My liefste Engel ...

Die jare saam met jou het my baie dinge geleer. Die grootste les is dat my liefde vir jou net aanhou groei. Onthou jy nog ons sorgvrye dae op technikon, waar ons sonder om twee keer te dink ’n dag gaan piekniek hou het langs die Vaalrivier, net ons twee?Daardie gevoel van opgewondenheid net voor ons mekaar sien, as ons mekaar nie in die vakansie gesien het nie?

Later toe ons getroud is, was die dae nie meer so sorgvry nie, maar my liefde vir jou het bly groei. Onthou jy nog die droewige telefoonoproepe vanaf Lohatlah, vroeg op wintersoggende, sodat ek die lang rye kon vryspring om met my geliefde vrou te kon praat. Onthou jy nog ons geselsies in ons eerste woonstel, voordat ons moes opstaan vir werk, jy herinner my steeds daaraan, ek sal dit nooit, ooit vergeet ...

Ons liefde sou nooit net vir mekaar kon wees nie, ek dink ons het albei besef daar gaan meer lewens in ons huwelik wees met wie ons, ons liefde gaan deel. Jou trane van opwinding, verbasing, ongeloof, twyfel ... Ek dink tot vandag weet ons nie wat die presiese rede vir die trane was toe ons uitgevind het jy’s swanger nie. Die geboorte was nie maklik vir jou nie, maar ons dogter is gebore en vandag is sy op die hoërskool.

Twintig jaar is vir party mense ’n leeftyd, maar vir my het die tyd verbygevlieg. Ek bely my onvoorwaardelike liefde vir jou, my Engel. Ek is lief vir jou. Ek is lief vir elke sentimeter van jou sagte lyf. Ek is lief vir jou uitkyk op die lewe. Ek is lief vir hoe jy ruik wanneer ek saans agter jou rug kom lê. Ek is lief vir die manier hoe jy jou hare op daai spesiale manier vasmaak. Ek is lief vir die feit dat jy nie lelik kan wees met ander mense nie (al dink jy jy kan!). Ek is lief vir jou omdat jy soos geen ander persoon in die wêreld is nie. Ek is lief vir jou omdat jy onselfsugtig is. Ek is lief vir hoe openlik jy is oor jou gevoelens. Ek is lief vir die feit dat jy in my lewe is. Ek is lief daarvoor om jou dop te hou as jy aantrek, én as jy uittrek. Ek is lief vir jou kurwes. Ek is lief vir die manier hoe jy tussen mense optree en vir hulle omgee. Ek hou daarvan om jou hand in die kerk vas te hou. Ek is lief vir jou omdat jy so dankbaar is vir die kleinste geskenkie wat ek vir jou koop. Ek is lief vir jou, want jy’s die enigste in my lewe, ek hou daarvan om jou te soen wanneer jy snags opstaan. Ek is lief vir jou oor hoe jy jou haarlokke draai terwyl jy bestuur of TV kyk. Ek hou daarvan om net na jou te staar. Ek is lief vir jou omdat jy ná twintig jaar steeds my asem wegslaan met jou skoonheid.

Ek het jou nog altyd liefgehad en sal jou vir altyd liefhê. Jy ken my geskiedenis en jy’s steeds aan my sy. Dit beteken baie vir my en bewys opnuut hoe sterk jy is.

Die eerste strofe van die lied: Heaven's Missing An Angel Lyrics van die groep 98 Degrees, beskryf my gevoel volledig;

 “I hope the man upstairs isn’t mad at me
cause I have one of his angels and she’s here with me
each time I see her precious smile and she spreads her wings
she takes me to a place where love meets eternity
Oh no, (Oh no) I’m not letting go (letting go)
I don’t want to be alone in this crazy world
Oh no, (Oh no) I love her so
and I’ll sacrifice it all to have her in my life”