As jy doof is, leef jy soos ’n goudvis in ’n glasbak. Jy sien die wêreld verbygaan, maar jy hoor niks. “Dis designer-eensaamheid,” sê die 17-jarige Marisa Smit van Kaapstad. “’n Mens vra nie daarvoor nie.” Marisa het hart en siel uitgesien na die kogleêre inplanting - wat haar lewe sou verander. Kogleêre inplantings word al reeds ’n paar jaar in Suid-Afrika gedoen, maar vir die eerste keer is een ingeplant wat die pasiënt sou kon help om ook musiek te hoor.

Aan haar proefkonynstatus het Marisa haar skaars gesteur. Belangriker was dat sy hierna nie meer “soos ’n dooie tussen lewendes“ sou voel nie. Die operasie aan haar skedel het noodwendig swelling veroorsaak en sy moes dus drie - baie lang - weke wag vir die eintlike groot dag: Die aanskakel van die ingeplante elektroniese toestel. Maar toe dié oggend in die hartjie van die winter in die Tygerberg-hospitaal aanbreek - 9 Junie 2005 - het sy in trane uitgebars. En haarself vir die eerste keer hoor huil. Die wêreld waarna sy so uitgesien het, was ’n verwarrende, oorweldigende kakofonie.

Die span gehoorkundiges het haar so goed moontlik vir dié waterskeidende oomblik voorberei, maar hoe verduidelik jy ’n klank of geluid vir iemand wat nog nooit klank of geluid gehoor het nie? Geluide wat vir my en jou normaal is - die tik-tik van ’n rekenaar-toetsbord, iemand wat snuif, ’n stem buite in ’n gang - was vir Marisa op daardie oomblik ’n oorverdowende lawaai. As jy nog nooit ’n klank gehoor het nie, beteken dit vir jou aanvanklik niks. Toe sy ontsteld uitroep na haar ma, het sy haar boonop boeglam geskrik vir haar eie stem. Dit was ontsettend hard. By haar in die vertrek was haar broer, Thean, haar jare lange oudioloog, Lida Muller, haar ma, Annemarié Smit, en haar ouma, Marie Basson. Hul stemme was aaklig. Hard en skril. Wat meer is, al drie het verskillend geklink. “Ek het gedink alle stemme klink eenders!” sê Marisa.

Branders en vuur
Maar Marisa het vinnig geleer. Ook glo sy van kleintyd in aanhou en uithou. Buitendien, dit het met raap en skraap R180 000 gekos tot hier. “My ouma sê altyd niks is so suksesvol soos sukses nie. Ek glo daaraan,” praat sy nou, maande ná die inplanting in haar regteroor. Ná daardie dag wat so sleg begin het, is die toestel elke paar weke ingestel sodat Marisa nuwe klanke kon absorbeer. En intussen is die wêreld inderdaad vir haar aangeskakel danksy dié klein, maar hoogs ontwikkelde elektroniese toestel. Wanneer sy haar dik bos krulhare los dra, sien jy nie eens die buitenste deel daarvan agter haar regteroor en teen haar kopvel nie.

“Dis baie opwindend elke keer as ek ’n nuwe klank hoor. Die beste tot dusver was my eie asemhaling, die gespin van my kat, Toulouse, die geluid van skape wat gras vreet op my tannie se plaas en die klank van branders. Die see klink soos mense wat met baie plastieksakke raas. En ’n kaggelvuur klink soos handeklap.”

Maar hoe weet sy hoe plastieksakke klink, of handeklap? “Dit was van die eerste klanke wat ek kon hoor. Hierna het die see en die vuur gekom.” Vir die eerste keer in haar lewe hoor Marisa, wat in ’n gewone hoofstroomskool is, die skoolklok en die afkondigings. Sy hoef nie nou meer, soos so dikwels tevore, ná skool ’n krisis by die huis te hê omdat sy nie weet of daar ’n toets is of nie, of onseker is of die volgende dag civvies-dag is of nie. Soos sy ’n nuwe klank hoor, teken sy dit aan in haar dagboek: Reën op my ruit, toilet spoel, honde blaf buite, selfoon lui, telefoon lui, ek maak ’n koevert oop, Ma braai spek in die kombuis, Thean stort, my asem, ek sug, spuitvliegtuig! Alles begin stem kry. Van die kat tot die koevert. Alles op aarde - wel, amper alles - het klank. Dít het sy nie geweet nie. Eers het die verkeer buite hul geel kothuis in Kloofstraat aan die voet van Tafelberg, en die wekker langs haar bed, so geraas, sy’t gesukkel om te slaap. Jy kan maar sê sy is vir ’n tweede keer gebore, dié keer in ’n besige, luidrugtige wêreld.

