As musiek die liefde (nie) voed

Deur Pierre van Pletzen

Dit was die sixties.

Ek is in st. 9 en terwyl ek "This is the end" van The Doors neurie, word 'n briefie met die ry af in die eksamenklas vir my aangegee.

"Wil jy met my kys?"

Ek was seker dis 'n grap, maar het rondgekyk - en háár oog gevang. Haar naam was Jacqueline Human. Almal het haar geken as Jakkie. Sy was baie mooi (vandag sou 'n mens kon sê sy lyk soos Sandra Bullock) en beslis verder ontwikkel as die res van ons. En ek kon nie glo dat hierdie swartkop, hierdie swartkop-beauty met die mooi, vol lyf mý, 'n skaam en teruggetrokke outjie, sou kies nie.

Hoekom? Ek het haar naam geken - almal het - maar haar omstandighede nie. Ons het nie geweet wie Jacqueline Human was nie.

Haar pa het op die myn gewerk.

'n Paar dae later het ek saam met haar van die munisipale swembad na hul huis geloop. My hart het gehuppel.

Naby die huis het sy skielik vir my gefluister ek moet aanhou loop, haar nie groet nie, net lóóp. Ek het gesien hoekom: In hul garage het 'n man met 'n spanner in sy hand gestaan. Hy was lank, maer, met lang sidies, tattoos op sy arms, geklee in 'n wit gaatjies-vest en 'n broek met ghriesmerke. Hy was aan 't werk aan die Buick agter hom.

Maar nou het hy my met antagonisme aangegluur, terwyl ek skytbang voetjie vir voetjie die straat afsluip.

'n Week of wat later was die eksamen verby. Desembervakansie. Jakkie het my die eerste keer genooi om by haar te kom kuier. Ek was skrikkerig vir die man in die vest, maar haar ma, tannie Pop, het onmiddellik van my gehou - daarna altyd my kuif, soos 'n fringe oor my voorkop om die puisies weg te steek, met haar hand weggedruk en my naam gesing: "Braampies."

Sy was heelwat ouer as Jakkie se pa en hulle het agt kinders gehad - twee seuns was al uit die huis en Jakkie was die oudste van die ses wat oorgebly het. Hul huis het altyd oorvol gevoel, die matte was uitgetrap en die mure het muf geruik. Die pa met die Buick het ek nooit eintlik ontmoet nie. Hy was elke aand in die garage besig.

'n Vreemde ritueel het hom afgespeel sodra ek by Jakkie opdaag: Binne vyf minute is al die kinders uitgeboender en was dit net ek en Jakkie in die sitkamer. Haar ma het ons alleen gelos en heelaand Springbokradio in die kombuis geluister.

Nie lank nie of Jakkie vra my een aand uit die bloute wanneer ek haar dan gaan begin vry. Wel, natuurlik! In daardie stadium hét ek dit al lankal oorweeg. Ek het selfs 'n plan gehad: Ek sou vir haar 'n storie vertel van 'n mannetjie wat 'n bultjie opklim, op 'n stoeltjie bo sit, afgly en op die bultjie langsaan klim - my vingers sou, soos in die geelbladsye, só die roete oor haar borste loop. (Die vindingrykheid en oorspronklikheid van my plan het my skoon stomgeslaan!)

So, toe Jakkie daardie aand die vry-vraag vra, en sy sit so sexy in haar wye, groen rok, haar swart hare teen my skouer, begin ek: "Daar was eendag 'n mannetjie . . . "

Die mannetjie was halfpad op met die eerste bultjie toe die deur van die kombuis oopgaan en haar ma met 'n skinkbord Oros inkom. Sy het oorgeleun en gesê: "Die oom hou julle deur die venster dop."

Ek het my alie af én al my hormone weggeskrik. Ek moes skielik huis toe gaan.

Veel later het ek agtergekom daar was glo "probleme" met Jakkie en ouer mans. "Jamtarre" het tannie Pop hulle genoem, Italianers wat op die myn gewerk en in die enkelkwartiere daar naby gewoon het. Ek, daarenteen, met my onskuld en naïwiteit, was die "regte tipe" en ouderdom vir haar.

Een aand op pad huis toe hoor ek musiek deur die klein garagevenster. Big band-jazz. Ek loer nuuskierig by die venster in. Haar pa sit voor 'n bandmasjientjie. Sy bolyf ruk en met 'n vuil lap vee hy trane uit sy oë. Vinnig maak ek my uit die voete.

Toe ek Jakkie die volgende aand hieroor uitvra, verduidelik sy hy was 'n klarinetspeler in die Dixieland Jazz-band toe haar ma pregnant raak met die eerste kind.

