Sy is jonk - en gestremd. Adele Kritzinger (30) van Windsor-Oos, Johannesburg het sedert haar geboorte gewys sy is ’n doelgerigte vegter van formaat. En ’n jaar gelede het sy gedigte begin skryf om naweke se lang ure om te kry. Sy het dit aan familie en vriende begin e-pos vir “terugvoering” en sonder dat sy besef het, het sy mense van Johannesburg tot in Kaapstad en Londen daarmee geïnspireer. Nou droom sy van ’n digbundel . . . “Daar bestaan nie iets soos ek kan nie,” sê sy. “Ek weet ek kán!”

Dié woorde het Adele se ma, Ena, soms tot trane gedryf, want sy wou haar serebraal gestremde kind so graag in watte toedraai. Voor Ena se dood aan kanker vyf jaar gelede was sy baie bekommerd oor wat gaan word van Adele sonder haar koestering en versorging, maar sy het beslis die goeie fondamente wat sy as ouer gelê het en haar kind se dryfkrag onderskat. Vandag lei Adele ’n vol lewe. Sy woon alleen in haar eie woonstel, wat sy afbetaal het, het ’n uitgebreide vriendekring, en ontgin haar talente sodat sy nie stagneer nie.

Om gestremd te wees is eintlik 'n baie groot eer


Adele is een van daardie mense vir wie die dobbelsteentjie verkeerd geval het, maar haar lewe getuig daarvan dat jy nie in ’n hoekie hoef te sit en jouself jammer kry nie. Sy laat ’n mens skaam kry oor al jou eie klagtes en die geleenthede waarvan jy dalk wegskram. Sy moet soveel harder werk as ander om doelwitte te bereik, en sy sien kans om weer en weer te probeer.

“Ek het, ironies, ná my ma se dood agtergekom daar is baie dinge wat sy gedink het ek nooit sal kan doen nie - wat ek wel kan doen. Ek was byvoorbeeld al bitter naby aan ’n rybewys en, glo my, ek gaan hom nog eendag kry! En al dink sommige mense ek sal nooit ’n baba kan versorg nie oor ek ’n bietjie snaaks en onvas loop, pas ek baie van my vriende se babas op.”

As dit Ena se doelwit was om haar kind voor te berei op die lewe, het sy daarin geslaag. Adele het ’n sterk persoonlikheid en gesels vol selfvertroue. Haar gestremdheid is vanselfsprekend ’n groot faktor in haar lewe, want dit beperk haar moontlikhede en beweeglikheid, maar as jy met haar gesels, besef jy dis eintlik vir haar net bysaak. Sy glo daar was van die begin af ’n definitiewe plan met haar lewe en dis waarom sy haar nie maklik sal laat onderkry nie.

Adele “is eintlik ’n miskraam” wat teen alle verwagtinge in bly leef het. Sy is in 1975 drie maande te vroeg gebore en het tussen net 500 g en 800 g geweeg. Sy is per ambulans van Caledon na Kaapstad vervoer met warmwatersakke om haar warm te hou. In Kaapstad was die warmwatersakke al koud en die dokters het drie keer gedink sy is dood.

Dokters wou haar ouers, Ena en Johann, nie vals hoop gee nie en het voorspel dat sy erg fisiek en verstandelik gestremd sou wees, trouens “onopleibaar”. Maar die medici het nie met Adele se veglus en Ena se deursettingsvermoë rekening gehou nie. Ena het deur die jare gesorg dat Adele die regte terapie kry en het self haar kind ure aaneen gestimuleer en haar spiere geoefen.

Adele het aan die Hope School in Westcliff, Johannesburg gematrikuleer. Sy werk al 12 jaar in Johannesburg se middestad as tjekverifieerder by ’n bankgroep en het daar al soveel ervaring opgedoen dat sy by ’n hele paar afdelings “kan uithelp as die nood druk”. Sy ry per bus werk toe en het ’n mond vol te sê oor die swak toestand van openbare vervoer in Johannesburg. Dié dat sy haar eie motor begeer. Sy wil kom en gaan soos sy wil en nie van ander afhanklik wees nie.

Sy dreig om 'n sterk enjin in haar rolstoel te laat insit sodat dit vierwielaangedrewe kan wees!


“Ek is nie hulpeloos nie. My rolstoel se wiele is twee jaar laas gepomp. Ek loop op my eie deur ’n winkelsentrum. Dis net op groot terreine, soos by die skou, waar ek die rolstoel nodig kry.” Adele borrel van energie. Sy dreig om ’n sterk enjin in haar rolstoel te laat insit sodat dit vierwielaangedrewe kan wees! As sy wil gaan vakansie hou, klim sy op ’n vliegtuig.

