Daar staan hulle. Varsgebak. Só groot, sê iemand, as jy hulle uithol, kan jy binne-in woon.

Die brode wat Lizette Murray van Durbanville, Kaapstad, bak, is legendaries. Dis opregte hartsgeskenke wat mense se saamlag en -gesels voed, glo sy. Nou nog, wanneer sy bak, dink sy aan die beskutte klein ligkring wat haar ganse wêreld was as kind.

“Egalige, ritmiese bewegings. Die holte in die middel waar Ma die aartappelsuurdeeg ingegooi het. Ma se skouers en kop vooroor en haar hande twee knobbels in die deeg. Dan knie sy weer en weer. Tot die laaste lugblase uit is. Vir my was die mooiste as sy die panne ‘opgemaak’ het. Elke brood is liefderik in sy pan lêgemaak en met ’n sagte broodkombers toegevou om te rys. Soos ons kinders met slaaptyd. Ek het geweet dís hoe liefde lyk. Vandag nog dra ek daardie geborgenheid met my saam."

Later het Lizette sulke brode vir haar vyf seuns gebak.

“Saam met die brood kry herinneringe hul lê wat my seuns hopelik in alleen- of hartseertye sal dra. Daardie vaste wete dat hulle behóórt.”

Met elke hap van dié brood proe jy sommer die nostalgie waarna die Nederlandse neigingkenner Li Edelkoort verwys.

“Nostalgie is alles,“ sê die sanger Pieter Smith, bekend vir onder meer sy FAK-saamsing-liedjies. “Bekende klanke en reuke voer jou weg na jou kindertyd. Na tye toe jy veilig was. ’n Nostalgiese CD waarop mense kan saamsing en dans, is ’n wenner. Theuns Jordaan, Lucas Maree en Coenie de Villiers kry dit reg,” sê hy.

Daar is ook heelparty goue oues soos Cliff Richard, Elvis Presley, Neil Diamond en Billy Joel, wat immergroen bly, meen Isa van Wyk, toerdirekteur van Big Concerts in Kaapstad.

“Baie van die ‘nuwe kunstenaars’ soos die idols is van verbygaande aard. Mense kies hulle weens hul voorkoms. Kunstenaars wat ons al na SA gebring het, soos Cliff Richard, Tina Turner en Billy Joel, is tydloos. Hulle laat mense aan hul eerste soene dink. Goedvoel-klanke."

Christina Aguilera se musiekvideo "Candyman" is een van die beste voorbeelde van nuwe nostalgie, meen Suné Stassen, onafhanklike kreatiewe konsultant en projekkoördineerder van een van Woolworths se ontwerpprogramme. “Dis byderwets, maar die klank, haarstyl en danspassies herinner aan die jare vyftig.

“Chris Chameleon se moderne aanslag en verwerkings van Ingrid Jonker se gedigte op ek herhaal jou beklemtoon weer nasietrots en gee nuwe lewe aan Jonker se werke en stel dit aan ’n nuwe gehoor bekend," meen sy.

Gewilde Afrikaanse jeugboeke soos Maasdorp en Trompie is ook ’n teruggryp na nostalgie.

‘In winkels sien ons die vermenging van nostalgie en byderwetse idees’

Hoekom skielik so nostalgies?

Suné reken adverteerders gebruik nostalgiese konsepte vir die bemarking van nuwe produkte omdat dit verbruikers veilig en bekend laat voel.

“Dit gee ’n gevoel van heimwee en erfenistrots. Baie stadsjapies verkies die plaaskombuis met vars plaasprodukte. Waar ’n rooi tamatie lyk en ruik soos ons onthou uit ons kinderjare.

“Omdat Suid-Afrika nog so jonk is, soek ons iets waarmee ons kan identifiseer. Tegnologie ontwikkel met ’n dramatiese pas en ons word almal in voortdurende verandering van massaproduksie vasgevang. Omdat ons die gevaar loop om só ons identiteit te verloor, hunker ons daarna om kontak te maak met ons herkoms.

