“Dit was die ergste 24 uur van my lewe, maar ek was omring deur engele wat my begelei het . . .” Niemand, nie eens haar ouers of die ongebore kind se pa, weet tot vandag toe van die fetus wat sy 17 jaar gelede op ’n Saterdagoggend in ’n primitiewe geboutjie in die stowwerige Maseru in Lesotho laat aborteer het nie. Dit was in ’n tyd toe aborsies nog onwettig in Suid-Afrika was.

Dit was iets wat met ánder mense gebeur


Sy praat onder ’n skuilnaam met SARIE. Sandra Visagie, nou 42, sê vandag alles het tóg goed uitgewerk. “Ek het nooit alleen gevoel nie. Die een ongelooflike ding op die ander het gebeur.” Sy was 25 en het as klerk by ’n regsfirma in Pretoria gewerk. Haar toekoms het voor haar gelê. “Hoe kón dit met my gebeur? Ek het ’n regsgraad gehad. My hele skool- en universiteitsloopbaan was ek ingelig. Ek was voor die swangerskap nog ’n maagd. Dit was iets wat met ánder mense gebeur.”

Een aand, toe ’n universiteitsvriend op pad na die buiteland kom groet, het hul emosies op loop gegaan en dit het net “gebeur”. Die volgende oggend het sy onmiddellik ’n urienetoets laat doen en ’n noodvoorbehoedpil (morning after pill) gedrink. Die suster by die kliniek het haar verseker alles is nou “veilig”, maar Sandra was nie oortuig nie. Veral nie toe haar maandstonde drie weke laat was nie. “Om die hele tyd met dié angs in jou rond te loop, én nog te werk, was hel. Jy kan met niemand daaroor praat nie en ek het geweet iets is nie reg nie. ’n Mens wéét mos. Ek het besluit om ’n bloedtoets te laat doen.”

Sandra was teen die grond toe sy hoor sy is swanger, hoewel sy eintlik al ná die nag van onbeplande passie “die ergste” verwag het. Sy het soos ’n dier in ’n hok gevoel. Sy móés daaruit. Sy het in die geelbladsye sommer die eerste die beste ginekoloog gekies en dit was, ironies genoeg, een van die land se mees vooraanstaande vrugbaarheidsdokters.

“Stel jou voor, ek beland by dié ou en ek is desperaat omdat ek swanger is.” Hoewel sy paniekerig oor die situasie was, het haar sin vir humor tydelik ingeskop en haar effe laat glimlag oor hoe die lewe ook maar snaakse paaie met ’n mens loop. Sy het baie verleë gevoel om “Dr. Vrugbaarheid” om ’n aborsie te vra en het besluit om liewer sy vennoot, wat nie so sterk op vrugbaarheid gefokus het nie, te nader. Dié dokter het gesê hy kan my uiteraard nie met ’n aborsie bystaan nie, maar hy kan my na iemand in Lesotho verwys.

“Hy was gelukkig ongelooflik ondersteunend en simpatiek. Party dokters sou nie eens die moeite gedoen het om jou na iemand te verwys nie, of hulle sou te bang wees om dit te doen. Hy kon sien my angsvlakke was hoog en hy het dadelik aan die werk gespring om dinge vir my te reël. Ek het nooit getwyfel dat ek ’n aborsie wou hê nie. Ek het nog nooit die behoefte aan ’n kind gehad nie. ’n Kind het net nie by my lewenstyl ingepas nie. Ek wou reis, het nie geld gehad om ’n kind te onderhou nie en aanneming was nie ’n keuse nie. Dán sou my siel altyd onrustig wees en ek sou wonder waar daardie “stukkie” van my op aarde is. Ek was 8 weke swanger en die swangerskap moes voor 12 weke beëindig word. Ek moes gou spring.”

Sy was soggens naar by die werk, maar moes glimlag en maak of alles reg is. “Elke dag was ’n Oscarvertoning . . . En ek was só skaam. Dis mos net iets wat met dom mense en losers gebeur! Wat meer is, met my karige salaris moes ek binne twee weke ’n retoer-vliegkaartjie koop en ook die geld vir die aborsie bymekaarskraap. Dit was sowat R500. Baie geld in die laat-tagtigs.”

Sy het geld by ’n universiteitsvriend geleen, sonder om te verduidelik waarvoor dit was. “Ek wou niemand met die morele dilemma daarvan opsaal nie, daarom het ek hom nie vertel nie. Ek sal hom ewig dankbaar wees. Hy het geen vrae gevra nie en ek het hom die volgende week toe ek my salaris gekry het, terugbetaal.” Die Vrydagmiddag voor sy sou vlieg, het sy in “oorlewingsmodus” gegaan. “Ek het vroeg by die werk vertrek, my tasse gepak en my woonsteldeur toegetrek en besluit ek gaan vroeër lughawe toe. Dalk is daar ’n vroeër vlug. My brein het als stap vir stap benader. Ek wou nie vooruit dink nie. Dis asof ek myself oorgegee het aan ’n Hoër mag en gesê het, neem oor, besluit vir my, help my.”

