Jennifer Chatburn en haar jeugliefde, Werner, is verlede jaar op 20 Desember getroud, byna 20 jaar nadat hulle mekaar laas gesien het. Dit was twee dekades waarin die lewe sy draaie met hulle albei geloop het. Vir haar was daar baie emosionele pyn. Eers die wrede kruisboog-moord op haar pa, depressie, ’n pynlike egskeiding en toe, in 2007, die nuus: Haar pa se moordenares het parool gekry. Maar juis weens dié berigte het sy en Werner mekaar weer raakgeloop. Vandag weet hulle alles wat hulle deurgemaak het, het hulle geslyp. Jennifer glo dit was so bestem. Sy vertel self: Ek het in ’n huis grootgeword waar my pa, ’n stasiemeester, baie weg was vir afloswerk om meer geld te verdien. Die gemis aan ’n vaderfiguur het seker juis daartoe bygedra dat ek foute gemaak het met mans. Ek was baie beginselvas. In my matriekjaar het ek vir Werner ontmoet. Ek en sy ma was groot vriendinne en ek het gereeld ná kerk by haar gaan koffie drink. Hy was in die Weermag en het enkele naweke pas gekry. Hy het deurdringende blou oë gehad, en ek onthou hoe bewus ek was van my hormone wanneer hy my gesoen het. Hy het in een van sy briewe geskryf as ek eendag met hom wil trou, moet ek eers gaan studeer en genoeg ‘koppies’ bymekaarmaak.

Ná matriek het ek besluit om vir ’n jaar sendingwerk te doen. Dinge was rof by my ouerhuis. My ouers was pas geskei, want my pa se gereelde afwesigheid het sy tol geëis. Hulle was vreemdelinge vir mekaar.

Ek is as 17-jarige die wêreld in. Ek het baie plekke gesien en is soms blootgestel aan baie gevaarlike situasies. Ek was ongewild onder die sendelinge, want ek het gehou van mooi klere en grimering. Ek kon ook nie soos die ander soggens vieruur opstaan om Bybel te lees nie. ’n Man, vandag ’n bekende sanger met ’n ongelooflike mooi stem, het by die sendingstasie opgedaag. Hy het dadelik vir almal gewys hy stel in my belang, maar hy was nie regtig my soort ou nie.

Ná my sendingjaar het hy aangebied om my terug te neem Kaap toe, want hy sou daar optree. Ek weet nie wanneer my gevoel vir hom verander het nie. Dalk toe hy vir my begin briewe skryf en sy romantiese liedjies op kassette vir my gestuur het. Ek het soos ’n prinses gevoel. Ek was verlief, of so het ek gedink.

My pa was terug in die Kaap, en ons het ’n woonstel gedeel. Dit was wonderlik! Hy was in daardie stadium in ’n verhouding.

Volgens hom het my en my sangerkêrel se verhouding te vinnig gevorder. Skielik was my ‘briewe-vriend’ my kêrel en ’n paar weke later wou hy met my trou. Ek het nie vreeslik daaroor nagedink nie. Al wat saak gemaak het, was dat die romantiese sanger en skrywer my as die belangrikste persoon in die wêreld gesien het.

My ouers was nie oorstelp nie. Maar ek het ingestem en my aanstaande en sy ma het die troue begin reël. Só land ek toe met ’n trourok in ’n boks in Johannesburg om my huweliksbeloftes af te lê. My grootste verrassing was toe my pa en sy vriendin, ’n weduwee 16 jaar jonger as hy, daar aankom ... pasgetroud!

Ek het gewerk om die pot aan die kook te hou, terwyl manlief gestudeer en naweke gesing het. Twee jaar later het hy sy deurbraak in die musiekwêreld gemaak. Ek het uit my werk bedank om sy loopbaan voltyds te help bemark.

My jonger broer het by ons kom woon, want my stiefma se twee tienerdogters het by haar en my pa ingetrek. Toe my boetie skoolgoed benodig, het my pa gesê hy het nie geld nie. Ons het ’n uitval hieroor gehad en ons het kwaad vir mekaar die telefoon neergesit. My hart was stukkend.

Intussen is my man se tweede plaat bekend gestel en ons kon vir ons ’n huis in Hartbeespoortdam koop. Toe kry ons ’n oproep uit die Kaap dat my pa vermis word. Dae lank het ons niks gehoor nie. Toe ek bel, het my geskokte ouma die nuus aan my oorgedra dat my pa se lyk, met ’n pyl in die kop, gevind is.

Ek kan daardie oomblik aan niemand beskryf nie. Ek en my man het die tyding aan my broer oorgedra. Hy het met sy kop in sy hande gesit en gehuil soos ek hom nooit weer daarna sien doen het nie. Ek en hy is begrafnis toe. My man moes voortgaan met ’n CD-produksie.

Toe word my pa se jong vrou aangekeer weens sy moord. Twee maande later het ek uitgevind ek is swanger. Die hofsaak het voortgesleep en die baba het in my gegroei. Ek was in die hof die dag van die uitspraak. Sy het 25 jaar tronkstraf gekry.

My babaseun is ’n maand later gebore. Dit was ’n moeilike geboorte in ’n staatshospitaal, en ons het by die dood omgedraai. Ek het nie eens besef daar was ’n donker wolk van depressie oor my nie. Ek het kombers-oor-die-kop gelê, te uitgeput om my koliekbaba te versorg.

Ná nagte se wakker lê is ek dokter toe. Ek was op die randjie van ’n ineenstorting en is met anti-depressante huis toe gestuur. My emosies het wipplank gery. Ek kon nie oor my pa praat nie, want dit sou my man se loopbaan skaad. Ek het al die gevoelens opgekrop.

