Marciel Hopkins, een van SARIE se gewildste bloggers en ’n suksesvolle model, verkondig liggaamsliefde wyd en syd. Nou kuier sy ’n bietjie in SARIE se Kaapse kantoor. Jy lees reg, Marciel doen ’n internskap by ons #Workinggirl. Natuurlik beteken dit ook sy blog weer vir ons!

Marciel_feat

Hier's haar eerste blog vanuit SARIE se kantoor:

Ek en my kêrel was onlangs in die Cederberg om van die stad se ge-buzz weg te kom. Toe ek hom twee jaar gelede ontmoet het, het hy my met geur en kleur vertel hoe graag hy deur Suid-Afrika wil reis in sy Jeep Wrangler. Met ’n innerlike rol van die oë het ek gedink: Hierdie gaan nét ’n vakansie-romanse wees. Ek wou die wêreld sien en het gedroom van ’n suksesvolle modelloopbaan in Europa.

Die idee van ’n half-afgeblaasde kampmatrassie, iewers in die middel van nêrens, met ’n koue stort en ’n toilet wat ek met ander moet deel, het my glad nie aangestaan nie. Needless to say, ’n bietjie meer as ’n jaar later het hy my oortuig om die “glamping”-ding – glamorous camping – te probeer.

Jy slaap in ’n reeds opgerigte tent-huisie en jy het jou eie badgeriewe. Ek sou dit nie noodwendig glamorous noem nie, maar dit was wel ’n besonders aangename belewenis.

Marciel Hopkins Cederberg

Dis snaaks hoe net drie ure se ry uit die stad soos ’n splinternuwe wêreld voel. Die Cederberg bied vir my ’n ander bekoring: ’n hemelruim gevul met die Melkweg se liggies.

Ek was in stille verwondering. Die nuwe mooi het saggies in my hart kom kruip. Glo my, dit wás saggies, want daar was geen foon wat kon lui of die pieng van ’n boodskap laat nie. En soos ’n kind kon ek weer saam met die verskietende sterre wense maak.

Jare gelede het ek met ’n skoolkamp op die Oranjerivier se oewer net so ’n wens gemaak, en dit het waar geword! Ek sit vandag by my SARIE-lessenaar vir ’n internskap wat ’n paar weke gaan duur. Ek het SARIE se redakteur, Michélle van Breda, as laerskooldogtertjie by die KKNK ontmoet en toe met groot oortuiging vir haar gesê: "Ek gaan die volgende redakteur van SARIE word.”

Sjoe, praat van selfvertroue ...

Tog kan ons so baie by ons kindwees-drome leer. Drome verander soos jy ouer word. Op die oomblik is ek op ’n missie om die wêreld se houding jeens liggaamsdiversiteit en -aanvaarding te verander.

Wie weet, dalk word ek nog eendag Me. Redakteur! Maar eers is dit ’n voorreg om ’n klein deel van my SARIE-droom te kan uitleef.

Marciel en Rolanda In 2006 saam met Rolanda Marais by die KKNK.

So nou is my boetie elke dag my nie-amptelike Uberbestuurder. Nie as gevolg van die gebrek aan parkering in die middestad nie, maar eerder die koste daarvan. Teen R16 per uur sal ek ná drie weke se parkering totaal en al bankrot wees. My Mini-motortjie staan nou elke dag veilig en verniet by sy koshuis.

Ek weet ons is nou eers by dag 3, maar die idee van ’n agt-tot-vyf-werksdag is op die oomblik vir my ’n veilige hawe. Die afgelope twee jaar was nie ’n enkele dag van my lewe dieselfde nie. Dié vryskut smag soms na meer struktuur en standvastigheid. Soos baie van julle weet, is dit nié so maklik om jou eie baas te wees nie. Niemand stel vir jou deadlines nie, niemand besluit watter projekte jy volgende moet aanpak nie en niémand betaal elke maand vir jou ’n vaste salaris nie.

Al klink dit romanties om betaal te word om mooi te lyk op stel, kan dit ook alleen raak. Op jou af dae is daar niemand om mee te gesels of om jou te irriteer nie. Jy irriteer jouself met procrastination en jy raak gespanne oor die werk wat dalk nie inkom nie.

Elke werk het sy uitdagings en die modebedryf het verskeie minder aangename oomblikke wat nooit sosiale media haal nie: Die bra wat jou ribbekas druk tot minimale asemtoevoer, die 05:00-call time, die 12-uur-werksdae ... dis uitputtend. Maar dit het ook sy belonings!

Op ’n onlangse 10 uur lange shoot by Llandudno in Kaapstad.

Net soos wat ek die Cederberg-naweek se anderste mooi waardeer het, het ek vandag waardering en bewondering vir die verskillende beroepe waarin ons elkeen is.

Wat ’n voorreg is dit nie om elke oggend met ’n spesifieke doel te kan opstaan nie?! Jy is nodig om daardie dag ’n spesifieke taak te verrig of om ’n verskil te maak. Moenie jou beroep en verantwoordelikhede onderskat nie; saam maak ons ’n span wat ons land ’n mooier, meer effektiewe en aangenamer plek maak.

Met liefde uit die SARIE-kantoor,

Marciel