SY DEEL HAAR 'NUWE' LEWE MET ONS:

25 Mei

Regdeur die geskiedenis kom en gaan daar gebeurlikhede wat ons tot stilstand ruk. As dit nie oorloë, aardbewings, tsunami’s of groot Depressie is nie, dan is dit Resessie, dood, egskeidings en so kan mens aangaan en nog baie voorbeelde noem.
 
Hoe reageer ons egter op al hierdie gebeurlikhede? Sit ons in stilswye? Wag ons op simpatie? Vertel ons vir mekaar hoe erg alles is? Ja, ons doen dit, en ja ons mag. Maar dan op ‘n dag moet die lewe aangaan. Sien ons soms die lig aan die einde van die tonnel, of lyk alles pikswart?
 
Die huidige resessie het menige van ons hard getref. Daar is egter uitkoms. Ons sien dit nie aldag nie, maar daar is. Dit gaan oor jou gesindheid teenoor die resessie. Vir baie mense was dit ‘n uitkoms waarvoor hulle gewag het. Hoe? Hulle het geleenthede raakgesien wat ander misgekyk het. Hulle het hul koppe opgelig en moontlikhede raakgesien, terwyl ander kop-onderstebo gesit en treur het.
 
Daar is sekere besighede wat floreer. Vir die eerste keer in jare is koerantblaaie vol veilings, nie almal insolvent nie, maar afslaers floreer. Ek dink aan verhuringsplekke. Daar is mense wat voorheen huise kon koop, maar agv bankbeperkings nie kan koop nie. Hulle word forseer of te huur. Daar is vrouens wat begin kookkos in verpakte vorms verskaf aan alleenlopers en gesinne wat saans te laat by die huis kom om te kook. Die kos word bekostigbaar verskaf en beide partye vind baat daarby. Baie vervaardigers koop nie meer nuwe masjinerie nie, en laat dit eerder herstel, dus meer werk vir tegnici.
 
Daar is baie voorbeelde van suksesverhale in hierdie huidige ekonomiese krisis. Selfs die huisvrou wat met soveel minder moet klaarkom om haar gesin se magies versadig te hou, is ‘n suksesverhaal. Dit verg fyn beplanning, innovering en geloof.
 
Niemand sal ontken hoe swaar ons Suid-Afrikaners gekry het na die Tweede Wêreldoorlog nie. Daar was al selfs sprake dat ons die armste nasie was wat bittermin oorgehad het om oor opgewonde te raak. Maar in sak en as gaan sit? Nee! Staan op, lig jou ken en durf die lewe aan. Jy kan. Elkeen van ons kan. Neem dit treetjie vir treetjie. As jy later sou terugkyk, sal jy sien jy is ‘n paar myl verder. Positiewe mense trek positiwiteit aan. Dit neem durf om in elke struikelblok ‘n geleentheid raak te sien.
 
Ons het nie beheer oor wat met ons gebeur nie, maar ons het definitief beheer oor hoe ons daarop gaan reageer. Gaan jou lewe stilstaan, of gaan jy as wenner uittree?    

 

Become a possibilitarian.  No matter how dark things seem to be or actually are, raise your sights and see possibilites - always see them, for they're always there. - Dr. Norman Vincent Peale

 

29 April

My hart wil so hier en daar voorgee die resessie is verby. My kop sê “stadig Tallie, nie so vinnig nie".
 
Hoeveel van ons het, toe die resessie aanbreek, gevra “wat is ‘n resessie”? Vandag weet ons dis ‘n bangmaakwoord.
Die resessieding bekruip mens, as jy jou oë uitvee staan hy hard en duidelik en klop aan jou deur. Hy wag nie dat jy oopmaak nie, want op die een of ander onverklaarbare wyse forseer hy homself tot binne-in jou huis.
 
Vir lank probeer jy ontken dat jy “resessie” het as kuiergas, want jy probeer hom miskyk, jy probeer hom vermy. Jy vertel vir niemand van hierdie kuiergas nie. Jy het so gehoop hy sal jou huis verbygaan.
 
