Dit was een van die mees traumatiese besluite in haar lewe om haar pasgebore babaseuntjie vir aanneming op te gee.

Maar vir Adri Naudé-Scholtz, destyds violis in die Nasionale Simfonie-orkes in Johannesburg, was dit die enigste antwoord. Haar eie kinderdae was gevul met emosionele en fisieke geweld (haar ouers is geskei toe sy 13 was ná ’n baie stormagtige huwelik), en volgens haar het die (ongetroude) pa van haar kind dieselfde eienskappe as haar eie pa gehad. Sy het gevoel dit sou vir haar kind beter wees om in ’n liefdevolle huis groot te word.

Vandag, dertien jaar later, weet sy steeds dit was die regte besluit – al was haar hart aan stukke en gaan daar nie ’n dag in haar lewe verby dat sy nie aan hom dink nie. (Destyds het dit hoofopskrifte gehaal toe die pa van haar kind alles in die stryd gewerp het om toesig oor hul seun te probeer kry. Ter wille van sy beskerming wil sy nie sê waar haar kind en sy aanneemouers nou woon nie.)

Toe sy hom verwag het, het sy dikwels haar seun in haar maag voel skop wanneer sy viool speel. Sy het deur die jare kontak met hom behou deur vir hom briewe te skryf en geweet sy gaan eendag haar droom verwesenlik – om vir hom musiek te maak. En vandag is sy baie bly dat sy aan dié droom vasgeklou het.

Sy het haar album, A3-popviolis, aan hom opgedra.

Op die omslag skryf sy: You are the reason why I’ve always wanted to do this. Because of you I have learned some of life’s most valuable lessons. I have come to know true love and the price required for its protection. For that I will always be greatful, and dedicate “Fragile” to you.

 

"Die laaste keer dat ek my seuntjie gesien het, was hy drie jaar en ses maande oud. Dit was vir sy aanneemouers belangrik dat ek sien dit gaan goed met hom. Dit was een van die moeilikste dae van my lewe.

Ek was baie opgewonde, maar glad nie voorbereid op die emosionele impak wat dit op my sou hê nie. Hy het lank op my skoot gesit. Ek het hom vasgedruk en wou hom nie laat gaan nie. Ek het opnuut besef daar is nie ’n sterker band as dié tussen ma en kind nie. Daardie dag het ek die besluit geneem om hom nie weer te sien voor hy 18 is en dit wettig is dat hy my gereeld kan besoek nie, omdat die afskeid my elke keer net té veel ontstel het.

Ek leef vir sy kaartjies en foto’s. Vandat hy tien jaar oud is, het hy ook gereeld vir my briewe geskryf en wil nou spaar vir ’n rekenaar sodat ons gereeld kan Skype.

 

Hy weet

ek het hom

opgeoffer

juis omdat

ek hom so

liefhet - Adri

 

Ek was aanvanklik bekommerd dat hy emosionele letsels sou oorhou omdat ek hom laat aanneem het en weens alles waardeur hy is. Mense wat hom gereeld sien en sy aanneemouers verseker my dat hy goed aangepas, goed gemanierd en vrolik is. Dít en sy gewilligheid om meer oor my uit te vra en gereeld vir my te skryf gee my die gemoedsrus dat dit met hom goed gaan.

Die verlange raak by tye oorweldigend, maar ek was nog nooit spyt dat ek my seun laat aanneem het nie. Ek en my broer is sielkundig deur my pa afgetakel. Ek het gesien dat dit met mý seun sou gebeur en ek wou nie met die skuldgevoel saamleef nie.

Ek weet ek sal nooit verlore tyd kan inhaal nie, maar ek het vrede in die wete dat ek hom wel eendag hopelik meer gereeld gaan sien. Dán kan ek ’n gelukkige jong man beleef wat sal vergoed vir al die hartseer en verlange sedert hy gebore is.

Reeds met sy geboorte het sy aanneemouers my gevra om my vioolmusiek vir hom op te neem sodat hulle dit vir hom kon speel. Ek het toe nie die emosionele of fisieke krag daarvoor gehad nie. Maar ek wou altyd ’n album aan hom opdra, en ek is bly ek het uiteindelik.

"Dis hoekom ek hom met alles moet beskerm en hom móés laat gaan."

