Sy is beeldskoon en slim en het boonop ’n hart vir ons planeet. Die voormalige Mej. Aarde SA Ilzé Saunders is in Februarie met haar beste vriend, Dewald Buys, getroud. Nou blog sy vir SARIE.com oor haar lewe, die lesse wat sy leer, en haar nuwe avonture.  

Hier’s haar sesde inskrywing:

Ek is mal oor groen. Ek leef groen, my vingers is groen en ek hou van die kleur groen. En toe ek hoor groen, oftewel Greenery, is Pantone se kleur van die jaar, was ek skoon opgewonde.

Groenigeheid bring vreugde, dis ’n simbool van lewe. Dit beteken in eenvoudige taal: Koebaai tegnologie en hallo natuur. Stop en haal asem, sien die groter prentjie raak en leer mekaar ken. Die kleur Greenery het vanjaar groot invloed in die dekor- en modewêreld. So hoekom nie groen mode nie?

Ek sê nie koop ’n kas vol groen-items nie, maar kyk na jou klerekas op ’n groen manier deur dit vars, eenvoudig en veeldoelig te hou.

Hier's ’n paar van my groen-wenke: 1. Koop min. As jy reg koop, hoef jy nie baie te koop nie. Die kuns is om items slim te kombineer en te stileer. 2. Maak goeie besluite. Moenie ’n item koop wat jy net per okkasie kan dra nie. Wees slim! 3. Tydloos - hoe eenvoudiger, hoe beter. 

Hier's ’n paar voorbeelde van groen-uitrustings:

Wees bevonk en maak jou kas ligter en jou mode sommer groen!

Groete,

Ilzè Saunders

* Dankie aan my vrienden Yolandi van der Bijl by Unmistakable Fashion and Beauty en Liesel Louwrens by Aknowledge Beauty vir julle stileer-inspirasie.