Ons leer mekaar ken, so ook sy mooi familie en ek verwonder my aan die rustigheid, liefdevolheid en geloof wat uit die familie straal.

Vandag het ons die sestienjarige Rossouw van Zyl begrawe. Ondanks ’n hartsiekte, het hy ’n vol lewe gelei.

Ná sy gr. R-jaar het ek hom ’n hele paar keer by die kerk gesien. Ek onthou sy glimlag en die drukkie wat ek gekry het, want Juffrou is ook in die kerk.

Rossouw het intussen grootgeword en ek het kontak verloor, maar vandag het ek tydens sy begrafnisdiens besef dat ek soveel herinneringe van hierdie sonstraal-kind het. 

Ek lees dis die seerste seer vir ouers wanneer jou kind sterf. Vir die juffrou (al was dit een jaar van samesyn) is dit ook die seerste seer, maar vandag het ek van Rossouw se familie geleer as ’n mens glo in God se genade en Hom vertrou, dan word mens met al jou seer net sterker.

Rossouw, vandag het ek geleer dat jy ’n impak op baie mense se lewens gemaak het, ook op myne. Ek is bly, sonstraal-kind, dat ek jou kon leer ken het.

Ek besef vandag dat ek geseënd is as onderwyseres om soveel kinders te kan hê en so baie vreugdes en liefde te kan ontvang, én die voorreg te hê om ouers op hul reis met hul kinders te ondersteun.

Sandra van Rensburg, Rondebosch