In my kop het ek alles uitgesorteer gehad. Ek is as die beste akademiese student in die finale jaar van my studies aangewys en het verskeie toekennings ontvang. Ek was beroepsgedrewe en my doelwitte vir die volgende tien jaar was haarfyn uitgewerk. Niks minder as 100% van my tyd en energie om dit te bereik sou in my eie boekie genoeg wees nie.

Dit is nou twaalf jaar later. Ek het nie een van die dinge geword waaroor ek destyds gedroom het nie. Ek het nie een van my tienjaar-doelwitte bereik nie.  Ek is ’n huisvrou met drie kleuters wat al my aandag verg. Ek het ’n skottelgoedwasser om leeg te maak, ’n bondel wasgoed of twee om deur te werk, aandete om voor te berei, beddens om op te maak, honde om kos te gee, ’n “Mamma se taxi” om te bestuur, inkopies om te doen en ’n hele klein habitat in die kleine om te bestuur.

Wat het dan skeefgeloop? Niks. Dis liewer ’n kwessie van wat reggeloop het. Ek het ’n wonderlike man op ’n “blind date” (van alle plekke!) ontmoet en ek moes ’n keuse maak. Dit was óf die veilige, haarfyn beplande roete van my beroepsplan, óf die onbekende, onvoorspelbare sprong oor die afgrond van ’n vaste verbintenis met al die kompromieë wat daarmee saamgaan. Ek het gaan trou.

Natuurlik moes ek baie dinge prysgee. My beroep moes terugstaan vir my man s’n.  Ek kon nie meer al my tyd en energie aan my eie dinge wy nie. Ek moes my totale onafhanklikheid opgee. Toe ons eers kinders gekry het, was daar nie meer tyd vir my stokperdjies of sport nie. Ek moes my beroep uiteindelik heeltemal prysgee.  

Ek kyk nie een oomblik terug en is oor niks spyt nie. As ek by die voortvarendheid van my destydse tienjaar-plan gehou het, sou ek nie geweet het wat ek nou weet nie.  Dit was die beste keuse wat ek kon maak. Want wat ek in hierdie twaalf jaar geleer het, kon geen korporatiewe ondervinding my leer nie. Wat ek in hierdie twaalf jaar “hands on” vir ander leer doen het, sou ek in geen vakbond of liefdadigheidshoedanigheid kon baasraak nie.

Dit wat ek aan selfgesentreerdheid en selfsug verloor het, sou ek waarskynlik net in ’n raadsaal en met sake-ervaring bykry. Die emosionele intelligensie wat ek in hierdie tyd gewen het, oortref die belangrikheid van korporatiewe intelligensie by verre.  Die ewigheidswaarde van die ondersteuning, kameraadskap, toegewings, jammer-sê en die unieke ritme van uiteenlopende siele in een huis, weeg definitief swaarder as sake-snyerspakkies en aktetasse. Die onderhandelingsvermoë wat die huwelik jou leer, kan selfs ’n handleiding vir die korporatiewe wêreld word.

My hart en fokus het geskuif na my man en my kinders, en ek het geleer om saam met hulle hul lewensverhale te help vorm. In die proses het ek soveel gewen. Ek het myself gevind. Geen fokus op ’n onderneming, personeel of kliënte kan jou jou eie emosionele grense soveel laat verskuif as om vas te byt in ’n verhouding as dinge moeilik gaan nie. Niks laat jou jou ware krag so ontdek as siek kinders wat jou ’n week se slaap kos nie. Geen sessyfer-kontrak kan die vreugde van gedeelde vreugdes vervang nie. My grense van wat ek gedink het ek sou kon verdra en verduur, is nou baie verder en wyer. Die manier waarop jy leer om mense onder jou vel in te laat en onlosmaaklik deel van jou te laat word, is uniek aan die intimiteit van gesinslewe, wat ek definitief nie deur professionele etiket sou verkry het nie.  Ek het geleer om sterk genoeg te wees om myself bloot te stel.

Ek het gekies om nie eers my eie lewe te bou en toe ’n man te soek wat daarby pas nie. Ons het saam ’n lewe gebou en geleer om by mekaar te pas. Geen wanbalanse nie. Ek kan uit die aard van die saak nie nou my beroepstalente ontwikkel nie, maar ek het soveel nuwe talente ontdek dat die waarde van die beroepstalente definitief daardeur oorskadu word. Ek onderdruk niks en word nie onderdruk nie. Ek leef my as vrou en ma volkome uit. 

My kinders gaan ook eendag groter wees en dan sal ek waarskynlik weer die vryheid hê om die korporatiewe leer aan te durf. As ek egter nou na die groter prentjie kyk, lyk die waarde van wat ek nou doen, baie beter as die kapitaal van ’n beroep.

Trots getroud, Wellington