Sy verwys daarna as die “sirkus rondom Louis”. Dit was die koerante vol - Louis van Wyk, bekende musiekpromotor vir groot sterre in ons vermaaklikheidsbedryf, was die soveelste keer in die nuus oor beweerde seksuele teistering. En in die middel was sy gewese vrou, Irene. En die kinders, Vaughn (18) en Irene-Louise (15).
Sy het geswyg om hulle te beskerm, maar het nou besluit om haar hart teenoor SARIE uit te stort.

Die sangeresse Patricia Lewis, Nedine Blom en aktrise Liane Heyl het daarna in Huisgenoot beweer Louis het hulle seksueel geteister. Só ook Liezl Botha,’n vorige au pair van Van Wyk se kinders. En ’n gewese sekretaresse, Vanessa Schmidt. Nee, Irene wil nie name noem of betrokke raak by die “nege maagde met die kruike” se verhaal in die pers nie. Maar sy glo die waarheid moet uit.

Trap saggies as jy met ander se emosies werk

As ’n gerehabiliteerde alkoholis het sy nog altyd geglo ’n mens moenie skrik vir val nie. Solank jy weer opstaan. Want sy hét weer opgestaan, sáám met haar kinders. En ná ’n lang sangstilte weens haar drankprobleem gee sy deesdae weer soms tot drie vertonings per dag. Lyne van jou lyf is haar eerste CD in sewe jaar. ’n Duet-album, waarop sy saam met onder andere Rina Hugo, Laurika Rauch en Mathys Roets sing, is in 2005 uitgereik. In Oktober kom In U spore, ’n geestelike album met oorspronklike liedjies. Sy is vir amper vier jaar nugter. En sy glo as die afgelope jaar se stres rondom Louis en die kinders haar nog nie weer laat drink het nie, sal niks sommer nie . . .

"Vir die eerste keer het ek geweet hoe mense régtig voel as hulle liewer in die hemel wil wees. Op 20 April vanjaar het dinge té veel vir my geraak. Ek het die oggend voor ek by die huis weg is, besluit om ’n einde aan my lewe te maak. Ek was op pad lughawe toe, van waar ek na Lambertsbaai aan die Weskus sou vlieg om ’n motiveringspraatjie te gee.

Maar hoe kon ek ander help as ek myself kwalik kon help? Dit het gevoel asof almal teen my draai. Selfs my eie seun, Vaughn. Die ‘nege maagde met die kruike’, soos wat ek hulle noem, het bewerings van seksuele teistering teen my kinders se pa in die pers gemaak. Ek het geglo hulle ly almal aan ’n mate van selektiewe geheueverlies. Vaughn wou hê ek moes sy pa verdedig. Die nege maagde het gemeen ek ondersteun hulle nie, omdat Louis my onderhou. Dit was bog, want ek onderhou myself. Hoe kon ek kies? Niemand was daar om te sien wat régtig gebeur het nie.

Ek wou my nie by die ‘witwasbrigade’ (Louis se vriende) óf die ‘moddergooi-groep’ skaar nie. My pa, ’n afgetrede leraar van Warmbad, sê as jy modder gooi, spat daar altyd modder terug. Ek wou neutraal bly. Maar wat ek ook al gedoen het, dit was verkeerd. As ek SMS’e vir mense gestuur het, het hulle dit aangepas, na die pers gestuur en net gedeeltes daarvan is gepubliseer.

Glo my, Louis is beslis nie die enigste mens in die musiekbedryf wat vatterig is nie. As 21-jarige was ek aangetrokke tot dié 30-jarige, omdat hy manlik en sjarmant was. Ons was 12 jaar getroud. Daar was baie gerugte van rondlopery. Ek hét geweet alles is nie pluis nie, maar het nooit bewyse gehad nie. Baie mooi, jong sangeresse het hulle voor hom ‘gegooi’, omdat hulle geglo het hy kon sterre van hulle maak. Enige man geniet dié aandag. Louis is nogal vatterig en het ’n behoefte aan aandag en aanvaarding.

