Nuwe lyf

Ek is nie regtig vet nie, maar doen toe tog navorsing oor haar dieet. By die Cohen-kliniek ruk hulle my tot stilstand . . . ek is 10 kg oorgewig!

My familie ondersteun my deur die moeilike tyd van porsies weeg, water drink en middagetes sonder brood. Skons, pannekoek en sjokolade is uit. Waar is my melkkoffie?

Ek swoeg vir twee maande sonder om te kul. Uiteindelik sien ek (én ander) die resultate. Met die stabilisering agter die rug en met my teikengewig in plek, leef ek weer “normaal”. Ja, ek eet sjokolade, maar dié keer matig. My universiteitsjeans pas my weer.

Met die regte kopskuif kan jy wonderlike dinge vermag. Ek sien uit na die res van my (nuwe) lewe. Dankie SARIE en Bertha, julle inspireer werklik.
Slanker, Molopo

BRIEF VAN DIE MAAND


Wonders
My vriendin was by ’n vrouekamp en vertel my die onderwerp van kinders buite die huwelik het opgeduik. Een mening was dat dié kinders nie God se wil is nie en daar ’n vloek op die ouers en kind geplaas word. My kind is buite die huwelik verwek, en vir my en my man was dit die grootste wonderwerk. Ná haar geboorte het nog wonderwerke gevolg. Een was dat ons God herontdek het. As haar geboorte nie God se wil was nie, hoe verklaar ons al die wonderlike dinge wat met ons gebeur het?

Is die geboorte van ’n kind dan nie ’n geskenk van God nie? My kind sal grootgemaak word met die wete dat sy ons grootste geskenk nóg was. As dit nie vir haar bestaan was nie, sou ons ouerskap misgeloop het, ’n ware vreugde in die lewe.
Annali Parsons, Komatipoort


PRYSE:

Annali Parsons wen vandeesmaand ons prysgeld van R250, asook ’n 85 ml-bottel Kenzo Amour Florale ter waarde van R900. Kenzo Amour Florale het ’n vars, romantiese blommegeur met topnote van lemoenbloeisel en kardemom en ondertone van frangipani, roos en katjiepiering.

 

Ware vriendskap

Ek het my beste vriendin verloor . . . aan die lewe. Om ons vriendskap te verduidelik sal ek sê ons was doodeenvoudig verslaaf aan mekaar se geselskap! Ons kon vir ure oor die foon gesels, lag en huil. Daar was geen pretensies, venynigheid of konflik in ons vriendskap nie.

Wat ’n bederf en seëning is dit nie om so ’n persoon in ’n mens se lewe te hê nie! Maar toe ontmoet my vriendin haar trouman. Hoe meer ek na haar gegryp het om ons vriendskap te behou, hoe meer het ek my greep op haar hand verloor. Ek begin nou aanvaar dat haar prioriteite verander het.

Maar wanneer ek SARIE lees, dink ek aan haar. Julle twee het soveel gemeen. Sy’s wydbelese, spontaan, selfversekerd en sag. Sy trek mooi aan, kook heerlik en lag lekker hard!

Dankie SARIE, dat jý ’n vriendin is vir my. Ons vroue moet ons vriendinne koester. Ware vriendskap kom nie as vanselfsprekend nie. Beskerm dit soos goud en geniet dit soos ’n mooi diamant.
Eina, Kaapstad

Lasagne in Korea

Daar is werklik niks in hierdie wêreld wat ’n mens so bewus maak van die verganklikheid van goeie dinge in jou lewe as die afwesigheid daarvan nie!

Dis my sewende dag in Suid-Korea, die plek waar al my drome bewaarheid word – ’n loopbaan, ’n stewige neseier en dan terugkeer na my vaderland.

Ek skraap uiteindelik genoeg moed bymekaar om met handgebare, oordrewe gesigsuitdrukkings en ’n effens hoër stemtoon myself aan my stoere Koreaanse bure te gaan voorstel. Ja, dit lyk of sosiale interaksie aan hierdie kant van die aardbol ietwat meer verg.

Dink maar: Jy verhuis na ’n klein dorpie in die Wes-Kaap. Jy land skaars of jou deurklokkie lui. Dis jou buurvrou met ’n bak lasagne.

Gemaklike ontmoetings tussen vreemdelinge, die gasvryheid en geselligheid, en die werklike omgee kry ’n mens nêrens anders as in ons eie land nie.

Nou wat staan my verder te doen? Ek moet voorvat, natuurlik! En my ma bel vir haar uithaler-lasagne-resep.
Marize Lotter, Suid-Korea

Ek en my buurvrou

Gewapen met ’n botteltjie ingelegde olywe is ek een oggend na my nuwe buurvrou om haar te verwelkom. Haar laggende oë en warm drukkie het ’n groot indruk gemaak.

