"Ek is verlig, want ek leef sedert Julie verlede jaar in konstante pyn. Die ander vroue in my hospitaalkamer met soortgelyke operasies was onderskeidelik 87, 78 en 77 jaar oud!

My pyn het sowat drie jaar gelede begin ná ’n vertoning van Swartskaap by die KKNK op Oudtshoorn. Ek het eers gedink ek het ’n spier in my been seergemaak. Die pyn het veral vererger as ek oefening gedoen het. Ek het al hoe minder begin oefen en gewig aangesit. Die ekstra kilogramme het dit net nóg seerder gemaak.

Ek is later met osteo-artritis gediagnoseer (wanneer jou gewrigte ingee van te veel skaaf). Daar is vasgestel ek is met ’n heupdefek gebore. My bobene is nie heeltemal in potjie nie – erger aan die regterkant. Ek was ’n Jane Fonda-meisie in my jeug, baie aktief, en deur die jare het die potjie begin skaaf. My ma se suster het ook dié probleem. Al wat gehelp het, was anti-inflammatoriese medisyne, maar mettertyd begin ’n mens se maag brand daarvan.

Daar was naderhand ’n knaende pyn in my heup. As jy inkopies doen, hinkepink jy. Jy raak knorrig en ek het begin blaf vir my man, Robert, en my pragtige blouoog-seuns, Emile (12) en Benjamin (10). Dit was swaar om te bestuur en uit ’n lae kar te klim.

’n Heupvervanging hou net vyftien jaar, so ek sal dalk in die toekoms wéér een moet kry. Die grootste uitdaging is om ses weke met krukke oor die weg te kom. My man moet my help stort en aantrek en my been op die bed tel. Ek is ook huilerig, wat teen my aard is.

Ek doen nou klein oefeninge, maar die groot rehabilitasie lê voor. Ek het aan die begin van die jaar Pilates-oefeninge begin doen en dit help tot dusver. Ek byt vas, want ek weet volkome herstel is in sig.”

Besoek www.sabc2.co.za vir meer oor Erfsondes.