En sowaar, toe sy by die lughawe opdaag, wás daar ’n sitplek op ’n vroeër vlug as dié een waarop sy bespreek was. Sy sou na Bloemfontein vlieg en daarvandaan per motor na Maseru reis.
“Gelukkig het ek as student baie gereis en my paspoort was geldig. Maar ek het nog nie ’n geleentheid van Bloemfontein na Maseru gehad nie. Toe vra ek sommer vir die lugwaardin om op die vliegtuig af te kondig of daar dalk iemand is wat Maseru toe gaan.”

Die meisie in die sitplek voor haar het haar hand opgesteek. “Ek was verstom. Dié meisie se ouers, wat haar op die lughawe kom oplaai het, was onwetend engele in my ‘eensame pelgrimstog’. Hulle was dierbaar. Ek het sommer vir hulle gesê ek gaan by vriende in Maseru kuier.”

Ek het nooit alleen gevoel nie. Die een ongelooflike ding op die ander het gebeur

In Lesotho aangekom het sy laatnag in ’n goedkoop hotel gaan bly, doodmoeg voor die spieël gestaan en na haar magie gekyk. Sy het die dokter gebel en die afspraak bevestig. “Daar was al so ’n klein-klein boepie. Ek het effens hartseer gevoel en amper vir die fetus verduidelik dat ek geen ander keuse het as om die volgende dag die aborsie te hê nie. Ek was steeds nie spyt oor my besluit nie, maar ek wou tog ‘afskeid’ neem.

Die aand voor ek gevlieg het, het ek ook ’n hartseer oomblik beleef toe ek iemand se kinders opgepas het om ekstra geld bymekaar te maak. Ek het so na die wonderlike kindertjies gekyk en gedink ek gaan ’n einde aan ’n lewetjie maak, maar ek het net geweet ek móés. Met net ’n paar uur se slaap voor D-dag het ek gaan bad en moeg aan die slaap geraak.”

Die Saterdag was Sandra vasberade om alles af te handel. By die hotel se ontvangs het sy probeer vasstel of daar dié middag enige geleenthede na die lughawe in Bloemfontein is, waarvandaan sy haar vliegtuig die aand weer na Johannesburg moes haal. “Ek was baie gespanne, maar het deurgedruk. Amper soos ’n robot. ’n Sakeman het my toevallig gehoor en gesê ek kan saam met hom ry, mits ek twee-uur by die hotel is. Ek kon dit nie glo nie.”

Sy het ’n huurmotor na die aborsie-arts geneem. “Hy was aanvanklik bietjie angstig, omdat hy bang was dat ek daar was om hom uit te vang. In die verlede het joernaliste ‘klopjagte’ op
aborsie-dokters uitgevoer en hy was bang ek was een van hulle. Maar nadat hy vasgestel het dat ek werklik swanger is, was hy gerus. Ons het gewag vir die narkotiseur, wat by ’n troue was.”

Maar Sandra het paniekerig begin raak toe dit ál later word en die narkotiseur nie opdaag nie. “Toe sê die dokter hy sal dit sonder narkose moet doen. Dit was ontsaglik seer - asof lemme deur jou maag sny en sny en sny. Ek het besef tot watter pyn die mens in ’n krisis in staat is.” Die heeltyd het sy gefokus op ’n plant buite die venster van die primitiewe gebou waar die dokter gewerk het. “Ek onthou nie só baie nie. Net dat die dokter ongelooflik besorg en doeltreffend was. En ek wou dit agter die rug kry. Alles was stil omdat dit ná werktyd was. Net die suig-aksie van die masjien in my ore. Dit het sowat 15 minute geduur om alles leeg te suig, maar dit het baie lank gevoel.

"Die dokter het my ná die tyd geprys en gesê ek is baie dapper om dié pyn te deurstaan. Ek het hom gesmeek om my na die hotel te neem omdat ek bang was ek verbeur my geleentheid na Bloemfontein. Hy was bang om dit te doen, maar het uiteindelik ingestem.” Op pad soontoe het die dokter opgemerk: “Kyk, iemand waai vir jou.” Sandra het besef dis die sakeman wat op pad was Bloemfontein toe.

“Nóg ’n ‘toeval’. As ons nie op daardie oomblik opgedaag het nie, was ek te laat en het hy my nié gesien nie.” Sy het koelkop probeer bly in die geselskap van die sakeman terwyl hulle teruggery het. Hy was onwetend nóg ’n engel op haar pad. By die grenspos is sy na die badkamer en het verskriklik naar geword. “Ek dink ek het toe begin besef wat regtig met my gebeur het. Gelukkig het die sakeman gereeld tussen Bloemfontein en Lesotho gereis en ons het betreklik vinnig by die grenspos geholpe geraak.”

