Liewe Bloeisel in die Wind In die leemte van my swakke hart roep daar ’n naam wat konstant weergalm teen die heuwels van my siel. Die toevlug van jou arms, stem en oë word begeer soos nooit tevore. En so, stadig maar seker, bou die gedagte van jou paleise in die vlaktes van hierdie lugleemte liefdesbrief. Waar is jy my lief, my alles, my ewige geluk? Op die bodem van die see het ek jou gaan soek, tussen die klowe het ek bly dwaal en jou uit nood aangeroep, maar iewers in die bos van vir altyd en ewig het jy bly skuil agter ’n plant, gogga en dou kristal. Kan ’n ster my lei tot die woning van jou hart of moet ek die GPS van musiek en sprokies volg om jou skadu te vind? Moes ek links gedraai het op die pad of moes ek eerder saam met die walvisse gaan kuier het op die strand? Moet ek fokus op die leidrade van ’n William Shakespeare-sonnet of moes die wind my oor die Jakaradas waai om jou bestaan te gewaar? Verskyn jy net met die feetjies of dwaal jy iewers tussen suikerriet? Hou die wingerde jou gevange of baljaar jy iewers in die Klein Karoo? Strompel jy altyd in ’n kroeg of vertoef jy graag onder ’n boom met ’n boek? Het die seerowers reeds jou hart beroof en versteek in ’n skatkis van ’n vreemde se palm? Filosofeer die wêreld graag in jou oë of doedoes die heelal net soms langs jou siel?Konkel jy graag saam met towenaars en hekse om ’n pot, om sodoende die samelewing te laat val vir jou hart? Pleit jy by meerminne vir saligheid in ’n oester sodat ’n pêrel van liefde volwasse word, vir my om te string? Het jy die gesiggies, die boontjierank, die wet, die boekwurm en die sakrekenaar gestuur as voorbereiding vir jou koms? Is jy my Venus of is jy my Mars of bly jy dalk net op die maan vandag? Is my soektog net ’n fantasie of verskyn ek ook snags aan jou te danke aan Klaasvakie se vrag sand?Waar bêre jy jou liefde as die wolke saampak om jou hart? En is daar krummels wat ek kan volg tot die kluis van ons geluk? Vind jy ook liefde in die klanke van die reën en die beeld van ’n vuur of koester jou hart eerder die melodie van ’n nagtegaal se trane en die kuns van die son wat elke aand sterf? Daar waar jy oor die grense of net aan die ander kant van die Vaal verkeer, kan jy my verlange beleef, voel en begeer? Sal ’n Hoër Mag ons seën met mekaar se liefde of sal ’n spinnekop ’n web om ons spin om ons te beskerm van mekaar? Geeste van gister en spoke van vandag dreig gereeld in die hoeke van my bedorwe siel oor jou vermiste self.Ek blameer Cupid en al sy trawante met hulle agterbakse plan en koes gereeld vir hul giftige aanslag teen my kosbare hart.Hofnar lag maar net vir my koddige verlange, terwyl Barbie my troos met perskes en soetwyn. Van daar waar die ewenaar jou bestaan omkruis, van daar waar geheime, verbode, begeerte liefde kraam, daar wandel jy na wense in die Melkweg vir altyd alleen. Sal ek jou maar laat voort vaar op die troebel water van tyd of sal ek jou toesluit in die toekoms van my smart? Geketting kan die idee van jou teenwoordigheid op moeder aarde my nie meer martel nie. Ek wens jou bestaan elke môre en elke nag, maar die logika van individualisme aangaande ’n loopbaan en vriende waai terug na my. Ek spreek jou dus vry en wens jou niks minder nie as ’n verruklike bestaan toe. En daar waar eensaamheid my wegraap in die kloue van ’n gedaante in die nag, bid ek dat daardie engel my sal bewaar vir jou vir eendag ... altyd en hopelik as dit sou reën. Vaarwel my lief, my alles, my ewige geluk. NS.Beroof is my hart as jy my eendag vind.