. Die krag van aanraking moet nooit onderskat word nie.

Die siklus is voltooi: Nou kan ek ander heel.