Hier’s ek weer, hier’s ek weer, met my pens(ie) voor jou deur! (En hopelik hierdie keer is dit NET `n pensie...)

So 4 weke terug raak ek toe mos agterdogtig...Iets is nie lekker nie, ek voel ek kan enige ding wat eetbaar gespel word eet en die kalender se wysers kom ook nie ooreen nie. 1, 2, 3 toetse word gekoop en gelukkig vind ek ook die een op “stand by” by ons huis. So tussen die 4 sal ek VERSEKER weet of Lian binne 9 maande `n boetie of `n sussie gaan kry. Die eerste 2 toetse is flaters. NIks, zero, zilch, NATHEENG! Ek skryf dit toe aan die 30 koppies tee wat ek teen die tyd ge-in het en sommer ook omdat dit in die middel van die dag is en NIE daai vroegoggend monstertjie wat eerder die waarheid praat nie.

Heinz is nie by die huis nie en ek vertel hom NIKS van my agterdog nie. Gelukkig vir my het ek toe 2 van die “toetsers” gespaar vir Maandagoggend. Gelukkig gryp Heinz (na sy naweek weg) die gulde geleentheid gretig aan om na sy eersgeborene om te sien die Maandagoggend en mamma verdwyn in die klein huisie in. Albei stokkies word ingespan, en VOILA binne sekondes spring daar 2 strepies op elkeen en dit lyk onderskeidelik SO: I I en +  Geen twyfel, geen uitkomkans, en dit LETTERLIK 3 weke vandat ek weer (baie) gemaklik in my 34’s pas en die skaal selfs n paar keer daar by 64 gedraai het!

Wel DANK die Vader, ek het nie swanger geraak toe ek hier na Julie-maand se Italië trippie by 71 gedraai het nie!!

Nou moet ons nog vir pappa se, en anders as met my eerste (2) swangerskappe het ek besluit om te doen wat ek nog altyd wou en hom rustig met die nuus te verras. In die Wincklers se huis het ons besluit MAANDAG is ons af-dag. Omdat albei van ons (maar veral Heinz) so baie oor naweke werk en weg is, wou ons net een dag he waar ons net kan doen wat ons wil, gaan waar ons wil, eet wat ons wil en so aan...

Hierdie spesifieke Maandag het ek my man oortuig om bietjie vir die dag Hartebeespoortdam toe gaan. In my geestesoog sien ek hoe ons by n romantiese restaurant uitkyk oor die oewer terwyl Lian (rustig) op die gras speel en ek dan baie subtiel sy “geskenkie” uit my handsak haal en die nuus SO breek. Wat in die werklikheid gebeur het: Dis `n snerpende koue, nat dag. My man het op ons AF DAG eers gou nog n “link” vir `n opkomende TV-Program gaan skiet en ek sit op hete kole by die huis en blaas rook uit omdat my planne nie gaan uitdraai soos dit moet nie. My seun is HIPERSENSITIEF en weier volstrek om sy ma uit te los en ek weet sommer HY WEET al klaar hier is kompetisie aan die broei!

Uiteindelik kom ons weg en by Harties aangekom is ons ENIGSTE kindervriendelike uitweg, die kinderspeelarea van die DROS! En daar sit ons, pappa, mamma, baba en fetussie, op die kleuterstoeltjies en drink `n koppie tee. Die hele restaurant se bedienaars is saam met ons in die vertrek omdat dit ook hier is waar die Pizza-oond is en die vertrek dus die warmste in die omtrek is.

Uieindelik is ons alleen (behalwe vir Ratatouille wat in die agtergrond bler) en ek haal die toegedraaide penneblikkie uit my handsak. Ek laat dit klink of ek vir hom ` n baie “sexy” present gekoop het en my man se oe blink sommer hoopvol. Toe hy dit oopmaak en vir die 2 positiewe stokkies kyk was daar eers `n frons, en toe `n ontnugtering (nee, dis nie wat hy verwag het nie) en toe `n RERIG?-tipe uitdrukking op sy gesig. Hy bars bykans in trane uit van blydskap en ek besef my “penneblikkie” het BAIE meer vreugde gebring as wat ENIGE ander “sexy” present kon. Dadelik word die oumas en oupas gebel en daar in Harties se Dros besef ons al 3 ons is binnekort (as die Here ons spaar) 4...

2 weke later kon ons ons nuweling se hartkloppie beleef en vandag op 8 weke kan ek met eerlikheid se behalwe vir die DODELIKE moegheid wat my NAG en DAG oorval, en my pens wat bykans dadelik gePOP het toe knaap daai present oopgemaak het, voel ek glad nie swanger nie. Nou moet ek by se ek het my mos nou MOOI voorgeneem om nie hierdie keer dieselfde foute as laas te maak nie! Ek het sommer DADELIK vir Lisa van Pilates2go gekontak en sy is 2x per week in my huis om my die leviete voor te lees en seker te maak hierdie mamma gaan dinge nou anders benader en binnekort gaan allerhande ander hulpbonne ook ingeroep word.

Dit gaan vir my `n voorreg en `n verandwoordelikheid wees om hierdie (andersom) reis saam met Sarie en elke vriendin aan te pak. Anders as Projek 64 gaan ons nou stadig maar seker anderkant toe beweeg maar julle beter my help dat ek nie eens NABY 85 verby gaan nie (PRAAT nie eens van 94 nie!!!)

Maar meer daarvan volgende week! Nou moet ek eers weer gaan doedoe!

Groete,

A