Tydens die opnames van die CD by EMI se klankateljees het veral ‘Fragile’ aan my hartsnare gepluk. Dit sal my altyd aan hom laat dink. Hy was net só fragile. Dis hoekom ek hom met alles moet beskerm en hom móés laat gaan. Dis die enigste manier hoe ek hom kón beskerm. Die liedjie se woorde versinnebeeld die hele oorlog wat ook losgebars het in sy lewe en die sinloosheid van al die pyn wat hy moes deurmaak.

 

Hy weet ek het hom opgeoffer juis omdat ek hom so liefhet. En ek kon nie beter aanneemouers kry as die twee wat soos engele uit die hemel gestuur is om ’n lewensbelangrike taak te vervul nie. Hulle het in Malawi gebly.

Ek het net dadelik gewéét dis hulle toe ek na hul portefeulje kyk. Hulle het vir my gesê my seun sal altyd myne bly. Hy word net vir hulle geleen om groot te maak. Hóé onselfsugtig! Dit was die mees traumatiese tyd van my lewe, en al wat my daardeur gedra het, was gebed en die ondersteuning van vriende en familie, en die wete dat ek die regte ding doen.

Drie dae voor sy geboorte het sy pa met die eerste hofsake begin om toesig oor hom te probeer kry. Ek kon nie deur ’n natuurlike rouproses gaan nie en moes sterk bly ter wille van my seun. Destyds was die moeilikste ding om nie daagliks deel van sy lewe te wees en hom te sien grootword nie.

Die natuurlike behoefte om jou kind te versorg word nie bevredig nie. Ek dink nie ek sou dit hoegenaamd kon verwerk as ek nie die aanneemouers self kon kies nie.

Dit het my baie lank geneem om tot verhaal te kom. Ek moes my emosies onderdruk om vir my kind se geluk te baklei.

Met sy aanneming drie dae ná sy geboorte was my hart aan stukke. Ek het hom vir oulaas vasgehou en hy het net so hard soos ek gehuil. Daarna moes ek in ’n tierwyfie verander wat sonder ophou vir die behoud van haar kind moes baklei.

 

Mense het ’n pa gesien wat vir sy kind

baklei en ’n ma wat haar kindweggooi - Adri

Sowat ’n jaar ná die eerste aanneming het ek deur depressie gegaan. Ek het terapie ontvang en baie staatgemaak op die ondersteuning van vriende en familie. Dit het my baie gehelp dat ek self besluit het om hom te laat aanneem. My ma het ook gesê sy sal by my staan, maak nie saak wat ek besluit nie.

Ná die aanneming was my lewe vir ’n ruk lank heeltemal omgekeer en ek het meer tyd in die howe spandeer as by die werk. Elke hofsaak wat die pa aanhangig gemaak het, is met koste van die hand gewys. Net sodra ek gedink het dis die laaste, is die volgende hofstuk aan my bestel.

’n Regter het uiteindelik besluit om die aanneming tersyde te stel en dit na die Konstitusionele Hof te verwys, waar die Wet op Aanneming en die rol van die ongetroude pa onder die vergrootglas geplaas is. Ons het appèl aangeteken teen die tersydestelling.

Van die nege appèlregters het agt besluit om die aanneming te herstel. Hulle het dit duidelik gestel dat daar met ’n kind se lewe gedobbel word en dat dit onherroeplike skade kon veroorsaak as hy van sy aanneemouers verwyder word met wie hy al sedert geboorte ’n band gevorm het.

Ek het baie kritiek gekry, veral van die publiek. Mense het ’n pa gesien wat vir sy kind baklei en ’n ma wat haar kind weggooi. Ek was nie bereid om in moddergevegte betrokke te raak en die pa in ’n slegte lig te stel nie. Ek het in daardie tyd baie geleer: ’n Saak het twee kante en daar is altyd meer ter sprake as wat mense kan sien.

In Februarie 1997 het die Konstitusionele Hof ten gunste van ongetroude pa’s se regte ten opsigte van hul kinders beslis, maar dit sou nie terugwerkend wees nie. My kind was dus veilig. Ek het na my seun se pa gestap en vir hom gesê: ‘Ek wens dis nou als op ’n einde.’ Hy het my ’n vreemde kyk gegee en gesê: ‘Don’t worry. It will soon be.’

Ek het hom goed genoeg geken om te weet hy voer iets in die mou. Ek onthou hoe my maag so ’n draai gemaak het.