Jy begin kyk en luister na jou vriende, bure, werkskollegas en wonder of jy iets moet sê. Niemand sê egter niks, en jy bly ook stil. Jy bly vir so lank moontlik stil. By die huis kan jy voel “resessie” begin aan jou beursie vat, jy probeer keer, planne maak, maar dit help niks. Hy is soos ‘n kiem, ‘n virus. Hy gaan in waar slot en grendel geen keer het nie.

Tot jy een oggend opstaan en die meubelvervoerwa by die bure se agterplaas sien intrek. “Sjoe, niemand het niks gesê nie”. Kort daarna word die veilingsborde in die gras geslaan. “insolvente veiling – bankteruggeneemde eiendom” staan op die bord. 
 
Jy maak die oggendkoerant oop en lees van selfmoorde oor skuld, mense wat huise en rygoed verloor. Jy hoor van besighede wat bankrot gaan, mense wat hul werk verloor, ekonomieeë wat steier en die koue ressessie-hand kom vou om jou hart.
 
Die resessie-gogga het feitlik almal in die wêreld, in ‘n mindere of meerdere mate geraak. Party van ons het lig daarvan afgekom, ander weer nie.
 
‘n Goeie vriendin skakel my die ander dag. Haar seun van 12 is soek. Hulle het na ‘n woonstel getrek nadat hulle hulle huis moes verkoop. Die seun moes ure gelede al by die huis gewees het.
 
Net voor donker spoor hulle hom op. Hy het met sy fiets na hulle ou huis gery en net daar op die sypaadjie gaan sit. Hy kon nie in hul ou huis ingaan nie, want die nuwe eienaars het reeds ingetrek. Hy het op die sypaadjie gaan sit en kyk hoe hul ou bure almal hul eie gang gaan. Alles is soos tevore, behalwe, dis nie meer sy ouerhuis nie. Niks daar behoort mee aan hom nie. Hy is 12 jaar oud. Wat moes deur sy gemoed gaan?
 
Dit is stories soos hierdie wat my spraakloos laat, en my weer soos van ouds, vanaand op my knieë dwing.

21 April

Kabeljoubaai is baie rustiger as waar ons voorheen gebly het. Die weer is anders, die natuur verskil en selfs die mense is anders. Die paar permanente inwoners stap oor en kom maak kennis. Hulle dra eetgoed aan en oor en weer tee-drink word deel van ons alledaagse bestaan.
 
Ek en Simon is rustig. Ons kyk nie meer TV nie en verkies liewer om saans buite te sit en na die naggeluide te luister. As ons saans op die agterstoep sit in die donker, sien ons net twee liggies in die verte. Dit voel asof ons op ‘n plaas woon en ek geniet dit.
 
Soggens vroeg is ons op voor son-op en wag die nuwe dag in. Ons materiële behoeftes het ooglopend minder geword. Ons geniet die meer eenvoudige dinge.
 
Ons naweke is weke lank vooruit bespreek met stadsvriende wat kom kuier. Ek kan die gejaagdheid in hulle opmerk wanneer hulle Vrydagaande arriveer. Die kinders is natuurlik glad nie gewoond aan die stilte nie, en verveling straal behoorlik uit hulle uit.  
 
Saans eet ons vars vis met plaasvars brood, regte botter en tuisgemaakte konfyte.
 
Ontbyt word ‘n lang kuier wanneer die ou lang tafel op die stoep gedek word met alles wat uit die omgewing te vinde is. Niks kom by oom Barry se plaaseiers nie, so goudgeel dat dit lyk asof dit ‘n stukkie sonskyn in die eier vasgevang is. Ek kook self konfyt van die vrugte in die kontrei. Lekker ryp vye wat wil oopbars van volheid, sappige perskes wat sous-sous teen jou ken afloop soos jy eet. Gaste is traag om terug te keer huis toe na die naweek.
 
Ons lewe nader aan die aarde – dis anders – maar ek mis die stad nie meer nie. As ek gewonder het hoe ek sonder blink ligte en winkels moes klaarkom, besef ek, ek het dit eintlik nooit nodig gehad nie.

