Liefde van my lewe Dis vandag presies vier weke vandat ek en jy in die ICU harde bene moes kou. Of moet ek liewer sê vandat jy my in die asemhaalstorie ingepraat het soos wat jy destyds die kinders aan die slaap gepraat het toe hulle klein was en moes steke kry ná die soveelste kop oopval! Wat sou ek daardie Woensdagsonder jou gemaak het? Wat sou ek in die kinders se kleintyd sonder jou gemaak het? Wat sou ek in hul groottyd, wanneer hulle karre afskryf, sonder jou gemaak het? Die liewe Vader het geweet toe hy jou vir my gegee het dat ek nie die krisisse op eie stoom sou kon aanvat nie. So askies as ek jare van jou lewe afgevat het met die skrik saam, maar hier is ek darem gelukkig nog, gerat vir baie Landie-ekskursies in die toekoms. Ek voel ná dese soos Snaartjie Windvogel in Etienne van Heerden se roman: “In stede van die liefde” toe sy voor die trein ingehardloop en ternouernood aan die dood ontkom het. Ek is dankbaar dat ek ’n tweede kans op lewe en liefhê gekry het, ’n kans wat ek ten alle koste nie wil versmaai nie. Mens waardeer in elk geval die sonskyndae meer as jy ook al bewolkte dae beleef het. Wil eintlik net vandag vir jou dankie sê vir jare se geduld en liefde en begrip en hoe bevoorreg ek voel om ná 38 jaar steeds die pad saam met jou te kan loop. Dit is nog altyd vir my die lekkerste lekker om saans snoesig agter jou rug in te kruip, my hand oor die bekende kontoere te laat gly en te weet jy is my rots en my anker en my vasgrypplek as ek oor die afgrond duisel. Kom maar naderende ouderdom. Aan jou sy sien ek kans vir al die oppe en affe wat vorentoe lê en wag. Ek is só lief vir jou!