“Jare lank het ons gedink ons moet ander se idees slaafs navolg. Nou is ons trots op óns talente. Kulturele versoening in Suid-Afrika bevestig ons identiteit deur die herbekendstelling van simbole soos die springbok en protea,“ sê Suné.

“Almal smag na ’n rustiger, betekenisvoller lewe,” meen Inge Prins, vryskutfotograaf van Kaapstad. “Groot stede, massaproduksie en die oorlog in Irak veroorsaak ongemak en die mensdom soek iewers troos. ’n Pot van ma se groentesop laat jou beter voel.

“Mense wil weggevoer word deur foto’s. Eenvoudige dinge gee plesier. Produkte in bruinpapier verpak, handgemaakte, organiese en ‘groen’ produkte is gewild.”

Mense se waardes het verander na “nóú-ervarings“. Ons wil nie meer by groot inkopie-sentrums koop nie. Eerder by tuisnywerhede, plaasmarkte en padstalletjies.

“Ons beweeg weg van materialistiese massaproduksie,“ meen Inge.

Sy sien dit ook in hedendaagse fotografie. Natuurlike lig en foto’s wat herinner aan familie-foto-albums. Dis skoner, eenvoudiger en rustiger as vroeër. Kos word natuurliker afgeneem. Dit sal eerder regte, warm kos in ’n regte situasie wees as ateljeebeligting en ‘onegte’ kos wat met haarsproei gespuit word om te blink en onnatuurlik groen te lyk.

“Kliënte verkies agtergronde met ’n sagte fokus. Nostalgiese stilering is skoon, bv. 'n glas melk met ’n tuisgemaakte gemmerkoekie op ’n natuurlike linnetafeldoek."

Dié soort koesterende “kleintyd“-tonele maak ons harte warm.

’n Kaapse sielkundige, verbonde aan Health24.com, Ilse Pauw, verduidelik: “In krisisse vind die meeste mense dit gerusstellend om hulle met bekende dinge te omring. Dit laat hulle in beheer voel."

Mense hunker egter nie net na nostalgiese dinge as hulle traumas beleef nie, maar in enige stadium wanneer hulle bang, onseker of oorweldig voel, meen sy.

“Die meeste volwassenes het al soms na sorgvrye kinderdae gehunker. Hoewel dit bevrydend is om as ‘grootmens’ groter seggenskap en besluitnemingsmagte te hê, is dit ook stresvol,“ sê Ilse.

“Stylkenners vertel ons omring onsself met sentimentele voorwerpe.’n Collage of bewertjie teen die muur of poskaarte of foto’s van jou gunsteling-bestemming waaraan jy sentimentele waarde heg. Of dinge wat heimwee bring soos skulpe, vere of klippe," vertel Suné.

SARIE se dekorredakteurs, Lounette Fourie en Anita Rabie, sê: “Nostalgie sal nooit ‘uit’ wees nie, maar voortdurend ‘herskep’ word. Stof die porseleinpoppies af en pak dit en ou erfstukke in die vertoonkas. Kýk na hartelus, want elke stuk vertel ’n storie."

‘Ons omring ons met sentimentele voorwerpe – dinge wat heimwee bring’

Hulle sê met die “nuwe nostalgie“ word die oorbekende bokhoring ’n moderne spieël, die wag-’n-bietjie-bos op plakpapier gebruik, die soetdoring wat aan ’n Pierneef-skildery herinner word op materiaal gebruik en selfs die geliefde springbok word ’n kinder-hobbelperd.

In winkels sien ons die vermenging van nostalgie en byderwetse idees, wat weer talle ontwerp-moontlikhede skep. Só word moderne telefoondraad gebruik om tradisionele mandjies te weef.

Tegnologie help ons om beter te presteer, maar ons verloor tog baie spesiale dinge daarmee saam.

“Die gehalte van die handgemaakte artikels, die ware geur en smaak van groente en vrugte, of bloot die terugkeer na opregte waardes in ’n gejaagde samelewing. Nostalgie gee vir ons rede om weer waarde en balans te vind," sê Suné.

