My liewe man

Toe die wekker vanoggend lui en die weer steeds grys was, het die grou van buite byna in my kop en hart kon nesmaak. Maar toe draai jy om en trek my teen jou vas, en ek het die bekendheid van jou lyf teen myne gevoel. In daardie paar gesteelde minute voor die dag begin, het die grys in my die wyk geneem. Want jy maak my bly. Want daar isnêrens op aarde 'n beter plek as net daar in die holte van jou lyf nie. Terwyl ek so by jou gelê het, het ek gedink aan Kevin Leo se liedjie wat vra wie is jy wat my lewe deel?
Jy is my maat, my minnaar, my steunpilaar, my sielsgenoot. Jy is die een wat ek áltyd sal kies as ek ‘n keuse het met wie ek my tyd wil deurbring. Ná byna 21 jaar saam slaan my maag steeds om as ek jou onverwags sien – soos toe jy gister by my kantoor opgedaag het.
Ek is lief vir jou. Jy maak my gelukkig. Ek is veilig by jou. Jy luister na my en koester my mening. As jy van my verskil, is dit met respek. As ek verkeerd is, sal jy my sê sonder om my te verwond. Ek is `n deel van jou dag, want jy bel my of stuur ‘n e-pos of lawwe “Smiley”-mannetjies met Skype. Jy sien uit daarna om huis toe te kom.
As ek aan jou dink, is daar ‘n glimlag in my hart. Jy kan lag dat jou asem uit is en jy jou gordel moet losmaak. Jy sê die onsinnigste goed en noem ons die snaaksste name. Jy raak bewoë oor Mozart se Requiem en kom wys vir ons ‘n pasuitgebroeide kuiken wat jy versigtig in jou hande toevou. Jy is 'n pa om van te droom. Ons twee tienerdogters deel hul hele hart en lewe met jou, want hulle kán. Ek wonder of jy weet hoe raar dit is? Jy is so lief vir die Here en loop die pad eenvoudig sáám met Hom.
Ek word wakker met ’n roosknop of 'n spierwit gansveer langs my bed. Jy dans met my in die donker of hou ‘n maanlig Valentynspiekniek op die wal van ons rivier. As dit maer is in die bank en in die koskas, maak jy van boeliebief en eier 'n eksotiese quiche. En as ek saams moeg (of lui) is, sal jy die kombuis beman.
Ons lewe saam het vreemd begin. Jy was régtig my beste maat. Dit was skoon 'n skok die dag toe ek besef my beste maat doen vreemde dinge met my hart! “What started out as friendship has grown stronger ... “ Jy het my hand vasgehou – regtig vasgehou – eers ná jy my gevra het om te trou. Vanjaar word ons huwelik mondig en ek is nie spyt oor een ding van ons lewe saam nie. Ek sal die pad weer nét so saam met jou stap. As jy soms áf voel, trek ek jou deur die drif. As dit my beurt is, neem jy my las op jou. Ons lag saam, huil saam, bid saam, droom saam. Ons onthou die goeie dinge met 'n glimlag en sien uit na ons oudag.
Ek wens ek kan vir jou 'n rooi Dexter-bulletjie koop, of 'n baba-donkie of 'n paar sneeuwit swane vir ons dam. Ek wens ek kon jou laat opera kyk in Wenen, Praag en die Metropolitan. Maar ek het net my hart om vir jou te gee, en jy het dit gevat. En jy hou dit tussen jou hande vas ... sorgvuldig, soos die kuiken.

Ek is lief vir jou.