Vandag is weer een van daardie dae ... herinneringe ... verlange ... jy weet mos, of weet jy nie?Ek sit met jou ou aktetas hier oop langs my en verloor myself in die ouliefdesbriefies wat jy jare gelede vir my uit die weermagbasis geskryf het. Onthou jy nog daardie dae? Jy was so aantreklik in jou uniform en daardie hemelblou oë van jou soos poele in die hemel waarin ek verdrink het.Dit is vandag ons troudag en ek wil vir jou ’n briefie skryf, net ’n paar woorde, net om weer te kan onthou, net om weerte herleef, te kan voel, te ervaar en steeds in die liefde te kan glo.

My liefste man, ná al die jare is ek nog net so lief vir jou. Ek wil met jou langs ’n rivier sit en klippies in die water gooi. Ek wil met jou langs die see stap, net ek en jy, ons twee, hand aan hand soos lank gelede. Ek wil die sout op jou lippe proe en die bries van beloftes oor my voelspoel. Ek wil jou hart teen myne voel klop. Onthou jy nog?

Jy is hier langs my, ek voel jou in die aandwind, ek voel jou in die eerste sonstrale wat soggens vroeg vrolik op my lessenaar rondspeel en snags is jy die mooiste ster in die hemelruim, mý ster.As ek saans op die bed lê en my oë sluit, voel ek jou arms om my, arms van omgee en van onverdeelde liefde. Ek voel die warm van jou asem in my nek, die ongewone klop van my hart, ’n hart wat klop vir jou. Saam het ons ons eie sprokie geleef. Jy, my prins, en ek, jou prinses met die wêreld aan ons voete. ’n Wereld van deel, van liefhê, van omgee, ’n wêreld wat net aan ons twee behoort het.

Onthou jy die aand, twee weke ná ons troudag, by die dam? Ons het vinnig ons tweemanstentjie opgeslaan en toe buite gaan sit om die sonsondergang oor die water te bewonder. Later het die maan sy strale sag oor die water gevee en ons het steeds daar gesit, onbewus van tyd, want tyd was nie belangrik nie. Tyd het stilgestaan. Jou hande in myne, twee mense verlore in een skaduwee met die belofte dat dit altyd so sal wees.

Sewentien gedeelde jare, jare wat steeds die binnekamers van my hart vul. Ek wil dit oor en oor herleef. Jare wat in elke kamer van ons huis leef, onuitwisbare jare. Ons jare. Afgeëts in die kamers van my hart met ’n onblusbare liefde vir die enigste man wat ek ooit kan liefhê.

Dankie vir drie pragtige kinders. In elkeen is daar iets van jou. Die glimlag om ’n mond, die frons op ’n voorkop, die sagte stem, pragtige humor. Saam het ons ons kinders in die kerk afgegee. Ek kon voel hoe jy saam met my ons dogters inhaak en trots die paadjie tussen die kerkbanke afstap, saam het ons opgewonde voor die teater gestaan en wag om ons eerste kleinkind te sien,. Ek was daar, en jy onsigbaar aan my sy. Dankie, my liefste man.

Ek sou graag hierdie briefie wou pos, maar sal nie weet waarheen. Ek wou dit maar net vir jou skryf, wou maar net weer jou teenwoordigheid voel, vir jou vertel dat ek vir jou lief is, dat ek graag weer in jou oë sou wou kyk en saam met jou in die verlede verdwaal.

Jy was te jonk van ons weggeneem, maar ná soveel verlore jare drink ek nog steeds uit ons liefdesbeker , ’n goue beker, ’n beker wat altyd sal oorloop, ’n soet beker ... óns beker.