14 April

Simon bel my van die see-huis. ‘Skat, pak op, ons trek hierheen’, se hy.

“Hoe bedoel jy, trek soontoe?’, vra ek. “Wouter het sy eie plek, dis niks lekker in die huurhuis nie, en ons het mos ‘n huis hier”, verduidelik hy.
 
“Here, maak asseblief vir my die deure oop wat moet oop en maak asseblief toe wat moet toe”, praat ek weer met ons Hemelse Vader.  
 
Ek gaan sit op een van die eetkamerstoele en kyk rondom my. Ek is al so moeg vir trek. Ek het nie eens ‘n boks om te begin pak nie.
 
Nee, besluit ek. Simon kan die trekwerk behartig. Ek is moeg vir alles doen.
 
Ek bel hom en deel hom die opwindende stukkie nuus mee. “Ag jinne, my vrou, ek sit by die see-huis, dis ver van jou af. Hoe moet ek die trekwerk doen?”, vra hy moedeloos.

“Met jou bakkie, en Johnny die tuinman. Ek moet op my werk konsentreer”, antwoord ek.
 
En so begin ons trek na die see-huis. Ons meubileer Wouter se hele woonstel met alles wat hy nodig het. Hy het nie nodig om een enkele meubelstuk te koop nie. Die hele woonstel is gemeubeleerd met meubels, linne, potte, breekware en gordyne.
 
Wouter is dankbaar en baie trots op sy eie blyplek. Hy skryf vir ons ‘n baie mooi brief waarin hy vir ons bedank vir alles.
 
Simon begin ons meubels aanry see-huis toe. Rondom my raak dit al hoe leër, totdat ek net my bed en lessenaar oorhet. Maar dit pla my nie. Simon kla, maar ek kyk hom net met ‘n veraf-uitdrukking in my oë aan. Party dae ry Simon en Johnny twee keer, hulle is moeg, maar ek konsentreer mos op my werk.
 
Einde ten laaste word my bed en lessenaar ook see toe gery. Ek los die huurplek superskoon en voel goed toe ek die sleutels gaan afgee.
 
Ek sal regtig nie die plekkie mis nie.

6 April

Dit was 'n hengse lang vlug van las Vegas na Kaapstad. Ek moes 'n hele dag lank op Heathrow-lughawe sit, alles ten einde koste te bespaar vir die vlug.

Op die roete van Heathrow na Kaapstad, het dit gevoel asof 'n hele kleuterskool rondom my bespreek is. Daar was seker 30 kleingoed wat vir die eerste keer gevlieg het. Dit was die een of ander uitruil skool-ooreenkoms met 'n skool in Kaapstad. Klein kinders het mos nie 'n idee van tyd, etenstye en/of soms slaaptye nie. 'n Mens wil eet as jy honger is, wil presies weet hoe lank se vlieg nog en as hulle nie vaak is wanneer almal rondom hulle wil slaap nie, dan slaap mens nie, jy gesels en lag liewer.

Met twee uur se slaap agter  die rug, land ons net na 10-uur die oggend op Kaapstad Lughawe. Ek is glad nie in 'n gemoedelike stemming nie.

Simon se glimlag strek van oor tot oor toe hy my sien uitstap uit die aankomssaal. "Tallie, trek reg jou gesig en smile," praat ek met myself. "Dis nie Simon wat jou wakker gehou het deur die nag nie."

Alles is piekfyn en netjies toe ons by ons huurhuisie aankom. Ons bure langs ons het uitgetrek en daar is nou 'n nuwe huurder in die plek.

Ek klim vroegaand in die bed, maar die slaap ontwyk my vir ure. Toe ek uiteindelik aan die slaap raak, word ek kort daarna wakker gemaak. Ek skrik wakker, maar is heeltemal deurmekaar waar ek is. Ek kyk op die staanhorlosie, dis 12:50 in die middel van die nag.

"Stoffel! Trizie! Skree iemand buite my kamervenster. Stoooffel! Triiiixie!"

"Wat de *** gaan hier buite aan?" vra ek vir Simon.

