My Liefding,

Waar begin ek? By die eerste aand toe ek jou raakgesien het in die Waterfront en jy later my selfoonnommer gevra het, of met ons eerste rêrige “date”? Wie sou kon dink dat ek, op byna 51, weer vlinders in my maag sou kry; dat jy ná 3 jaar saam altyd net na my kon kyk en my hart sag en warm geword het?

Onthou jy die baie aande wat ons met ’n bottel koue wit wyn en ’n pizza langs Bloubergstrand gaan sit het? Ons het gaan stap, skulpies en klippe opgetel, en later, nadat ons geëet en gekyk het hoe die son sak, vir ure en ure gesels. Oor alles. Die aand by die steakhouse is sterk in my geheue vasgeprent toe jy my weer bewus gemaak het van God, van Sy grootheid en liefde. Jy’t my baie vrae en my twyfel rustig beantwoord.

En toe gaan wys ek jou Sutherland, my geboortedorp. Jy, wat van Engeland was, kon jou verkyk aan die eindelose heelal. Laat die nag het ons op my sjaal in die middel van die teerpad gelê en kyk wie sien eerste ’n verskietende ster. Elke koppie in die Karoo was vir jou mooi; in Clanwilliam kon jy nie ophou kyk na die blomme nie, en jy was in vervoering oor Knysna se meer, Franschhoek se berge.

My liefde vir jou het dieper en dieper geword; eindelik het ek my lewensmaat ontdek, die man saam met wie ek wou oud word. En die skoenlapper se vlinders het nooit stilgeraak nie!

Jy het my vasgehou toe ek gehuil het van verlange na die kinders wat ver in ’n vreemde land was. Ek het jou vasgehou toe jy ná 7 jaar steeds getreur het oor ’n vrou wat jy so vroeg verloor het.

Ons het saans voor slapenstyd soos kinders in die swembad gespeel. Op jou regterskouer was die klein gladde stukkie vel wat ek saans gevryf het tot ek geslaap het.

Ons het soveel planne gehad – om Engeland toe te gaan na ons kinders, die platteland te sien, jou familie en vriende te ontmoet. Ek was altyd so trots op jou. Jy was my rots.

Ons het baie gelag, sommer oor nonsens-goed. Een van my kollegas het gesê hy wil ouer word soos ons, niks is vanselfsprekend nie, alles is ’n gawe om te geniet. Ek het jou gerespekteer oor so baie dinge, maar veral oor jou onvoorwaardelike liefde vir jou kinders.

Drie jaar is lank! Drie jaar is ’n oogwink! Oor niks is ek spyt nie. Ek het jou lief, my sweetie pie. En ek sal jou altyd liefhê.

Jy het altyd gesê: “I will always carry you in the palm of my hand”. Die mooiste woorde ooit. Verlang jou, liefding! As ek net 5 minute gehad het – ek sou soveel vir jou wou sê. Erna O ja, die vetplantjie wat jy vir my ’n jaar terug gekoop het, net een week voor jou dood, is vol sonskyngeel blommetjies! Dankie, my Lief.