Sy is beeldskoon en slim en het boonop ’n groot hart vir ons planeet. Die voormalige Mej. Aarde SA Ilzé Saunders is in Februarie met haar beste vriend, Dewald Buys, getroud. Nou begin sy vir SARIE.com blog oor haar lewe, die lesse wat sy leer, en haar nuwe avonture.  

Hier's haar tweede inskrywing:

Screen Shot 2017-04-20 at 11.44.20 AM

Die droom gaan min of meer só ...

Ek hardloop en hardloop, maar die pad word net donkerder. Dit is die een afspraak, verpligting en plek om te wees ná die ander en ek hou net aan met hardloop. My lont is korter as wat nodig is en ek brand gouer uit. My gedagtes borrel oor en ek vergeet boonop om asem te haal! Dan skrik ek wakker …

Vandag stort ek ’n bietjie my hart by julle uit. April-maand kry dit altyd reg om jou lekker uit jou roetine te pluk. Vir my is dit bepaald een van die besigste maande van die jaar! Daar is te veel om gedoen te kry, te veel plekke om by te wees en mense om by uit te kom. So in die warboel is ek gister doenig in ons huis en ek hoor in die verbygaan iemand op die televisie sê: “Life is good when it’s busy.” Dit tref my tussen die oë en die woorde herhaal hulself in my kop oor en oor tot dit begin lewe kry. Dadelik wonder ek waaroor kan ek nou eintlik kla. Wat is dit wat my tyd so oorneem? Die lewe is uitdagend, ja, maar ook ’n bederf. Met dié kyk ek op na die sonvanger in ons venster en raak skielik bewus van die kaleidoskoop van kleure en seëninge wat in ons sitkamer dans. Die antwoord lê eenvoudig in jouself: Jy moet jou eie son vang!

Screenshot_20170425-065704

Ek weet dat daar van julle is wat, soos ek, worstel met ’n aanhoudende innerlike geveg en soeke na selfaktualisering. Ons wil tog almal sien hoe ons harde werk en opofferinge vrugte pluk – hoe klein ook al. Maar dikwels is ons so besig om te stoei teen dit wat ons nie wil hê nie, dat ons ons krag en lewenslus verloor om aan te hou skep aan dit wat ons wel wil hê. Dit is juis wat ek die week oorgekom het. Ek het toegelaat dat mense my onderkry, dat my geduld my in die steek laat en dat ek uit die oog verloor wat ek eintlik besig is om te doen – om my eie son te vang.

Wat ons moet kies, is om positiwiteit jou middelpunt en aanhoudende uitgangspunt te maak. Ja, die lewe se onvoorspelbaarheid vreet aan ons senuwees, maar met ’n positiewe gesindheid kan jy aanhou skep aan jou vooruitgang. Ek en Dewald is maar pas getroud en skaaf en pas nog aan by ons ever-after, maar dit is soveel lekkerder om vir die mooi en kleurvolle dinge van ons verhouding deur ons sonvanger te kyk eerder as wat ons toelaat dat elke klein opdraand of klip in die pad ons onderkry.

20170425_084027 FOTO Du Wayne Photography

Elke dag is ’n geleentheid om jouself uit te leef en jou drome na te jaag. So, vang jou son, sit dit terug in jou hart, glimlag ’n slag en wees eenvoudig bevonk!

Tot volgende week,

Ilzè 

#InspiredLiving

* ’n Spesiale dankie aan ons besonderse vriende Maatje en Adriaan Smith vir ons pragtige sonvanger.