Toe die dramatiese reddingspoging van die 33 mynwerkers in die San José-myn in die Atacama-woestyn in die noorde van Chile plaasgevind het, was 'n span Suid-Afrikaners by. Hulle was oorstelp toe Florencio Avalos, die eerste myner, met die kapsule Phoenix uit die myn getrek is.

Mario Scholtz (34) van Deelkraal naby Carletonville in Noordwes was een van die vier Suid-Afrikaners wat Murray & Roberts verteenwoordig het met die reddingswerk.

"Ek het nog altyd gehoop dat ek eendag by so 'n reddingspoging betrokke kan wees. Ons was van die eerste dag af deel van die reddingspoging en dit is 'n ervaring wat my lewe verander het," vertel hy telefonies uit Chile.

Hy en sy kollegas is al 'n jaar in Chile. Hy is 'n reisbooroperateur en sy werk is om luggate en tonnels by myne te sink. Hulle was besig met 'n projek by die Andina-myn in Los Andes in die suide van Chile toe hulle die noodoproep kry.

Sy vrou, Wilma, vertel Mario was baie emosioneel toe hulle op 5 Augustus van die tragedie hoor en hul toerusting moes oppak om na die rampmyn te vertrek.

Vir Mario was die eerste dae van die reddingspoging baie gespanne omdat hulle nie geweet het of die myners nog leef nie.

"Dit was vir elkeen op die reddingsterrein 'n roerende oomblik toe ons hoor die myners leef nog. Mens kan byna nie die emosie beskryf nie."

Mario en sy kollegas was deel van die Strata 950 "Plan A" wat by San José-myn geboor het.

"Daar is 'n verskil in jou gemoed as jy weet jy boor nou om menselewens te red. Dit is nie sommer net 'n gewone luggat nie. Vir ander mag dit vreemd klink, maar daar was nie wedywering tussen die verskillende reddingspanne oor wie die eerste die deurbraak gaan maak nie. Dis nie 'n wedstryd nie, want dit gaan oor menselewens. Dit was vir ons almal belangrik om hulle lewend uit te haal."

 

"Dit was vir elkeen op die reddingsterrein 'n roerende oomblik toe ons hoor die myners leef nog. Mens kan byna nie die emosie beskryf nie." - Mario Scholtz

 

Dit was nie 'n maklike boorproses nie en hulle moes drie keer boorpunte ruil omdat die kliplae so dig is.

Hy beskryf die spanpoging en die samehorigheidsgevoel van al die mense in Chile as iets ongeloofliks.

"Mense het ons in die strate voorgekeer en bedank. Oral in die strate het mense gejuig toe ons vir die reddingspoging arriveer. Toe die mynwerkers gered is, was die atmosfeer fantasties."

Hy en sy kollegas het nie self met die families te doene gekry nie omdat die reddingspoging taamlik intens was.

"Maar jy ry elke dag deur die kampterrein en ervaar hulle hoop, blydskap en hartseer. Dit is die hoop op hulle gesigte wat jou dryf."

Hy beken hy was self in trane toe die eerste myner uitgetrek is.

"Ons het gebly vir die hele reddingspoging. Jy is deel daarvan al is dit nie jou span se gat nie."

Die tragedie het sy oë opnuut oopgemaak oor die veiligheid in myne.

"Dit was werklik 'n baie gevaarlike myn waarin die mynwerkers vasgeval het. Na verneem word, het hulle baie goeie geld verdien en gaan die staat hulle versorg tot hulle dood. "

Hy en sy span gaan nou weer oppak en hulle werk by die Andina-myn gaan voortsit.

"Ek mis my vrou baie al gesels ons elke dag," vertel die man wat deel was van een van die grootste myn-reddingspogings ter wêreld.

"Om die myners veilig en ongedeerd uit die myn te sien kom, maak mens se werk die moeite werd."