My katjiepiering het begin blom, sien ek gister. Sowat 8 maande nadat ek na Musina verhuis het! In al my ma se jare, waartydens sy menige katjiepieringboompie in my grootwordhuis in Pretoria vertroetel het, het hare nog net twee keer geblom ...

Ek het in Januarie 2010 hier na Musina verhuis met die oog op ’n rustiger lewe en ’n moontlike nuwe werk. Die N1 en N2-verkeer het eenvoudig net te veel vir my geraak. Vir myself het ek twee dinge uitgemaak, dinge waar ek regtig ’n verskil in die dorp wil maak – ons strate en ons tuine.

Die afgelope maande het ek talle vertoë tot die regering gerig oor die toestand van ons strate, maar het nog geen reaksie gekry nie. ’n Groot siviele ingenieursmaatskappy het positief gereageer en hul hulp aangebied. Geen ontwikkeling vind egter plaas nie.

My grootste wens is dat Musina weer die dorpie moet wees wat dit eens was. Ek het nou die dorp aangeneem omdat ek hier woon. En al is dit moontlik net vir ’n paar jaar, wil ek probeer om Musina se oorspronklike prag te help herstel.

Inwoners vertel my hoe welig die blombeddings altyd in die lente gegroei het in die middelmannetjie van die N1, wat regdeur Musina loop, soos met talle ander plattelandse dorpe. Dié blommeweelde van die ou dae kán mos weer teruggebring word.

Die treinstasie het jaar ná jaar die prys vir die mooiste stasie in die land gewen. Nou wonder ek hoe dit moes gelyk het, want hier’s geen teken van die prag wat was nie.

Die omgewing het ook baie pluspunte: Ek kan die pragtige sonsondergang van my huis af sien, die Bosveld het ’n unieke bekoring, met die mooiste pad tussen die dorp en die Tsipise-vakansieoord.

Wanneer ek hier wegtrek, sal ek graag wil terugkyk op ’n dorp waar ek ’n klein verskil kon maak.

Mag die lente vir elkeen wat hier lees, ook ’n besondere seisoen van verandering wees.

Camrin Bouwer, Musina