Dans in stilte

 

“Dans is in my bloed”

 

’n Soortgelyke inplanting word in Januarie volgende jaar in haar linkeroor gedoen. Hierna sal sy in die algemeen heelwat meer kan hoor, maar spesifiek ook beter na musiek kan luister. En vir Marisa, wat nie sal rus voordat sy die droomrol van Odette/Odille in Swanemeer gedans het nie, is dit die eerste prys. Want sy is - was - ’n dowe ballerina. Haar lewensdroom om in Londen aan die Royal Academy of Ballet te gaan studeer, is dan dalk ook meer haalbaar. Ek het Marisa in Mei vanjaar gesien dans by die Kloofzicht-balletskool van die oud-danser Elma Wege in Oranjezicht, Kaapstad. Sy het op presies dieselfde ritme en grasie as al die ander dansers op pointe saam met die musiek beweeg. Niks aan haar het gesê: Ek is so doof soos ’n kwartel nie. Inteendeel, sy het beweeg asof die musiek binne-in haar is. Hoe op aarde dans jy op maat van musiek as jy niks kan hoor nie?

“Ek tel en ek voel vibrasies deur die vloer,” sê sy. Elma verduidelik dat sy ook deurentyd uitsonderlik fyn kyk wat die ander dansers doen. “As daar ’n beweging is, is haar oë daar. Asof sy ’n radar het. En sy doen moeite, werk baie hard en onthou beter as al die ander studente.” Marisa, wat ietwat van ’n celebrity by die balletskool is, het pas die Royal Academy se gr. 6-eksamen suksesvol afgelê. “Dans is in my bloed. Ek hou daarvan om ander mense gelukkig te maak en met dans kan ek dit doen. Ek het begin toe ek vier was en van toe af is dit my manier van praat en my gevoel wys,” sê Marisa.

Praat bo alles
Dis opmerklik hoeveel haar spraak ook verbeter het ná die inplanting. Die feit dat sy haarself voor die inplanting betreklik goed kon uitdruk, is te danke aan die bemoeienis van haar ma sedert sy as kleuter as “onrehabiliteerbaar doof” gediagnoseer is. Annemarié het ’n U-draai gemaak in haar eie loopbaan as musiekonderwyser en vir ’n paar jaar spraakterapie-opleiding ondergaan sodat sy elke beskikbare oomblik van die dag vir Marisa kon leer praat. Alles - van hare was, skoolboeke oortrek tot tee maak - was ’n spraakles. Marisa is nie in ’n spesiale skool vir gehoorgestremdes nie. Sy is in gr. 10 aan die Hoërskool Jan van Riebeeck in Kaapstad.

 

“Ek wil deel van julle wêreld wees”

 

“Vandat sy haarself as dogtertjie verstaanbaar kon maak, het sy vir my gesê sy wil deel van my wêreld wees en nie die dowe wêreld nie,” verduidelik Annemarié. As ’n dowe dié pad kies, moet sy en die mense om haar rateltaai wees. Die uitdagings is soveel groter en soms byna onbereikbaar.
 
Ontkenningstyd met ’n hoofletter O
“Met haar geboorte het ek natuurlik nie geweet sy’s doof nie. Ek onthou hoe ek na daardie pienk, pasgebore voetjies gekyk en gehoop het sy sal eendag kan dans sodat haar musikantpa, Ean, tog ’n danserkind kan hê.” Ean, wat ’n musiek-honneursgraad het, het self etlike jare lank gedans. Vandag is hy hoofrepetiteur by Kaapstad Opera en al langer as twintig jaar kerkorrelis.