So het ons reis op daardie Mosselbaaise sonskynoggend saam begin en ons op ver paaie van lag en huil geneem. Dae waar een se kite onder die tapyt gevlieg het en die ander gehelp het om dit weer in die lug te kry. Dae van terapie-stapsessies, bont pakkies, kruiebossies en eksotiese geregte. Groot kuiers en dan weer heimwee en verlange oor ’n glasie wyn.

Ons kinders en mans se lief en leed gedeel en verre lande saam verken. Buurvrou het verhuis, maar ek koester haar steeds . . . hierdie wonderlike geskenk van Bo. Dankie vir jóú, buurvrou.
Louise Hough, Mosselbaai

Ds. Izak se preek


My geskenk uit Kaapstad is die allermooiste, sagste groen sybokhaarserp vir die Europese winter, asook die nuutste SARIE. “Sommer gou op die lughawe gekoop, want ek het gedink jy sal graag weer ’n slag SARIE wil lees,” sê hy trots.

SARIE is kuis, en soos altyd net die nodige bietjie misterieus: Mooi verpak in plastiek. Dalk om die brose Amor op die voorblad te beskerm? Kompleet met al die advertensiebladjies wat my altyd so grensloos geïrriteer het toe ek nog in Suid-Afrika gewoon het.

Ek lees eerste wat almal oor Ds. Izak sê, want vir hom het ek van lankal af ’n sagte plekkie in my hart gehad. Altyd gedink ek wil hom eendag vertel hoeveel indruk sy preek daardie dag in 1998/99 op my gemaak het, in Milnerton se NG kerk: “Wat gaan jy doen as jy hoor Jesus is nóú, op hierdie oomblik, in Voortrekkerweg op pad Milnerton toe?”

Natuurlik het ek hom toe nooit vertel nie, want waar sou ek so ’n groot man kontak? Rus sag, dominee. Jy het groot en diep indruk gemaak.
Santie Hanekom, België

SARIE, my wondersalf

Gisteraand haal ek die pos uit, maar dis nie sommer net gewone pos nie – daar’s ’n SARIE tussen al die advertensies en rekeninge!

Ek en my man het in 2002 Nederland toe verhuis. Intussen het ek Nederlandse burgerskap gekry, praat ek die taal en is ek deel van die gemeenskap. Tog bly ’n stukkie van Suid-Afrika in my hart. My ma, broer en vriendinne, alles wat geliefd en

bekend is, het ek agtergelaat. Maar ons is baie gelukkig hier en as ek weer die keuse moes maak, doen ek dieselfde.

Dié stukkie land wat hom in my hart ingeboor het, raak soms ontsteek en word seer. Die enigste salf wat help, is om my ma te bel, ’n lang e-pos vir ’n vriendin te skryf of nuus uit SA te kry. Nou het my ma my op SARIE ingeteken, vir ’n volle jaar. Dis wondersalf! SARIE hou my op die hoogte in mý taal, die resepte is Afrikaanse vingeraflekkos en dit bring ’n stukkie SA tot in my huis.
Tania Blenkers-Kirchner, Ommen

Nuwe pad

Ek is sedert vroeg verlede jaar in Saoedi-Arabië. Verdwaas, verleë oor werk en besonder bang het ek van die vliegtuig afgeklim.

Ek was onseker oor wat alles op my gewag het, maar ek het geglo ek gaan werk in my veld kry in hierdie dorre woenstynland van die Midde-Ooste.

Met my vertrek het my ouma gesê ek moet nuwe goed ervaar en dat dit net tydelik is. My hart het begin hunker na my land en sy mense en ek was nog nie eens uit die vertreksaal van O.R. Tambo nie!

Groot was my verbasing met my aankoms hier! My mede-Suid-Afrikaners is wonderlik. Ons is soos familie. Ons ruil weekliks allerlei inligting met mekaar uit.

My kennis van alles elektronies het ontplof en my geliefdes in SA is nou net ’n koppie tee en die klik van die muis weg.

Die kultuur skrik my nie af nie, ek het my pad gevind en ek voel nooit te verwyderd van dit wat ék is nie.
Chris Martin, Riaad

Bêreboekies uit die 50’s

Ek ontruim onlangs my ouers se plaashuis en kom in die stoorkamer af op ’n trommeltjie vol SARIE-bêreboekies. Van hulle dateer uit die 50’s . . . vol hekel- en breipatrone en resepte.

My ma het my jare gelede op SARIE ingeteken, maar weens omstandighede kon ek dit nie hernu nie. ’n Vriendin het die Oktober 2009-SARIE vir my geskenk.

