17 jaar ouderdomsverskil

Lise (36), ’n prokureur en tuisteskepper, is ma van Julia (4) en die tweeling Alan en Johan (1), en getroud met Andrew Flederman (53), ’n sakeman van Welgemoed, Bellville. Lise vertel:

DIE ONTMOETING

“Ek en Andrew is aan mekaar voorgestel deur ’n vriendin wat haar oor my ontferm net ná ’n liefdesteleurstelling. Dit was net ná 9/11 en ek wou eintlik net saans in my woonstel in Seepunt na CNN kyk. Een Sondag het sy my na ’n braai genooi en daar het tien vrygeselle op my gewag! Ek en Andrew het dadelik gekliek. Ons het vier maande later op ’n bootreis verloof geraak en is op 16 Desember 2002 getroud.”

AANTREKKINGSKRAG

“Ek het alle mans altyd met my pa, prof. Johan de Villiers, ’n wiskundige en dirigent van die Libertaskoor, vergelyk. My pa is die ongelooflikste rolmodel. Hy is so sag met my en het my met soveel liefde grootgemaak dat ek eenvoudig aangeneem het dat dit maklik sou wees om só iemand te ontmoet. Dit was nie, totdat ek Andrew ontmoet het. Hy is die grootste heer wat ek ken. Hy het sjarme en ’n Europese styl wat ongelooflik aantreklik is. Hy weet hoe om ’n vrou te bederf en spesiaal te laat voel. Hy is ’n sterk persoon en ek respekteer hom. Maar hy het ook ’n sagte kant wat baie mooi is in ’n man.”

UITDAGINGS

“’n Ouer eggenoot is gewoonlik reeds in ’n verantwoordelike, senior posisie by die werk, wat vir minder gesinstyd voorsiening maak. Dit gaan gepaard met lang werkure en stres. Sy manier van dinge doen, is ook reeds vasgestel en sulke mense pas noodwendig moeiliker aan by ’n huishouding en kinders. Andrew was gewoond aan ’n leefwyse waar hy al sy vrye tyd aan homself kon bestee. Dis uiteraard nie nou moontlik met drie woelwaters nie.

“Ek probeer hom steeds tyd vir homself gun. Dit is ’n kompromie wat ons unieke verhouding vereis. Die grootste uitdaging vir my is om dit so te aanvaar, sonder enige verwyte, sodat ons ons gesinstyd ten volle kan geniet.

“Andrew balanseer sy afwesige tye deur indirekte ondersteuning. Hy het vir my drie voltydse kinderoppassers aangestel. Hy waardeer ons kinders ontsettend baie. Omdat dit later in sy lewe gebeur het, is die geskenk soveel groter.

“Dis soms moeilik om sosiale reëlings te tref met Andrew se tydgenote, wat al groot kinders het. Ons is ook nie so beskikbaar soos hulle om op die ingewing van die oomblik in te val by sosiale reëlings nie en kan ook net kindervriendelike plekke besoek. Dis beslis ’n aanpassing vir Andrew, wat ’n passie vir fyn cuisine, sigare, wynproe en trendy plekke het.” LEKKERTES “Tot die noodlot ons skei, sal ek altyd sy darling wees. Hy behandel my soos goud. Hy is ook lekker uitgesorteer: Hy voel nie bedreig daardeur dat ek onafhanklik en ’n vrye siel is nie. Hy bewonder en moedig dit aan en wil my nie verander nie.”

Wat ek nou weet

  • Ons respekteer mekaar en is ernstig oor ons verpligtinge, maar is mal daaroor om die goeie dinge in die lewe saam te geniet. Ons hou veral van lekker lag.
  • Ons het sommige vriende verloor en nuwes gemaak, want ons pas nie noodwendig in by ander se vooropgestelde idees oor die huwelik nie. Maar ons het ’n eiesoortige skatkis van vriendskappe opgebou, wat ons dinamika komplementeer en verryk.
  • Voor ons ontmoet het, het ek met ’n paar mans van my eie ouderdom uitgegaan, maar dit was nooit reg nie. Andrew is rég.