“Marisa het net 2 kg by geboorte geweeg en omdat sy so klein was, het ek haar voortdurend teenaan my gehou. Sy was die soetste en mees tevrede dingetjie wat heeldag net teen Ma se lyf wou wees. Sy’t net effentjies gehuil. Sy het inderdaad haar eerste woorde gesê: mamma, pappa, baba. Agterna sou ons hoor dis instinktiewe klanke, brabbeltaal, en nie noodwendig praat nie,” sê Annemarié.

“En op sewe maande het sy haar eerste gehoortoets geslaag. Sy’t selfs na die telefoon gekruip en ’n kammagesprek klankloos nagemaak. Sy het natuurlik gesien hoe ek op die foon praat en my nageboots. Maar ons kon sien sy luister met haar oë, nie met haar ore nie, en kyk jou so indringend as jy praat.” Teen dié tyd was Annemarié so onrustig oor Marisa se gehoorvermoë dat sy eendag langs haar wiegie gaan staan het terwyl sy slaap en hard na haar geroep het.

Die inplanting

’n Kogleêre inplanting werk nie soos ’n gehoorapparaat wat net klank versterk nie. Dis ’n hoogs verfynde elektroniese toestel wat die funksie van die afwesige of beskadigde sensoriese haarselle in die koglea vervang en die kogleêre senuwee direk prikkel of stimuleer.

“Die Freedom-toestel wat in Marisa ingeplant is, word nog net ’n paar maande in die buiteland gebruik. Sy was die eerste in Suid-Afrika. Dit het verbeterde klankverwerkende strategieë, wat veral kan help om musiek te prosesseer. In dié opsig het dit meer moontlikhede as vorige kogleêre inplantings,“ verduidelik die spesialis wat Marisa se toestel ingeplant het, dr. Derrick Wagenfeld, ‘n oor-, neus- en keelspesialis verbonde aan die Vergelegen Medi-Clinic op Somerset-Wes. Net ’n span kundiges kan vasstel of iemand vir die toestel geskik is of nie, dit werk nie noodwendig vir alle dowes nie. Vir dié wat van geboorte doof is, is die ideale inplantingstyd voor die ouderdom van vier, sê Lida Muller, oudioloog verbonde aan die kogleêre inplantingseenheid van die Universiteit Stellenbosch in die Tygerberg Hospitaal. Sy het Marisa se inplanting aangeskakel en ingestel. Die sukses van die inplanting word direk bepaal deur hoeveel ’n pasiënt tevore kon hoor of nie. “Wanneer dit laat in ’n dowe ingeplant word, kan dit help om liplees te verbeter sodat die persoon makliker kan kommunikeer.“

’n Toestel bestaan uit ’n inwendige deel, wat onder narkose onder die kopvel en in die labarint van die oor ingeplant word, en ’n uitwendige deel wat uit ’n klankprosesseerder en ’n transmissiespoel bestaan. Die vernuwende ontwikkeling van die Freedom-toestel: Dis waterdig én het meer klankverwerkende strategieë, wat gehoor veral in moeilike luisteromgewings (soos ’n raserige lughawegebou) makliker maak.

 

“Naderhand het ek so hard geskreeu, my buurvrou het gebel om te hoor of ek orraait is. Maar Marisa het nie eens geroer nie, wat nog te sê wakker geword. Eers toe ek aan die kant van die bedjie raak, het sy haar oë oopgemaak.” ’n Afspraak by ’n oudioloog het Annemarié se vrese bewaarheid. Sy is so doof soos ’n kwartel, het ’n spraakterapeut gesê en bygevoeg Annemarié en Ean moet haar maar sien “as ’n koek wat geflop het - sit haar in ’n inrigting, gaan huis toe en maak ’n ander een”.

“Toe sy boonop vir my sê dat sy nog nooit vir twee musikale ouers moes sê hul kind sal nooit ’n noot musiek hoor nie, het ek haar omhels en gesê toemaar, daar’s iets met jou masjien verkeerd.” Dit was ontkenningstyd met ’n hoofletter O vir Annemarié.