“Toe ek onlangs by my suster in die Kaap gaan kuier het, moes sy my herinner dat ek tog nie die rolstoel moet vergeet nie.” Sy woon onafhanklik en alleen in haar woonstel. Haar grootste trots is dat sy die woonstel self kon koop en afbetaal. “Ek sou dit so graag vir my ma wou vertel. Sy sou so trots gewees het.”

Maar dit het nie altyd só goed met haar gegaan nie. Sy ly sedert 1995 aan depressie. “Eers was dit my ma wat my moes dophou vir depressiesimptome, maar ná haar dood het ek geleer om self daarvoor uit te kyk. Ek weet ek is vir myself verantwoordelik.” Sy het haarself ’n paar jaar gelede van anti-depressante gespeen en luister nou na gospelmusiek as ontlading. En dan is daar natuurlik haar gedigte, wat al tot byna 40 gegroei het. Sy skryf nie elke dag of elke week nie, net wanneer sy geïnspireer voel.

“My 88-jarige ouma van Darling sê sy sal nie rus voor sy nie my bundel in ’n boekwinkel van ’n rak kan gaan koop nie. Daar is mense wat meen my gedigte is te persoonlik en dat net familie dit sal verstaan, en ek het byna in ’n stadium oorweeg om op te hou skryf. Ek was bang my sentimentele gedigte maak mense hartseer en krap ou wonde oop.” Haar ondersteuningskring het haar gou van dié plan laat afsien. Uit alle oorde het hulle gevra dat die inspirerende gedigte per e-pos asseblief nie moet ophou nie. Haar eerste gedig het sy een middag in 2003 spontaan oor haar ma geskryf. Daarna het sy vir haar pa se tweede vrou, Elsie, ’n gedig geskryf met hul troudag. Maar sy het eers in 2004 volstoom die een gedig ná die ander begin skryf.

“Ek het nie besef dit sal so maklik kom nie. Ek begin by ’n idee en haak die gedagtes aan. Ek skryf vir die mense wat ek ken en die mense na aan my. Elke gedig vertel ’n storie.” Haar woorde bring hulde aan mense soos haar vriend, Gert Roets, wat in 2001 aan ’n bloedklont in die hart oorlede is, en kuier onder meer nostalgies by hul ou familiestrandhuis op Stilbaai en haar oupagrootjie se huis in Duncanstraat, waar hulle as kinders met roeibootjies op die rivier gespeel en Kersvader presente gebring het. (Sy wil haar bundel Duncanstraat noem omdat sy glo haar geluk begin by haar familiewortels.)

Die ou strandhuis moes plek maak vir ’n nuwe een en Adele skryf hoe hulle nou op die terras voor Wind in the Willows oor die kalmte van die rivier kan sit en uitkyk. Sy verwys in talle gedigte na haar ma, wat die sterk versorger van die gesin was. Ena het vir haar gesin geleef, en haar vier dogters - Suné, Bea, Adele en Nanette - met liefde oorlaai. Haar siekte en dood het behoorlik die mat onder die hegte gesin uitgeruk en die vyf jaar van herstel ná haar dood was nie maklik nie.

Almal wat hulle ken, was bekommerd oor hoe die gesin, en veral Adele, sonder Ena sou kon voortgaan. Maar die dogters het elkeen hul eie koers gekry. “Ek sou nie sonder my sussies, tannies en ouma kon vasbyt nie,” sê Adele. “Dis hulle wat my help om die donker wolke weg te jaag.”

Haar digkuns is vir haar ’n ontlaaiproses. Nanette sê die “gediggies bring baie meer glimlagte op mense se gesigte as trane” en Bea meen dis wonderlik dat Adele met haar gedigte uiting kan gee aan haar gedagtes. Suné is vreeslik trots op die jong vrou wat haar suster geword het.

Onlangs op haar dertigste verjaardag het haar pa in sy toespraak gesê dié deursettingsvermoë wat Adele as baba teen alle verwagtinge in laat oorleef het, is vandag steeds deel van haar
persoonlikheid. Dis daaraan te danke dat sy ná haar ma se dood so selfstandig en so ’n pragtige jong vrou kon word.

Adele het nog baie drome en toekomsplanne. Sy wil nog saam met Nanette oorsee gaan, sy wil nuwe werkuitdagings aanpak . . . en sy gáán nog haar rybewys kry.