Op Saterdag 15 Februarie 1997 is my seun ontvoer...

Hy was een jaar en twee maande oud. Ek het die oggend ’n orkesoefening gehad en toe ek my selfoon aansit, was daar geweldig baie boodskappe. Die eerste ding wat ek gedink het, is dat my seun ontvoer is. ’n Ma se telepatie is geweldig sterk.

 

Op Saterdag 15 Februarie 1997 is my seun ontvoer. Hy was een jaar en twee maande oud. Ek het die oggend ’n orkesoefening gehad en toe ek my selfoon aansit, was daar geweldig baie boodskappe. Die eerste ding wat ek gedink het, is dat my seun ontvoer is. ’n Ma se telepatie is geweldig sterk.

Ek was histeries. Twee misdadigers het met AK47’s by sy aanneemouers se huis in Blantyre ingestorm en met my kind die berge ingevlug.

Ek is Malawi toe om sy aanneemouers by te staan om my seun te soek.

Dinsdagoggend, drie dae ná die ontvoering, het ons hom gekry. Gedehidreer, baie vuil, sonder doek, maar lewend. Met sowat 300 muskietbyte aan sy lyfie.

Ek het vir hom ’n groot teddie gegee, hom gebad en die res van die dag by hom gebly. Oorstelp van emosie. Die aand is ’n dankdiens in Blantyre gehou. Ek het so gehuil, ek kon nie sien nie.

Ons het vir hom ’n sokkerbal present gegee. My boodskap daarop was: To my dearest: You are and will always be my miracle child. Ses maande later is sy pa en sy vriendin, wat hom gehelp het, in hegtenis geneem. Hy het ’n opgeskorte vonnis van vier jaar gekry en sy vriendin van twee jaar. Die Malawiërs is drie maande vroeër gevang.

Hierdie dinge is gelukkig alles agter my. Ek het deur al dié traumatiese ondervindings geleer dat ek oor ’n baie groot innerlike krag beskik en tot baie meer in staat is as waarvan ek altyd bewus was.

Musiek help my dikwels om die goed in elke situasie raak te sien en op die mooi te bly fokus en balans te kry in die lewe. Dit het ’n baie terapeutiese uitwerking op my gemoed, ek kan my emosies daarin uitstort. Dit was nog altyd vir my soos ’n reddingsgordel en het troos gebring as dinge ondraaglik was.

Toe ek jonger was, het ek gefokus op klassieke musiek en onder meer gespeel in die Aarhus-simfonie-orkes in Denemarke. Die oorgang van klassieke na kontemporêre musiek het geleidelik gebeur. Ek het vir die Barnyard-teaters gespeel as ek nie besig was met orkesuitvoerings nie.

Ek het al gespeel saam met mense soos Bono van U2 tydens oudpres. Mandela se 80ste

 

In 2005 het Steve Hofmeyr my gevra om saam met drie ander strykers ’n jaar lank in sy Platinum Trefferskonserttoer te speel en ek het ook in 2006 vir hom gewerk. - Adri

 

verjaardagvieringe, Sarah Brightman in die Superbowl by Sun City, Pavarotti in 1999 by die Uniegebou toe die Drie Tenore hier was. Ek werk nou as vryskutmusikant en speel vir kunstenaars soos Chris Chameleon en Nataniël.

Ek het my man, Allewyn, ’n klankingenieur vir Steve, vier jaar gelede ontmoet. Ek het vir die Here gebid vir die regte lewensmaat, want dit het my ná my ervaring met my seun se pa lank geneem om iemand weer te vertrou. Ek en Allewyn wil graag ’n gesin van ons eie hê. Ek hoop ons word geseën met twee kinders.

Hulle sal nooit die plek van my seun inneem nie, maar elke kind sal sy eie plekkie hê.

Vir ander mense in my situasie: Hou kontak met jou kind deur ’n welsynwerker en probeer só bewys jy het hom nie ‘weggegooi’ nie. Soveel aangenome kinders voel verwerp omdat hulle nooit van hul ouers hoor nie. As jy ’n besluit neem oor jou kind se toekoms, probeer jou eie gevoelens opsy skuif, rasioneel dink, en aanbeweeg al druis dit teen jou natuurlike drange in . . .

*Adri verkies om nie die naam van haar seun en sy pa bekend te maak nie.

Besoek gerus www.adriana-sa.co.za