"Dis die nuwe buurvrou, sy soek haar katte." Ek dag ek kom iets oor.

Die volgende dag kry ek 'n oproep van die eienaar. Wouter kan nie meer sy motor in die parkeer-area parkeer nie, hy moet buite parkeer. Ek bly stil, want dit is mos wat ek die afgelope maande geleer het om te doen, so ek doen dit.

Ons huurders het intussen uitgetrek uit ons see-huis. Simon besluit om vir 'n week soontoe te gaan en die plek te gaan uitverf en skoonmaak. Ek en Wouter bly dus agter, want beide van ons moet werk. Alles is rustig, totdat Wouter my meedeel dat hy die einde van die maand uittrek na sy eie woonstel.
"O," antwoord ek hom. Binne my het ek 'n rustigheid, 'n kalmte wat vir my ongekend is.
"Mamma moet asseblief kom kyk of die plek reg is voordat ek teken," versoek hy.
"Dis reg, ek kom," antwoord ek.

Toe ek met my klein motortjie by die hek uitry, maak my buurvrou die hek toe op my kar. Ek sien blou, rooi, oranje en ek dink groen van kwaadgeid, toe ek uit my kar klim. My kar het 'n hengse duik aan die linkerkant. Daar is nie 'n ogie op die sekuriteitshek nie, die gevolg is, die hek hou net aan met toemaak totdat jy dit self stop. Buurvrou het per ongeluk haar afstandbeheer gedruk. Sy is apologeties, jammer, huil amper, maar ek is boos.

Laatmiddag besluit ek om die roospotte te vervang wat een van die ander huurders stukkend gery het. Ek stap na haar en lug haar net in dat ek die potte gaan vervang, maar dat sy die helfte moet betaal.  Sy stem in, maar toe ek met die potte by die huis aankom, weier sy volstrek.

Ek is op hierdie stadium so g*tvol, dat ek amper spraakloos is. Wat gaan in hierdie plek aan? Dit raak onuithoudbaar. "Here, wys asseblief vir my wat ek moet doen. Geen mens kan so leef nie. Alles loop verkeerd. Eers Wouter, toe my kar en nou my roospotte. Dit is alle wat vir my kosbaar is. Wys vir my Here, groot asseblief," vra ek.

11 Maart

 Emily is gedoop in die mooiste oudtydse dooprokkie wat my vriendin, Mol, saamgestuur het. Dit is eintlik 'n familie-erfstuk, en ek het baie spesiaal gevoel om die rokkie vir Emily se doop te kon gebruik.

Dit was 'n baie spesiale dag en die boodskap in die kerk was besonder spesiaal. Emily was die enigste kleinding wat die oggend gedoop is.

Ek het baie dae buite op die stoep by Mia-hulle gesit en gewonder waar gaan alles eindig. Hoe lank gaan mense nog jaag agter die blinkligte en geld.

Selfs in Amerika kon ek die nalatenskap van ressessie sien. Ek het Mia se hond gereeld park toe geneem. Die park is 6 blokke van die huis. Elke 4de of 5de huis het 'n wit A4 groote kennisgewing met donkerblou kleefband opgehad. Uit nuuskierigheid het ek een dag gaan lees wat daarop staan. Dit was 'n kennisgewing wat aandui die huis is in die proses om teruggeneem te word. As ek twee dae later verbystap, is die huis oornag  ontruim en daar is geen teken van die inwoners nie.  Huise se waarde het in sommige gevalle met die helfte gedaal. Die verband het egter dieselfde gebly, jy betaal dus meer vir die huis as wat dit werd is.

Daar word algemeen gepraat in Amerika dat die land nog net een kwart van die resessie aangespreek het.  Baie mense het hul werk verloor in die motorbedryf, ander is op vroee pensioen geplaas en kan beswaarlik uitkom met hulle verminderde pensioen. Stap jy in winkelsentrums, lyk dit soos 'n maandagoggend voor oopmaaktyd - doodstil. Winkels wat toegemaak het, staar jou leegoog en donker aan.

