"Dit was 'n week van vreugde nadat ek gehoor het ek is eindelik swanger. Ek en Heinz was in Kimberley vir werk. (Aletté is 'n voorkomskonsultant en Heinz sing soms by haar geleenthede.) Heinz het daarna saam met my ma Johannesburg toe gery. Ek en my pa het in Kimberley agtergebly, want ek moes kliënte sien. Ek het die Maandagoggend 'n bietjie geoefen, niks te veeleisends nie. Toe begin ek bietjie bloei. Ons het dadelik dokter toe gejaag. Die dokter kon nog die vrugsakkie met die baba sien en was onseker of die baba in gevaar is.

"Ek het die Woensdag teruggevlieg Johannesburg toe om my ginekoloog te gaan sien. Ek was 'n wrak teen die tyd dat ek by sy spreekkamer ingestap het. Die sonar het nie goed gelyk nie, maar ek moes steeds bloed laat trek. Ek het aanvaar die tekens is nie goed nie en het die nag omgehuil. Ek en Heinz het hierdie ervaring in die Here se hande gesit. Ek het besluit om niemand te blameer nie. Nie myself nie, nie God nie . . .

"Donderdag het die bloedtoetse gewys die baba leef nog. Toe begin ek weer hoop. Maar teen Vrydag het ek die miskraam gehad. Ek het dit so aanvaar en daarby berus. Ek het die swangerskap destyds dadelik op Facebook bekend gemaak, en ek sal dit weer doen. Ek glo dit wys ek is nie bang iets gaan met die baba gebeur nie. Ek wil nie in vrees leef nie. Ons gaan so gou moontlik weer probeer."