Hy moet na ’n spesiale skool gaan vir kinders met ’n baie lae IK. Hoe aanvaar ’n moederhart dié uitslag sommer net so? Maar hardekop-ma wat ek is, het ek hom deur ’n ander sielkundige laat toets. Die bevinding? My kind het ’n normale IK en behoort ’n gewone skool by te woon. ADHD is vandag ’n algemene verskynsel onder duisende kinders in ons land. Ek deel my storie met hul ouers omdat ek graag van hulle wil hoor, met hulle wil gesels. Dalk het hulle iemand nodig om net na hulle te luister. Want waarheen gaan ons om ons nuwe generasie te help? Ek was in dieselfde bootjie ... Ek wou so graag vir Wynand help. In April 2009 was ek desperaat en het hulp gesoek. Ek wou vir hom ’n plekkie hê waar almal net bietjie rustig kan word en tyd neem om hom te verstaan. Hy is soos enige ander kind en stel belang in als wat ander kinders doen. Hy is net meer waaghalsig. Slaap is nie vir hom nie. Soggens vroeg eet hy die kombuis leeg, loer kort-kort of Ma al beweeg. Dis dan al sesuur. Hoekom wil sy nog slaap! Hy speel ure lank op sy PSP. Ma se kop verstaan nie lekker daai nuwe tegnologie nie, maar hy bly speel. As ons met vakansie gaan of dis Kersfees, sê jy vir hom die groot dag is eers oor twee dae. Anders slaap niemand daardie nag nie of maak hy jou vroeg die volgende oggend wakker met ’n “verrassing, ons ry nou”! Hy dryf mens soms teen die mure uit. Tog is Wynand spontaan in sy liefde vir almal. Hy is opgewonde om jou te sien en babbel onophoudelik. En as jy nie luister nie, word jy op die vingers getik. Sy voorkoms is baie belangrik vir hom. Hy’s gaande oor die nuutste modes en giere. Sy kamer is deurmekaar, maar hy weet waar als is. Min onderwysers verstaan dié kinders. Ek lees in ’n gemeenskapskoerant van ’n jong man wat ADHD is en sy skoolloopbaan by ’n spesiale skool voltooi het. Hy is ’n fantastiese spotprent-kunstenaar, maar hy kan nie verder in dié rigting studeer nie. Sy skoolopleiding is feitlik niks werd nie en hy kan dus nie universiteit toe gaan nie. Ek wil nie hê dit moet met Wynand gebeur nie ... Ná die uitslag van die tweede toets, het ek sy medikasie – Ritalin (Concerta) en Risperdal – gestaak, n.a.v. die newe-effekte wat ek op die internet opgespoor nie. Hy is nou 5 maande sonder enige medikasie, en gaan net vir Neuro-feedback. God doen die meeste werk in ons lewe. So, alle eer aan Hom. Hy het sy eerste 4 op sy skoolrapport gekry. Hy sukkel net met wiskunde, maar dit gaan baie goed. In 75% van sy toetse wat hy op Vrydae skryf, kry hy vol punte. Sy groei het verbeter en sy eetgewoontes het die hoogte ingeskiet. Sy woordeskat is ongelooflik. Hy praat vol sinne sonder om te hakkel. Hy speel soos ’n stout seun van sy ouderdom. Hy is uiteindelik net Wynand! Die juffrou bly sê hy moet sy medikasie gebruik, want hy’s te woelig in die klas, maar daar is nie ’n rede dat hy dit moet gebruik nie. Toe ek ’n kind was, was seuns nog seuns. Daar was nie pille vir woelige kinders nie. Daar was nie plakkers op kinders se koppe van ADHD of van ’n onderwyser se nagmerrie nie.
Ek het nie ’n probleem met Ritalin nie, maar wanneer weet ’n ouer sy kind het dit nie nodig nie? As jy ’n dokter vra wanneer jy die medikasie kan staak, vra hy hoekom wil jy dit stop as dit werk.
Hoekom word daar nie na ouers se lewe gekyk voor medikasie voorgeskryf word nie? Hoekom word ouers nie vir berading gestuur om hul huislike lewe uit te sorteer nie? Ek sê nie alle ouers het skuld nie, maar kan als regtig met pille reggemaak word? In die tyd wat Wynand medikasie begin gebruik het, was ons twee se lewe op sy kop gekeer. Ek was besig om van sy pa te skei. Nou is my lewe stabiel. Wynand kry al die beskerming wat hy nodig het. Sy konsentrasie is normaal. Ek het nie probleme met hom as dit by huiswerk kom nie. Hy doen drama en is ook ’n Padvinder (Scout). Ek het intussen by Unisa begin studeer vir die B.Ed.-graad en daarna gaan ek remediërende onderwys doen. Sylvia Potgieter, Amanzimtoti