Ek loop nou al vir maande met SARIE se Maart 2008-uitgawe in my sak rond waarin die artikel “Vreugde van ’n aanneemkind” op bladsy 158 verskyn. Hierin vertel Anadia Serfontein van haar ontmoeting met haar biologiese ma. Toevallig lees ek ’n soortgelyke artikel in ’n ander tydskrif waarin nog ’n aanneemkind háár beste en slegste dag beskryf. Albei vroue het ’n slegte ervaring gehad toe hulle hul ma’s ontmoet het. Vandag staan ek aan die ander kant van ’n aanneemsituasie - ek is ’n ma wat my baba afgestaan het. Toe ek gisteraand na my kamer gaan, besef ek skielik dat die baba wat ek laat aanneem het presies oor twee maande 21 jaar oud word. En ek kan nie help om te wonder nie... ek wonder al vir 21 jaar. Ek wonder hoe sy lyk. Is sy gelukkig? Het sy dalk my blou oë? Wonder sy oor my? Het sy my al dalk probeer opspoor, maar kon my nie in die hande kry nie? Het sy dalk een van hierdie artikels gelees en besluit dat sy my nie gaan soek nie omdat sy bang is dat sy ook ’n slegte ervaring gaan hê? Of, miskien stel sy glad nie belang om te weet wie ek is en waar sy vandaan kom nie?  Ek was destyds 20 en baie naïef, en het jammerte met liefde verwar. Toe ek my weer kom kry, was ek swanger. Ek het met selfverwyte geworstel, want so iets gebeur mos nie met ’n goeie Christen-meisie nie. Wat sou my ouers sê? Hoe sal ek hulle ooit weer in die oë kan kyk? Ek het vir sewe maande stilgebly en die moeilike pad alleen gestap. Toe ek vir ’n naweek huis toe gaan, moes ek eenvoudig die nuus aan my familie oordra. My ma was hartseer omdat ek dit so lank alleen gedra het. My pa was aanvanklik kwaad, maar het bedaar en gesê hulle sou my bystaan. My familie was vir my ’n groot steunpilaar.  Die volgende vraag was: “Wat gebeur nou?” Dis seker een van die moeilikste besluite wat ’n vrou kan neem. Ek was jonk, het pas begin werk, was verward, onseker en nie daartoe in staat om ’n baba alleen groot te maak nie. My oumagrootjie het my vertel van ’n tehuis vir ongehude moeders in Port Elizabeth en ek wou regtig doen wat die beste vir my baba sou wees.  Ek het die maatskaplike werker gaan sien en sy het my vertel van ’n kinderlose egpaar wat smag na ’n babadogtertjie. Hulle sou vir haar ’n goeie ouerhuis en opvoeding kon gee. Ek het deurentyd gebid dat die Here my sal lei om die regte besluit te neem. Die dag toe ek besluit om haar te laat aanneem, het ek ’n kalmte en rustigheid ervaar en ek het geweet ek doen die regte ding vir my kind. Ek het daarna verhuis, ander werk gekry, en ’n nuwe lewe begin.  Ek het goed ge-"cope" met die situasie, want die Here was saam met my in die besluit wat ek geneem het. Maar daar gaan nie ’n verjaardag verby wat ek nie aan haar gedink het nie. Ek wonder of sy gelukkig is en of sy innerlike vrede het oor haar situasie.   Ek sal haar graag eendag wil ontmoet, en ek besef ek sal nooit haar ma wees nie. Ek sal haar graag aan my man wil voorstel en aan haar pragtige twee halfsussies wat die Here vir my in háár plek gegee het.  As sy ooit wonder oor my, wil ek maar net vir haar sê ek is ’n doodnormale mens, dat ek ’n standvastige, beginselvaste gesin het en dat dit lekker sou wees om haar en haar ouers te kon ontmoet. Aan haar ouers wil ek sê ek sal nooit die geskenk wat die Here vir julle deur middel van my gegee het, van julle wegneem nie. Ek glo biologiese ouers en aanneemkinders kan wel gelukkig herenig word. Dit hoef nie altyd onaangenaam te wees nie. Maar, ek sal nooit eerste met haar kontak probeer maak nie, want ek voel dit bly haar keuse of sy my wil opsoek of nie. Ek wil net vir haar sê: “Baie geluk met jou mondigwording, en mag Jesus jou pad met rose besaai. Mag Hy jou beskerm en seën en mag jy altyd jou sterkte by Hom vind.” Intussen kan ek maar net bly wonder .........     Bea Schaeffer (skuilnaam), Wes-Kaap