50 jaar gelukkig getroud

Dramaturg en skrywer PG du Plessis en sy vrou, Marie, albei 75, van die plaas Sémoèr naby Potchefstroom, is op 27 Junie 1959 getroud. Marie se pa was ’n skoolhoof in Johannesburg en PG was Afrikaans-onderwyser by dié skool. Die hoof vra toe of die jong onderwyser nie sy dogter, wat pas ná drie jaar in Engeland terug was, wil saamnooi wanneer hulle pluimbal gaan speel nie. Met haar blou oë, wit pluimbalbroekie en mooi bene is PG se hart verower . . .

HUWELIKSRESEP

PG: “Respek, vergifnis van sondes, geen verwyte, tevrede-dankbaarheid vir wat jy het: Iemand wat jy met foute en al kan liefhê sonder om hom/haar te probeer verander. Sy’t bv. die nuk om soms beduiweld wakker te word. Stuur die honde op die wekking-sending en wag totdat die gaafheid in haar siel eers na vore kom. Buitendien het ons nooit genoeg geld gehad vir ’n egskeiding nie.”

Marie: “Begrip van hoe ’n man se kop werk: As hy wil skryf of sommer net sy eie ding doen – gun hom dit sonder ’n gekarring. Buitendien, as jy hart en mond belowe het jy gaan by hom bly tot die dood julle skei, dan weet jy mos daar’s nie plek vir wegloopgedagtes nie.”

UITDAGINGS

Marie: “Om nooit net ’n aanhangsel te wees nie, maar ’n mens uit jou eie reg te bly.”

PG: “Met die jare loop uitdagings uit op ’n doodgewone samesyn. Daar’s net uitdagings as een van die twee begin verwagtings koester van beter en nuwe dinge. As jy nie normaliteit as norm vir jou lewe kan geniet, vertrou en koester nie, moenie trou nie, bly in sonde, moenie kinders verwek nie en hou jul bankrekenings uitmekaar. Terloops, my oorle’ skoonpa het gesê: Vroue is nie spandabel as hulle weet hoe min jy in die bank het nie. Ek het in 1962 laas geweet, want geld verveel my en ek vertrou my vrou daarmee.”

WENKE

PG: “Trou reg, weet verliefdheid lieg alles pienk, alle skewighede word mettertyd net meer, nie minder nie. Probeer mekaar se respek verdien en begrawe jou ego. ’n Huwelik is nie ’n wedstryd waarin jy wen of verloor nie en ou rolmodelle geld nie meer nie.”

Marie: “Alle vroue gaan deur aartappeljare waarin hulle nie mooi weet wie en wat hulle is nie. Maar dit gaan verby. Moenie verwyt nie. Alles wat onoorkomelik lyk, gaan verby. Moenie oorreageer in die oomblik nie, dan’s jy later spyt as julle stry. Moet nooit, maar nooit, begin krenkinge uitdeel wat jy later nie sal kan uitwis nie. Die antwoord is: respek.”

LEKKERTES

PG: “Om ’n huis en ’n tuiskomplek te kan hê en oral waar jy ook al swerwe dít te kan weet, is die grootste enkele plesier. En samesyn. En om saam te kan lag oor wat die ouderdom besig is om met jul lywe aan te vang, dis kosbaar. Die soveel stiller liefde van die ouderdom is die grootste en lekkerste gawe wat jong mense nie altyd verstaan nie.”

Marie: “Om skaapvleis en patats so te kook dat man en kinders dit nêrens elders so sal kan kry nie, is lekker. Al is dit só corny.”

AF-TYE

PG: “Hou jou bek. Al die kommunikasiestories is net vuurhoutjies by die brandhout!”