Sandra was betyds vir haar vliegtuig na Johannesburg. Sowat 24 uur later het sy by haar woonstel in Pretoria ingestrompel. “Ek het op die bed neergeval en begin huil. Post-traumatiese stres. Dit was pure verligting. Ek was steeds nie spyt oor my besluit nie, maar daar was ’n leegheid in my. Emosioneel was ek gedreineer. Ek het besef waardeur ek is. Maar ek het ook besef ek was nooit werklik alleen nie. Dinge het gebeur soos dit moes. ’n Hoër krag het oorgeneem.” Die volgende twee weke het sy by die huis gebly en haarself gekoester.

Die ginekoloog het haar verseker dat die aborsie suksesvol was. “Dit was baie pynlik. Ek het pynpille gekry en baie geslaap en bloot probeer fokus op die verligting dat dit alles oor was. Ek het dae daarna nog gebloei, asof ek ’n baie lang maandstonde beleef het, maar dit was vir my níks in vergelyking met die spanning wat ek vooraf moes verduur nie. Die besef van wat met my gebeur het, het nie direk ná die aborsie ingesink nie. Dit het my eintlik eers ’n week of twee daarna getref.” Sy kon amper nie glo dis verby nie. ’n Lang ruk daarna was sy emosioneel “delikaat”. Sy het haarself toegelaat om te huil, trooskos te eet, te troetel in die bad, lees, fliek en televisie kyk, musiek luister . . .

'n Mens kan nooit veroordeel as jy nie self in 'n sekere situasie is nie

’n Paar jaar daarna, op die dag dat die aborsie gedoen is, het sy aan dié dag teruggedink. “Ek het dikwels gedink hoe oud die babatjie sou wees. Soms met bietjie heimwee. Dit was asof ek alles weer van voor af beleef het. Nooit het ek oor my besluit getwyfel nie, maar ek het soms gedink ek kon nou ’n ma gewees het en dít het my effe geruk. Ek raak baie kwaad as mense klippe gooi en vroue wat aborsies kry as moordenaars uitkryt. Dis nie asof ’n mens klein hondjies afknou of ’n ateïs of monster is nie. Dis bloot ’n keuse. Dalk is dit selfsugtig, maar dis my keuse en ’n kind sou net nie in my lewe gepas het nie. Ek sou die kind ’n onreg aangedoen het. Dit sou trouens onregverdig teenoor my én die kind wees. 'n Mens kan nooit veroordeel as jy nie self in ’n sekere situasie is nie. Ek voel heeltemal tevrede met hoe my lewe uitgedraai het. Ek sou weer só kies.”

Sandra is ongetroud en het steeds nie kinders nie. Sy reis baie, het ’n veeleisende werk, hope belangstellings en ’n groot vriendekring. “Ek kyk elke dag met dankbaarheid terug na die engele wat onwetend 17 jaar gelede op my pad verskyn het . . .”

Aborsies in SA vandag

Op 1 Februarie 1997, agt jaar ná Sandra se aborsie, is aborsies in Suid-Afrika gewettig.

Statistieke oor hoeveel aborsies sedertdien hier uitgevoer is, is moeilik bekombaar en ook nie altyd konsekwent of akkuraat nie. Volgens syfers van die African Christian Democratic Party (ACDP) was daar 350 000 aborsies sedert 1997. Die statistieke van die departement van gesondheid vir dié tydperk is 395 367. Volgens Glenda Bateman van die Disa Sexual and Reproductive Health Centre in Johannesburg is Suid-Afrika die enigste land in Afrika waar aborsie wettig is.

Aborsies word gratis by staatsklinieke uitgevoer. By sekere aborsieklinieke in die middestad van Johannesburg kos dit sowat R160. By ’n private hospitaal/kliniek, waar dit onder narkose gedoen word, sal dit meer kos. By Disa kos chirurgiese aborsies tot op 12 weke R1 650, van 12 tot 16 weke R2 200, van 16 tot 18 weke R2 750 en ná 18 weke R3 300. Narkose kos nog R330.

Mediese aborsies kos R1 925. Voorafgaande bloed- en urienetoetse kos ekstra. Sekere mediese fondse dek bogenoemde.

Hoewel statistieke moeilik bekombaar is, blyk dit dat daar ’n groot toename in wettige aborsies sedert die wetgewing was en ’n afname in agterstraat-aborsies.

Inligting:Glenda Bateman, seksuele berader by die Disa Sexual and Reproductive Health Centre, Johannesburg

Veilige aborsies

Medies Baie vroue verkies dit. Jy drink pille (tot op 8 weke). Die fetus word dan afgedryf.

Chirurgies By byvoorbeeld klinieke soos Disa tot op 12 weke. Dit word tot op 20 weke by staatshospitale en Marie Stopes-klinieke gedoen.