Watter pragtige tydskrif. Geen artikel is op sensasie gemik nie. Sonder twyfel gaan ek die tydskrif weer ná baie jare gereeld koop.
Johanna Joubert, Hentiesbaai

Soveel vreugde

Ons lewe het onherroeplik verander met die koms van ’n nege maande oue blonde krulkopseuntjie. Hy’s nou ons pleegkind en hy hou ons almal in sy klein handjies bymekaar.

Ons het twee kinders van ons eie – 21 en 18 jaar oud – en hierdie klein mensie bring soveel lag en vreugde in ons huis.

Baie dae dink ek: Wat as . . . ? Maar ons lewe vir die toekoms. Ons het hom gedoop. Ons sien hom in ons geestesoog skool toe gaan en grootword saam met ons. Dit voel of hy maar altyd deel was van ons.

Ons kan ons lewe nie sonder hom voorstel nie. Hy’s ons lewe, ons lig, ons lag en my sonskyn. En ek is sy mamma wat altyd lief sal wees vir hom.
Karin Riley, De Tijger

*Lees “Ons het ’n Kongolese babatjie aangeneem” op sarie.com>Jou 5 minute vandag>Nuut&Nuus

*Lees ook “Ek het my baba laat aanneem”, My wêreld, Briewe en dan e-briewe.

Ná drie jaar . . .

Ons het vir drie jaar werk gesoek. Tot ons een oggend ’n oproep ontvang van iemand wat ons vra om met boemelaars en straatmense te werk.

Ons was in daardie stadium raadop en beland toe vir ’n maand saam met hulle in een huis. Ek het besef ’n mens moet werklik ’n gawe hê om met hierdie mense te werk. Jy luister na elkeen se storie, en jou strewe is om elkeen na jou beste vermoë na die Here te lei.

Hierdie tydperk was vir my en my man ’n wonderlike ondervinding.
I. Bester, Hennenman

Nóú te koop!

Pronkstuk! SARIE WOON


Baie dankie vir die nuwe tydskrif uit Media24 se stal. SARIE WOON is waarlik ’n pronkstuk. Julle skryf breiklubs is die nuwe boekklubs. Ek en ’n paar vriendinne het al sowat 20 jaar ’n handwerkklub, wat ons “Lappies” noem.

Ons is almal afgetree en kom elke tweede Dinsdag byeen. Uit ons hande kom pragtige kwilts, speelgoed, huislinne en handsakkies. Laasgenoemde is baie gesog en een van ons beste verkopers.

Twee van ons behoort aan ’n tuinbouklub, een sing in ’n groot filharmoniese koor en almal is deel van ’n leeskring. Ons kom byeen en sit lekker eetgoed voor, dikwels uit SARIE-resepte. Ons drink tee en lees artikels en gedigte voor uit koerante en tydskrifte.

Ons hoop ons inspireer ander vroue om dieselfde te doen sodat ons ’n groot netwerk van handwerk word.
Bets Botes, Bellville

Dié lekker kos min

Die lekkerste dinge in die lewe kos min. Dis wanneer my twee maande oue babaseuntjie vir my glimlag as hy soggens wakker word. Wanneer my twee jaar oue dogtertjie haar arms om my gooi en sê: “Myne mamma!”

Wanneer ek een keer ’n week op die skaal klim en sien die harde werk op die oefenmasjien was die moeite werd. As my man na my kyk en sê ek lyk pragtig vir hom, al weet ek daar is haelskade op my lyf en dat ek nog tien kilogram oorgewig is ná my laaste swangerskap.

Wanneer ek die nuwe SARIE vashou en al die ander gesinslede slaap, weet ek die volgende twee ure is mý tyd met my goeie vriendin!
Hester McIntyre, Wierdapark

Wat’s ’n pa?

My man se bloed loop nie deur my kinders se are nie, maar my kinders klop in sy hart. Hulle bederf hom op Vadersdag. Hulle vra raad, terg hul bleskop-pa, deel geheime en konkel saam op Moedersdag of verjaarsdae.

Hulle gebruik nie sy van nie, maar wel sy titel: Pa. Hy praat van sý kinders en hulle stel hom bekend as hul pa.

Nou wonder ek. Wat maak ’n “pa”? Bloed? Of liefde? Of die trotse vader-vonkel in sy oë? My kinders se eie pa is oorlede en ek is lief vir hul tweede pa. Is bloed regtig dikker as water?
Santa Weigel, Edgemead

Skryf aan SARIE, My sê tel, Posbus 1802, Kaapstad 8000. Faks: 021 446 5055; per e-pos: mysetel@sarie.com. Nie meer as 130 woorde nie. Briewe moet 'n volledige naam, van, adres en kontakbesonderhede hê. Merk onderaan jou brief: NET AAN SARIE GERIG