Wat ek nou weet


  • Marie: “Die huwelik is ’n marathon. Die bulte moet jy maar uitstap en as jy struikel, staan jy op, maar jy hou aan, want soms word die hardloop weer lekker en sou jy dit vir niks in die wêreld wou misloop nie.”
  • PG: “Mense kan klaarkom, aan mekaar vasgroei, alles deel en gelukkig wees – al weet ’n mens nooit jy’s gelukkig terwyl jy dit is nie, jy kom dit eers later agter. Geite, eiesinnighede, oormatige strewes vir andermansoë en grênd probeer wees befoeter net alle verhoudinge. Wees so ongeveer tevrede met wat jou toegemeet is.”
  • Albei: “Ons voel lekker, rustig en dankbaar om ná vyftig jaar nog getroud te wees.”
Getroud, geskei en weer met mekaar getroud

Albert (53) en Elize Badnitz (48) het ’n sake-onderneming in Amanzimtoti, KwaZulu-Natal, wat optiesevesel-kommunikasienetwerke installeer. Hulle is op 4 Junie 1983 getroud, op 11 Desember 1987 geskei, en op 29 November 1991 weer met mekaar getroud. Elize vertel:

EERSTE TROUE

“Ek het die kerkpaadjie vol verwagting in ’n wit trourok en sluier afgestap. Die volgende vier jaar was ’n slagveld. Ons het gedurig baklei. Dit het gevoel asof ons aan mekaar ‘vasgeketting’ is. Ons het inderwaarheid ná ses maande reeds besef dit was ’n fout. Maar ons het vasgebyt.

“Nie een van ons was gereed daarvoor nie. Ons het albei baie bagasie gehad. Ek het uit ’n outoritêre huis gekom waar my pa se woord wet was. Ek het vroeg reeds besluit geen man sal op my kop sit nie. As Albert dus sus sê, het ek gesê nee, só . . .

“Albert se ma het weer kleintyd ál die besluite geneem. Hy het besluit geen vrou sal hóm onderdruk nie. ’n Resep vir oorlog.

“Ná vier jaar het ons die handdoek ingegooi. Ons het nie kinders gehad nie. Met al ons toutrekkery sou hulle tweede gekom het.”

NA DIE EGSKEIDING

“Dit was goeie, rustige jare waarin ek myself leer ken en liefkry het. Ek het op my eie voete gestaan, wat genesend was. Ek is grootgemaak met die idee dat jy nie sonder ’n man kan oorleef nie. Nou het ek die teendeel aan myself bewys.

“Ons was skaars drie maande geskei, toe begin Albert weer by my kuier. Ons het egter met ander mense ook uitgegaan en aparte lewens gelei. Ons moes eers vrede met onsself maak voordat ons kon leer om weer saam te leef. Ons het dus albei vir terapie gegaan.”

TWEEDE KEER

“Vyf jaar ná die egskeiding is ons weer getroud. Ons het van Gauteng na KwaZulu-Natal getrek. Dit het ons gehelp om regtig nuut te begin. Jy stap egter nie met toe oë in só iets in nie: Jy weet die tweede keer wat om te verwag. Ons persoonlikhede het dieselfde gebly. Maar ons was beter toegerus om haakplekke op ’n meer konstruktiewe manier te benader. Ons kon nie sonder mekaar leef nie en moes eenvoudig leer om saam die wa deur die drif te trek. Dis nou negentien jaar later . . .

“Ons het nie kinders nie.”

UITDAGINGS (DIE TWEEDE KEER)

“Ons onderskeie families het nie verander nie. Hulle het seergemaak gevoel ná die egskeiding en ons (wedersyds) nie daarna so maklik aanvaar nie.

“Dis moeilik om ’n nuwe blaadjie om te slaan. Ons het in die verlede baie dinge gesê en gedoen wat nie weggewens kan word nie. ’n Mens moet jouself daarvan weerhou om ou koeie uit die sloot te grawe.”

RAAD

“Weet waarom jy skei, identifiseer die probleem, ruim dit uit die weg, gaan vir terapie. As die probleem nie opgelos is nie, vra jouself af of jy daarmee kan saamleef. Onthou, hy of sy is steeds dieselfde mens en het nie magies in die wederhelf van die jaar ontpop nie. Jy ook nie. Moenie verwag jou maat moet tussen die lyne lees nie. Sê jou sê.

Wat ek nou weet

  • Ons het mekaar as mens erkenning begin gee en ons bagasie en vooropgestelde idees oor rolle agtergelaat.
  • Ons maak ruimte vir mekaar se goeie en swak punte.
  • Ons is steeds twee hardekoppe en baklei steeds, maar ons luister na mekaar se menings en probeer ’n goue middeweg volg.