Maar van dié dag af het die Smithuishouding op sy kop gaan staan. Verdere toetse het gewys Marisa is die doofste kind nóg getoets in die tagtigerjare in Suid-Afrika. “Haar oudiogram het feitlik niks gewys nie. Ek wou van God weet hoekom kry ek, wat daglank met die hoogs ontwikkelde gehoorsenuwee van musiekleerlinge werk, ’n dowe kind present. Maar mettertyd het ek besef mens ontvang net ’n raam, jy moet self die prentjie verf. Boonop is ek as musiekonderwyser juis geskik om Marisa se gehoorsenuwee op te lei en die klankbane na haar brein oop te maak.” Die plan in Annemarié se kop was klokhelder. Doofheid, het sy geweet, beteken nie dofheid nie. Sy het Marisa soveel as moontlik op haar linkerheup gedra terwyl sy met haar regterhand na die naam van objekte beduie.

Uit Marisa se dagboek

9 Junie 2004
“Kan IEMAND vir my sê hoe klink musiek? Kan IEMAND vir my sê hoe klink ek?“

9 Junie 2005
“Aanskakeling. ’n Totale chaos!!!!“

10 Junie 2005
“My brein trek saam, ek hoor NIKS!“

11 Junie 2005
“My brein wil soos ’n granaat oopbars elke keer met ’n klank. Dis golwe, van die een kant van my skedel na die ander.“

5 Augustus 2005
“Ek is nie meer bang nie. Ek weet vir die eerste keer wat om my aangaan.”

 

“Soos ’n nar het ek tekere gegaan. Ek het haar álles gewys, aan álles geraak, daarop getik of geslaan en dan die woord van die artikel of die aksie, as daar aksie was, duidelik in haar gesig vir haar gesê. Oor en oor en oor. Ek het vir haar ook geleer van ritme deur byvoorbeeld op die koffieblik te slaan.

“En sy was seker ál kougomkouende kleuter in die land, maar ons moes daardie tongspiere so gou as moontlik en so veel as moontlik laat werk.” Annemarié het Marisa kleintyd op uitstappies laat gaan wat ander ouers van dowe kinders dalk as wreed sou beskou. Sy sou buite ’n winkel stilhou, vir die 7-jarige Marisa R50 in die hand gee en aansê om ’n paar items te gaan koop terwyl sy in die motor wag. Eers was ma en dogter ewe paniekerig, maar albei het deurgedruk. Kort voor lank kon Marisa ná die uitstappies terugkom na die motor en sê: “Dit was nice!“

Marisa was ’n paar jaar by die De la Bat-skool vir dowes op Worcester. Hier het sy haar eerste balletskoentjies aangetrek. “Maar die wegwees was nie goed vir ons gesinsopset nie,“ sê Annemarié. Sy het aangeklop by die nader Mary Khin-skool in Observatory, Kaapstad. Maar dié hoofstroomskool is vir kinders met spesiale behoeftes, onder meer dié wat gedeeltelik kan hoor. Nee, het hulle aanvanklik teëgestribbel, hulle werk nie met stokdowe kinders nie. Uiteindelik het die skool ingestem op ’n proeftyd. Hier was Marisa gou ’n topleerling en is in gr. 6 na ’n gewone skool, die Laerskool Jan van Riebeeck.

Marisa oorkom haar enorme agterstand op die oomblik dag vir dag - soos haar dagboekinskrywings getuig. Soos alle meisies van haar ouderdom kry sy afdae. Maar die dissipline van dans het haar ook vir die wêreld buite die balletateljee fiks gemaak. “Jy moet goed oor en oor doen. Jy moet nooit ophou probeer nie. En nooit moed verloor nie,“ is haar boodskap vir almal wat sukkel om onder ’n skaduwee uit te leef.
 
* Marisa is saam met 21 ander leerlingdansers gekies om deel te neem aan die vollengte ballet Robin Hood in Desember deur die Kaapse Stadsballet in die Kunstekaap. Sy vertolk ’n hofdame.