Die sielkundiges wat my behandel het, meen die angs het dalk sy oorsprong by my geboorte toe ek en my tweelingsuster geskei is en in broeikaste gesit is. Met so ’n skeiding sukkel die een tweeling blykbaar om gesond te word, maar sodra hulle by mekaar is en mekaar aanraak, word die een vinniger gesond.

Ek het veral op ons eerste skooldag benoudheid en angs beleef. Ek wou nie ons huishulp laat gaan toe sy ons skool toe vat nie. Sy’t ons help grootmaak.

En toe ek eendag my ma in ’n supermark verloor, het ek geskree, gehuil en beangs rondgehardloop!
Ek was maar altyd teruggetrokke en baie sensitief vir ander se kommentaar. As iemand iets sê wat my seermaak, tob ek heeldag daaroor en voel ek hartseer en verwerp. Toe kry ek en my suster die geleentheid van ons ouers om ná matriek in Skotland te gaan werk. Eintlik wou sy altyd bitter graag oorsee gaan werk. Ons ouers wou hê ons moes selfstandig raak, want ons het in ’n veilige “bubble” grootgeword. Ek het egter elke dag gehuil terwyl my pa die reëlings getref het. Ek het vir God gevra vir ’n teken dat ek nie oorsee moes gaan nie, maar ek kon nooit duidelikheid daaroor kry nie. Aanvanklik het alles goed gegaan in Skotland. Alles was opwindend en ons het heelpad gelag. Maar toe ons op ’n dag per trein na die hotel toe ry, het die werklikheid my getref. Ek was depressief toe ek besef ons gaan lank in die buiteland wees. Ek kon die skeiding met my ouers, my hond, Suid-Afrika en bekende gesigte nie hanteer nie.

Ek het weke aaneen gebid net om te cope. Ek het daagliks oor die foon gehuil en by my ouers gepleit dat ek huis toe wil kom. Almal het gesê ek moet vasbyt. Dinge sal beter raak. Maar dit het nie. Dit het erger geraak. Ek was by tye so benoud dat ek vensters en deure moes oophou. My tweelingsuster was ongeduldig omdat sy nie my emosies kon hanteer of verstaan nie.

Toe koop ek my eie kaartjie huis toe. Tuis het ek my ma gedruk en gesê “nooit weer nie”. Herinneringe van my tye oorsee maak my steeds verskriklik benoud. Ek vermy heeltemal enige reuke, musiek of DVD’s waarna ek in die vreemde gekyk het. My suster was ook later terug van oorsee, en het met verkeerde vriende deurmekaar geraak. Sy’t met dwelms begin eksperimenteer en is later vir verslawing behandel. Ná haar ontslag het sy gevoel mense behandel haar “anders”. Om haar pyn weg te neem het sy begin drink. Op 9 November 2008, terwyl my ouers by ’n troue was, het sy haar eie lewe geneem. Hulle het haar op die vloer in ons huis aangetref.

Ek het ’n paar jaar gelede ’n liefdesverhouding gehad, maar ek het my eks mal gemaak, hom omgekrap en hom geweldig “afgesit”. Ek wou gedurig met hom praat, seker maak hy los my nie, sy stem hoor en weet hy’s nog daar. Nou kan julle dink watter uitwerking my obsessie op hom gehad het.

My verstand het vir my gesê hy’s nie die regte een vir my nie, want daar was te veel verskille. Maar my hart wou nie luister nie. Ek’t gevoel ek gaan nie iemand anders kry nie, en dalk, net dalk is hy wel dié een. Daarom wou ek nie laat gaan nie. Ek het gedurig liefde, aandag, ondersteuning, respek en geduld gesoek, nie iemand wat fisies aantreklik is nie, want die innerlike straal tog na buite. Ek was in so ’n greep van angs dat ek nie geëet het of my hare gewas het nie. Ek is gevolglik in ’n psigiatriese hospitaal opgeneem en medikasie gekry wat my gehelp het om te kalmeer.

Ek het die afgelope twee jaar ’n baie dierbare en ondersteunende kêrel, en dinge gaan baie beter met my. Maar daar is nog dae wanneer ek voel ek wil weghardloop. Hy sukkel soms om te verstaan hoekom ek so reageer, hoekom ek so verskriklik bang is ek verloor hom en hoekom ek nie altyd kan ontspan nie. My skeidingsangs is steeds daar, maar ek het iemand in my lewe wat my verstaan en my wil help. T van Pretoria