Twee artikels in die SARIE van November 2010 het ou oorlogsletsels aan my gees weer laat jeuk – die artikel oor Janie du Plessis en die een oor Tisia Bruwer. Waarom is dit so dat elkeen van ons verhale verskillend is, maar ook so eenders? Die milieu en karakters verskil, maar die storie wat vertel word, word eeue al herhaal. Ek is op ’n redelike jong ouderdom getroud – net ná my 21ste verjaardag. Nodeloos om te sê, ek was dolverlief. Ons sit huis op in Heidelberg (Gauteng), waar hy skofte in ‘n fabriek gewerk het en ek daagliks Johannesburg toe en terug gependel het. Presies ‘n jaar later is die pragtigste, blonde blou-oog krulpkopseuntjie gebore. ‘n Jaar daarna besluit hy om weer by die Polisiedienste aan te sluit. Ons verhuis Krugersdorp toe. Van dag een af by sy nuwe werk het ons probleme begin. Smiddae ná werk was dit sy gebruik om van die kantoor af by die polisiekroeg te gaan ontspan terwyl ek op die stasie vir hom gewag het om daarna ons kind by die kleuterskool te gaan haal. Menige aande moes ek my pa of vriendin van die naaste tiekieboks af bel om my te kom haal. Dit was nog in die tyd voor selfone! Soms het ek die sowat 6 km te voet na die kleuterskool afgelê om voor sluitingstyd my kind daar te kry. As hy gedrink het, het sy aggressie geen perke geken nie. Al ons huisdeure het gate gehad soos hy dit met die vuis ingeslaan het. Glaskombuiskasdeurtjies het dieselfde lot gehad. Die ergste was egter die geskreeu tydens argumente waar hy altyd so jammer vir homself gevoel het. Hy het nooit skuld aan enigiets beken het, en het dan áltyd gedreig om homself met sy dienspistool te skiet. Sy vuurwapen was sy grootste vriend en my grootste vyand. Dis onmoontlik om die vrees wat jou hele lewe regeer aan iemand anders te verduidelik. Nog minder kan iemand wat nog nooit in so ‘n situasie was nie, begryp waardeur jy gaan of verstaan waarom jy in die huwelik bly nie. Ses jaar later, as ‘n “omkoopgeskenk” in ‘n poging om hom te kry om sy woord te hou om te verander, het ons ‘n blonde blou-oog krulkopdogter gehad. Net nog leë beloftes, moes ek baie vinnig besef. My afwaartse spiraal het nou al groter momentum gekry. Daar was pille om my in die aand te laat ontvlug en vas te slaap sodat ek hom nie kon hoor inkom nie en ook nie kon wakker word om in ‘n stryery betrokke te raak nie, en pille in die oggend om my deur die dag te sleep en wakker te kan bly.  My kop het bly vashaak by selfmoord. Dit was die enigste “werkbare” oplossing wat ek kon sien. In die motor op pad werk toe en terug het ek aan maniere gedink om my eie lewe te neem sonder dat my kinders my sou vind en sonder dat ek ander kon beseer. Ek wou nie ‘n groot gemors gehad het nie. Ek was ‘n lewende lyk – dooier as dood aan die binnekant. My menswees flenters, my selfvertroue weg. Ek kon nie eens alleen saam met ‘n man in ‘n hysbak klim nie. Nog minder alleen saam met kliënte gaan uiteet as hulle slegs mans was nie. Ek staan in ’n beroep wat in daardie stadium van my lewe deur mans oorheers was (argitektuur en konstruksie). Die vrees dat hy die kinders en my familie kon doodskiet, het my lewe oorheers. Elke keer as hy die gevoel gekry het dat ek dit oorweeg om te loop, het hy my herinner aan sy vriende in regsberoepe wat sou seker maak dat ek haweloos en sonder ‘n sent daar sou uitstap. Hy’t gedreig dat my ouers en naaste familie met hul lewens sou moes boet vir die onreg wat ek hom wou aandoen. Ons babadogter was ongeveer 6 weke oud toe hy die 9mm-pistool oorgehaal en teen haar voorkoppie gehou het om haar te skiet. Kan enigeen van julle julle indink hoe dit voel om op jou knieë by jou baba se bed te sit en jou man te smeek om haar te los en jou eerder te skiet? Een aand toe ek sonder die kinders die pad gevat het en my pa gebel het om my te kom haal, het hy my met die motor ingejaag. Hulle het my feitlik dieselfde tyd bereik. Hy het my pa probeer skiet. Ek wag nou nog vir die kapelaan en sy bevelvoerder nadat ek gebel en om hulp gesmeek het. Tog het ek nog 4 jaar (en 11 jaar in totaal) in my huwelik gebly. Vandag kyk ek terug en kan ook nie verstaan hoekom ek hom nie vroeër verlaat het nie. In my senuweetoestand het ek by ‘n psigiater beland wat dit baie duidelik gemaak het ek is met ‘n 45-jarige kind getroud wat nooit gaan grootword nie. En die belangrikste was dat dit ook my einde in die huwelik sou beteken. As my man my nie sou skiet nie, sou ek selfmoord pleeg. Daardie dag het die psigiater my die lig laat sien, my die lewe laat kies. Dieselfde nag het ek hom om ‘n egskeiding gevra. Hy het wonder bo wonder ingestem, maar dit duidelik gemaak dat die kinders moet bly. Ek gaan alleen. Om hul lewens te spaar het ek ingestem.  Die volgende dag egter het hy van plan verander. Sy ongereelde ure as speurder het dit vir hom moeilik gemaak om die kinders te versorg. Ek moet die kinders neem. Op sy versoek het ek toe nog 3 maande gebly. In my onkunde het ek egter nie besef dat hierdie vensterperiode hom valse hoop gegee het nie. Toe hy besef ek was steeds van plan om te gaan, was die hel behoorlik los. My seun, toe 10 jaar oud, het vreesbevange die tuin ingestorm en ons dogtertjie was histeries in die huis. Met haar op my heup het ek my seun in die tuin gaan soek. Al wat hy kon sê, was: “Bel asseblief vir Opa. Sê vir Opa hy moet ons nou kom haal. Ons kan nie langer hier bly nie. Asseblief Mamma, bel vir Opa!” Daar in die oprit het my pa ons kom haal. En vandaar het ons drie se pad na heelwording begin. Dit was lank en ru tot waar ons nou is, 15 jaar later. Letsels en seer is steeds daar, maar ons léwe.

Tersia, Gauteng