Ek het myself oortuig ek kan sonder die medikasie klaarkom. Maar weer eens het ek gesukkel om myself te vind. Ek het myself deur elke dag gesleep. Ek was nou ’n bobaas-aktrise voor mense wat nie moes weet van die gestoei in my binneste nie.

Die dokter het met my volgende besoek ’n swangerskaptoets gedoen. Dit was positief. Toe die dominee voorstel dat ek met hom kom gesels, het ek vir die eerste keer oor my pa se moord gepraat en gehuil asof ’n groot sweer oopgebars het.

Met sy begrip en liefde kon ek stadig die stukkies van my siel weer optel, en opstaan uit die diep gat waarin ek meer as twee jaar vasgevang was. Net daar het ek besluit om nie toe te laat dat my pa se moordenares my lewe vernietig nie.

My babadogter is sewe maande later gebore. My man moes al hoe meer alleen weggaan, dit was moeilik om met twee kleintjies te toer. Ek het begin studeer, onafhanklik geraak, my eie motor gekoop, vir my eie studies betaal, my eie vriende gemaak.

En my man, die vreemdeling, al hoe minder gesien. Sy toere het langer geword en sy bekendheid het toegeneem. Ons huwelik van tien jaar het in die skeihof geëindig.

Skielik was ek ’n enkelma met twee kleuters. Ek het verder gaan studeer aan die Universiteit van Pretoria en my meestersgraad met lof verwerf. Die patetiese huisvroutjie wat vroeër in die skaduwee van haar bekende man geleef het, was nou ’n dosent aan die universiteit, ’n motiveringspreker wat haar storie vertel het . . . iemand wat begrip gehad het vir mense en hul seerkry.

‘Die geleentheid om my pa se moordenares te ontmoet het ek met albei hande aangegryp’

En toe kry ons die geleentheid om my pa se moordenares te ontmoet deur die bemiddeling van Herstellende Geregtigheid, ’n program wat slagoffers en oortreders by mekaar uitbring om reg te maak wat verkeerd is. Ek het die kans, saam met my pa se broer, met albei hande aangegryp. Ek wou in haar oë kyk en haar vra hoekom sy dit gedoen het. ’n Vraag waarop net sy die ware antwoord sou hê. Dit was nie maklik om haar te sien nie, maar ons wou dié hoofstuk afsluit.

Die opgewondenheid om die waarheid te hoor was oorweldigend. Maar ek was teleurgesteld toe ek besef sy was steeds besig met die speletjie van ‘skuld uitdeel’. Sy het, soos destyds in die hof, verskonings vir haar gedrag gesoek sonder om verantwoordelikheid vir haar daad te aanvaar.

Sy het my pa ’n monster genoem, wat haar seksueel afgeknou het. Ek het besef sy het haarself jare lank oortuig sy was eintlik die slagoffer. Sy het nooit gedink dat haar daad – om my pa se liggaam met ’n pyl in die kop in ’n rivier te los – eintlik van háár die monster gemaak het nie. Hy was nie ’n engel nie, maar geen mens verdien dit om so wreed te sterf nie.

Daardie dag was ek die oorwinnaar, want sy het dit nie reggekry om my ook dood te maak nie. Ek het haar paroolaansoek die daaropvolgende week teengestaan, en al was ’n parooldatum reeds toegeken, het die regters ná my brief beslis dat sy nog ’n jaar in die tronk moet bly. Ons het vrede gemaak met die feit dat ons nooit die waarheid sal weet oor wie haar gehelp het om sy liggaam in die rivier te gooi nie.

Toe sy op parool vrygelaat word, het ons familie ons emosionele tronksleutels vir altyd weggegooi. Maar ons het geweet sy sou steeds in haar tronk wees, al is dit nie meer fisiek nie.

Die koerante was vol daarvan. Die kruisboog-moordenares word vrygelaat! Werner het die artikels oor ons familie se teenkanting gesien en wou my bemoedig, maar waar spoor jy iemand op wat jy 20 jaar laas gesien het? Hy het op my halfsuster, Marcelle, se blog afgekom waar sy my brief met my gevoelens oor die moordsaak geplaas het. En toe kry hy my e-posadres by haar. Koffie drink het ’n lekker uiteet geword. Teen die einde van die afspraak het ons hande vasgehou.

Iewers binne-in my het ek geweet die liefde kán vervullend en kosbaar wees. Ons is beste vriende en sielsgenote. Ons sien uit na ons huwelikspad vorentoe, saam met my tienerkinders. Ek is innig dankbaar dat een van my grootste tragedies my juis na my grootste geluk gelei het!

*Werner en Marcelle se vanne word verswyg om hul privaatheid te beskerm

Kruisboog-moord: die agtergrond

Die hele land het vroeg in 1992 gegons oor die grusame kruisboog-moord op Graham Chatburn (49) van Kraaifontein naby Kaapstad.

Sy erg ontbinde lyk, met ’n kruisboogpyl in die kop, is in die Liesbeek gevind nadat hy ’n paar dae vroeër as vermis aangemeld is.

Sy tweede vrou, Louisa, is in November 1992 skuldig bevind aan die moord en tot 25 jaar tronkstraf gevonnis. Sy het hom in sy slaap in hul slaapkamer met ’n kruisboog doodgeskiet en toe sy lyk in die rivier gegooi. Die vonnis is tot 23 jaar verminder nadat sy 4 maal kwytskelding van 6 maande toegestaan is.

Sy is in 2007 op parool vrygelaat, onder streng voorwaardes, en volgens die owerhede sal sy tot 24 November 2015 op parool wees.