Mense in die musiekbedryf het ’n hoë seksdrang. Kom ons vergelyk dit met gratis kos en drank op ’n troue: As dit beskikbaar is, sal bitter min mense dit nie gebruik nie.
Ons huwelik was nie volmaak nie. Ons wou ‘ter wille van die kinders’ bymekaar bly, maar was swak rolmodelle, want ons het op verskillende planete geleef. Ons het óf op mekaar geskree, óf ons het mekaar geïgnoreer. My drankprobleem was deel van die probleem, maar nie die enigste oorsaak nie. Op 6 Augustus 1999 is ons geskei. My ouers het ’n uitstekende huwelik en is al 56 jaar getroud. My pa bederf my ma en koop vir haar die mooiste kaartjies. Dit het my vier jaar geneem om die egskeiding te verwerk. Ná my egskeiding het ek my lang hare skouerlengte geknip en gekleur. Vroue dink dikwels dat ons innerlik kan verander as ons die uiterlike verander.

Ek en Louis het albei skuld aan die egskeiding gehad. Ek het in ’n stadium baie wulps aangetrek. Geen Moeder Teresa nie. Louis was ook nie nét sleg nie. Hy bly die pa van my
kinders. Dis moeilik om te glo, maar ons was eens verlief. Ons het mekaar vergewe en besef dis die beste vir die kinders. Hy behandel my nou met meer respek as toe ons getroud was.
Ek is emosioneel eerliker met hom. Ná die egskeiding het ek van die KwaZulu-Natalse Suidkus, waar ons gesin eers gewoon het, Pretoria toe getrek sodat die kinders naby hul pa kon wees.

Ek leer my kinders beproewing is nie kieskeurig nie

Dit was moeilik, maar nodig vir die kinders. Hulle is deur ’n rowwe tydjie en is van kleins af deur my teleurgestel. Ek het beloftes gemaak en maar weer in die drankpatroon verval. Ek leer my kinders beproewing is nie kieskeurig nie. Bergies tot professore is in rehabilitasiesentrums. Vanjaar, ná die Louis-perssirkus, het party ouers hul kinders belet om met my kinders bevriend te wees. Dit het veral my meisiekind geknou. Sy is in gr. 9 aan die Pro Arteskool in Pretoria. Party kinders het byvoorbeeld vir haar gesê Louis is ’n ‘verkragter’. Gelukkig het haar getroue vriendinne ’n emosionele kokon om haar gebou. Van my vriendinne het tuisonderrig voorgestel, maar my kind verkies die skool.

Louis is ook gedwing om bestek van sy lewe op te neem. Hy is nou ’n soort kluisenaar en is eerliker oor baie dinge met ons kinders. Voorheen het ek gedink hy is emosioneel ‘gestrem’. Vermoedelik omdat sy pa dood is toe Louis nog baie jonk was en sy ma miskien nie toegerus was om genoeg aandag aan hom te gee nie. Want 90% van alle mense se probleme spruit uit verwerping.

Hy kon net nie altyd die nodige ondersteuning aan sy eie kinders gee nie. Dikwels het ek aan hulle verduidelik ’n mens kan nie van ’n loodgieter verwag om ’n standbeeld te maak nie. Só kon hulle sekere dinge ook nie van hul pa verwag nie. Irene-Louise maak selde emosioneel oop, maar so nou en dan praat sy eerlik met my. Haar pa is haar held. Vaughn en Louis kom nou beter oor die weg as vroeër.

Die afgelope jaar was daar ’n paar keerpunte in my lewe. My dogter was teen die grond geslaan ná my selfmoordpoging. Ek voel baie skuldig. Op pad na die lughawe op 20 April het ek ’n SMS na onder andere my vriend, Edgar, Annemarie de Villiers, my berader van die Castle Carey-rehabilitasiekliniek in Pretoria, ’n paar vriendinne en Louis gestuur. In die hotel in Arcadia het ek 90 pille (50 kalmeerpille en 40 slaappille) een vir een gesluk. Ek kon slegs die helfte inkry, want ek het naar geword. Ek het myself op die veertiende vloer in die hotelkamer toegesluit en Vaughn gebel. Ek kon nie net vir hom ’n SMS stuur nie, ek moes behóórlik afskeid neem. Hy kon hoor ek was baie deurmekaar, maar het gedink ek het gedrink. Ek het gesê waar my briewe aan my ouers en die testament was. En ek het daardie oggend ’n inspirerende gedagte in my dogter se skoolblik gesit, soos elke dag.