'n Ruk later sê Jakkie sy't by die skool gehoor ek het so baie plate, ek moet daarvan saambring. En die volgende aand daag ek trots op met so twintig uitgesoekte LP's - Cream, Pink Floyd, Led Zeppelin, Moody Blues, Deep Purple en ook 'n paar underground bands soos Vanilla Fudge, Uriah Heap en Ten Years After. Jakkie het hulle een vir een deurgekyk, neergesit, opgekyk en onbegrypend gevra: "Het jy niks van Charles Jacobie, Virginia Lee, Jim Reeves, of daai meisie wat so mooi yodel nie?"

Ek het met skok en ongeloof na haar gekyk. Skielik was haar hare vaal, haar lyf plomp, skielik was sy nie meer die meisie wat my in die tiener-lyflike kan inlei nie. Ek kyk na haar en dink: Jy's common!

Toe los ek haar.

Oor die foon het sy gehuil en deur haar snikke gesê ek was haar "laaste kans". Ek het nie geweet wat sy bedoel nie: "Wie gaan van my weet?" vra sy. "Wie gaan my onthou?"

Toe die nuwe jaar aanbreek, die nuwe skoolkwartaal, was Jakkie nie in die skool nie. Ek het by 'n Engelse meisie begin kuier. Sy was platborstig en het gelyk soos 'n muis, maar sy het ál Cream se lirieke uit haar kop geken.

Ek't Jakkie daarna net twee keer gesien.

Die eerste keer was so 'n jaar ná ons kys uit was. Ek't die straat afgestap na die dorpsentrum. Voor my het 'n kar langs die pad gestaan, 'n klomp kinders agterin en 'n meisie met swart hare. Op die sypaadjie het 'n vrou gesit en rook. Die bonnet voor was oop en iemand het aan die enjin getorring. Te laat het ek besef - dis 'n Buick. Die vrou kyk op: "Braampies!"

Die volgende oomblik skud die kar soos die man sy kop teen die bonnet stamp. Hy kom om die kar, met 'n spanner in sy hand, wys woedend na my en sis: "Jy! Jy't vir Jakkie gelos! Jy was reg vir haar, jy was haar type. Nou is dit weer die bliksemse Jamtarre!"

Die tweede - en laaste keer - dat ek Jakkie gesien het, was gister. Gisteraand . . .

Ná jare is ek terug na ons myndorpie om die enkele vriend met wie ek nog sporadies kontak het in die hospitaal te besoek. Ek het eers voor ons ou huis stilgehou, maar niks daarvan herken nie. Ek het nie gaan kyk hoe lyk Jakkie-hulle se huis nie. Trouens, ek het glad nie aan Jakkie gedink nie. Ek dink nie ek het eens haar naam onthou nie.

Tot in die hospitaal.

Ek het my vriend gegroet, gevra hoe gaan dit, en toe het ons niks om oor te gesels nie. Op pad uit, in die gang, gryp 'n ou man my skielik woes aan die arm. Hoe? Wat?

"Agt en dertig jaar," sê hy. "Maar ek het jou herken!"

Hy is nog altyd brandmaer, die tatoeëermerke sit nog op sy arms, maar die slierte hare voor sy ore af tot teen sy kakebeen is weg. Sy wange is ingeval. Dit lyk of daar ghriesmerke op sy hemp is.

"Kom!" sê hy, en trek my agter hom aan. Ek is te verbaas, te verbouereerd om te protesteer. Hy boender my by 'n kamer in en sê: "Sy's baie siek."

Nog voor ek na haar kyk, weet ek dis Jakkie. Heelwat ouer, maar nog mooi. Haar oë is toe. Tog lyk haar slapende gesig, dalk die trek om haar mond, soos die gesig van 'n vrou wat jare gelede moed opgegee het, wat niks meer oorhet om te voel nie, wat niks meer oorhet om te hoor nie.

Hy wys na Jakkie: "Sy react op niks," sê hy. "Net musiek. Nou nie eens meer musiek nie. Speel jý vir haar!"

Voor ek iets kon sê, is hy by die deur uit.

Ek gaan staan langs haar bed. Haar oë bly toe. Op die bedkassie is 'n CD-speler en 'n paar CD's.

Ek kyk lank na haar. Kyk net. Na haar swart hare, ná al die jare wat weggeval het.

Toe blaai ek deur die CD's, een vir een. Cream, Pink Floyd, Led Zeppelin, Moody Blues, Deep Purple. Daar is nie een van Santa Vorster nie, die meisie wat so mooi kon jodel. Maar daar is Charles Jacobie, daar is Virginia Lee en Jim Reeves.

Ek sluk aan iets in my keel toe ek die CD in die speler druk.

I hear the sound of distant drums.

Ek onthou jou, Jakkie, fluister ek. Ek onthou jou.

Far away, far away.