Woolworths plaas baie klem op dié waardes, vertel Rebecca Wallis, handelsmerkbestuurder van neigings en verbruikersgedrag. “Woolworths se voorkoms vir dié seisoen is ons erfenis. Dis eg Suid-Afrikaans, ons span die landsvlag in. Dié nostalgieveldtog is bemagtigend.

“In dié dae van onsekerheid raak dit vir verbruikers belangriker om veiligheid en troos in handelsmerke te vind, en dis dus belangrik om hul behoefte aan tradisie en kultuur te respekteer," glo sy.

“Retro is groot nuus,” sê Carina Diedericks-Hugo, redakteur: kinderboeke van NB Uitgewers.

“Ons het dit eers gesien onder volwasse klassieke boekreekse, maar ook onder die jeugreekse soos Maasdorp en Saartjie. Retro is ook groot in musiek, modes, kos, rolprente en televisie.

“Mense besef dat nie áls deur die smetterige apartheidsjare bederf is nie. Dis veral jong mense wat op spottende wyse kyk na die verlede. Die goeie word afgestof en die heilige koeie word geslag.”

Big Blue in Rosebank, Kaapstad, doen wondere vir retro en trek wit, swart en bruin yuppies. Hulle verkoop kussings met Paul Kruger se gesig op, T-hemde met ou Springboklogo’s en die Anglo-Boeremeisie en gehekelde komberse.

“Nostalgie is veral sterk onder wit Afrikaanssprekendes en swart mense, want albei se taal en kultuur was in ’n stadium as ‘onwenslik’ beskou," meen Carina.

Dana Snyman, wat sterk steun op nostalgie in sy rubrieke en sketse, sê ons gryp dalk na dinge uit die verlede omdat ons onsself verbeel die lewe was toe beter omdat ons toe jonger, mooier en gelukkiger was.

“Baie Afrikaners was dalk ná 1994 effe skaam oor ons verlede. Ons wou sekere dinge nie teenoor onsself erken nie. Nou is ons besig om onsself onbevange te herontdek.

Om jouself te herontdek, moet jy weet wie jy was. Dis dalk ook hoekom ons nostalgies raak oor dit wat verby is. Dis belangrik om te besef die verlede was nie noodwendig beter nie ... Ek wil beslis nie apartheid terughê nie!“

Suné verduidelik die rol van bemarkers: “Bemarkers neem ’n groot waagstuk en belê reuse-bedrae geld in miniekonomieë. Hulle gee die makro-ekonomie hierdeur ’n groot inspuiting. Daar is twee ekonomieë – die een verskaf ’n diens, die ander lewer ’n produk. Die ontwikkeling en groei van ’n besigheid se diens en/of produk word bepaal deur die markaanvraag. Die samelewing, saamgestel uit die verskillende markte, reageer op die impak van hul politieke, sosiale en ekonomiese klimaat. Dié reaksies word raakgesien en geïnterpreteer deur neigingkenners soos Li Edelkoort.

“Só word ’n neiging gebore en bemarkers en bedrywe moet dié neiging op ’n visuele manier ‘verwoord’."

En ons speel almal ’n rol hierin. Dit het ’n invloed op ons denke. Toets jouself. (Ek het – kwilts, tuisgebreide truie en tuisgebakte koekies laat my soos ’n godin voel!)

Ek luister graag na ’n gunsteling deur Laurika Rauch, “Die Nostalgie", terwyl ek ’n kommetjie van my ma se boontjiesop (háár ma se resep!) geniet.

Onder my ma se gehekelde kombers ...

My held was Elvis, my Elvis

My “Heartbreak Hotel“

Toe jy nog vir my met

’n tiekie kon bel

Kom ons klink ’n rooi glasie wyn

Op ons skete en pyn

En gee ons oor aan die nostalgie

Die kiekies is dof

Die album vol stof

Kyk ... hier bak Ma haar beskuit

Daar stamp Stephanus vir Mien in die dam

O hoor jy die wind teen die ruit?

 

Uit “Die Nostalgie“ deur Laurika Rauch

 

 

 

 

** Wat laat jóú nostalgies voel? Vertel ons daarvan.