Vaughn het my bly uitvra en kon aflei ek was in Arcadia. Hy het dadelik hotelle begin bel. Paramedici het my met ’n leer uit die kamer gehaal en hospitaal toe geneem. Ek het nou nog
die SMS wat Edgar vir my gestuur het. My dogter en ouers was salig onbewus van alles. Ek het glo aangedring dat hulle drie bloedtoetse in die hospitaal doen om te bewys ek het nie gedrink nie. Die res is vaag. Dit was die eerste keerpunt. Ek het besef baie mense gee vir my om. Party mense het gesê dis emosionele afpersing, maar ek het geweet wat die waarheid was. Dit was moeilik om baie dinge te weet en te verswyg. (Ek werk aan ’n boek, wat oor drie jaar gepubliseer word.) Ek het besef dis nogal arrogant om te dink ek kan net ’n einde aan my lewensdoel maak. My kinders het my nodig.

’n Week ná my poging tot selfmoord het ek al weer op Middelburg opgetree en ses optredes per week gegee. Dit was moeilik. Daar moes kos by die huis wees, joernaliste was lastig, my dogter moes opgepas word nadat sy gedreig het om selfmoord te pleeg, en dit was die Louis-sirkus. Ek kon nie op Louis staatmaak om daar vir die kinders te wees nie. Hy het sy telefoonnommer verander en in sy woonstel langs die kus gaan wegkruip.

Op 11 Mei het my oë finaal oopgegaan. Toe my seun sy motor om middernag afgeskryf het, het ek opnuut geglo in wonderwerke. Net sy lip het gebloei, sy knie is beseer en hy het ’n groot snywond aan sy heup gehad as gevolg van die sitplekgordel. Ek het besef ek kon my kind verloor het. Hoe durf ek my bekommer oor mense wat mý veroordeel. Ons gesin sál hierdeur kom. Ons het mekaar lief en ek is sterk. Nou kom my kinders heel eerste.

Daar is ’n plan in my lewe. My vriend en ek is geesgenote en doen lekker goed saam. Hy is goed vir my kinders en my musiekloopbaan is weer op dreef. Ek het die gawe om ander te help, maar besef jy moet saggies trap as jy met ander se emosies werk. Ek besef dié aan wie ek die lewe geskenk het, my ouers en God is my prioriteite. Ek leer my kinders om aandag aan hul eie behoeftes te gee. Soms moet jy leer om nee te sê. My kinders is gewers, soos ek. Ons wil ander gelukkig maak, maar soms is ’n mens soos ’n platgesuigde koeldrankboksie. Jou emosies is ‘op’. Dis wanneer mense in klinieke beland.

Dalk lyk ek wêreldwys. Ek lag maklik en het ’n goeie humorsin. Maar ek leef nogal swaar, want my emosies is intens. Mense vertrou my met diep geheime. People come
into your life for a season, a reason, or a lifetime
. Maar soms moet ’n mens laat gaan. Ek vertrou soms te maklik en soms steek mense my tien keer in die rug, dan maak ek nóg verskoning vir hulle. Verwerping bly moeilik.

Ek is nie meer 365 dae van die jaar depressief nie. Dalk net 179. Maar ’n mens neem daagliks belangrike leefstyl-besluite. Deesdae het ek baie energie, want ek eet gesond en ek het geleer hoe om gesonde leefstylkeuses te maak. Ek wil nog baie motiveringspraatjies gee. Ek leer die kinders eers wanneer jy jouself lief het, kan jy onvoorwaardelik liefde gee. En ek probeer hulle leer om nooit vir hulleself te jok nie. Dít maak jou vry. Dán kan jy jou kop hoog hou. Genesing ry nie hysbak nie. Dit klim trappe en soms voel dit of die trappe nooit end gaan kry nie . . ."