Ek het gewens ons kan almal op die platteland gaan bly, waar jy nog die natuur raaksien en geniet, waar jy jou bure ken en groet en waar kinders nog kan veilig buite speel. Plekke waar mense nog omgee vir mekaar en respek het vir hulself en hul medemens. Is daar nog sulke plekke? Ek weet nie, daar is seker. Al wat ek wel weet, is dat ek van min mense weet wat kan se hulle het al hierdie voorregte.

My vakansie in Amerika het hopeloos te vinnig verby gegaan en voor ek my oë kon uitvee, staan 'n betraande Mia, Emily en Phil op die lughawe, besig om my te groet. Mia is baie hartseer en sukkel om my te laat gaan.

Ek rek my groet so lank moontlik uit.  Ek het 'n knop in my keel, of was die knop op my maag? Dit is nie lekker nie. Mia is baie hartseer, maar ek probeer sterk bly vir haar. Die blikstem kondig aan dat die hek vir my vlug gaan sluit. Ek soen almal een laaste keer, draai om en stap vinnig in die rigting van die hek.

 My maskara- trane  hardloop onkeerbaar  oor my gesig, maar ek kyk nie een keer om nie.

9 Maart

Las Vegas herinner my baie aan die Karoo – nie die stad self nie, maar die natuur en plantegroei. Water is baie skaars en slegs die gehardste plante oorleef. Die stad is op plat aarde gebou en word omring met die mooiste bergreeks wat tydens my besoek permanent met sneeu bedek was.

Dit het my ‘n rukkie geneem om gewoond te raak aan die binnehuise sentrale verhitting wat in al die geboue is. Ek het soms buite in die koue gaan staan, net om bietjie vars lug in te asem. As jy ‘n kind van Afrika is, mis jy oop ruimtes en vas lug.

Die dag van Mia en Emily se terugkeer huis toe, kon nie vir my en Phil vinnig genoeg aanbreek nie. Toe Mia met Emily in haar arms by die voordeur instap, word sy begroet met ‘n huis vol blomme en geskenke van vriende en familie.

Dit is ironies hoe opgewondenheid gou plekmaak vir onsekerheid met ‘n nuwe kleinding. Skielik is Emily so klein en breekbaar dat beide nuwe ouers te bang is om haar te bad, ‘n nuwe doek om te ruil en te voer.

Om die bottels te steriliseer en te borsvoed word ‘n proses waaroor opgelees moet word.

Ek begin hier en daar leiding neem, mens moet ook oppas dat jy nie die nuwe ouers se voortvarendheid oordonder nie. En met Phil, wat ‘n stoere Amerikaner is, dink hy nie veel van enige idees wat uit Afrika kom en beter kan wees nie. Dus, moet ek maar lipvasbyt en wag en kyk.

Toe ek getroue bleikmiddel, goeie opwasmiddel en warm water vir die bottels voorstel, kry ek net ‘n verbaasde kyk. Maar toe daardie selfde bottles gate in gebrand uit die skottelgoedwasmasjien kom, verander die kyk in “Can you please HELP?” van Phil.

Tussen Mia se borsvoedingsprobleme, Emily se gelerige kleur wat met ‘n goeie skeut sonlig verdwyn en blinkskoon bottels, gebruik ek ‘n goeie dosis boereraat om alles wees in plek te kry. “Mmmm, my aansien styg omtrent by my nuwe skoonseun”, dink ek by myself.

Ek neem die hele kombuis oor en laat Mia soveel moontlik rus. Ek kook lekker Kaapse geregte, maak kos en vries dit vir Mia sodat sy vir 2 weke nadat ek weg is, nie hoef te kook nie. Phil ooreet hom saans as hy van die werk af kom, en na drie weke kan ek sien sy middel het ‘n “pound of twee” aangesit.

Hy laat hom egter nie onderkry nie, en vra dat Mia die resepte wat ek maak, moet neerskryf. Sy kyk hom verontwaardig aan en vra van wanneer af is haar kokery nie meer goed genoeg nie?

“I didn’t RRealise you guys get beef in AfRRica”, antwoord hy. Dit is werklike ‘n openbaring as jy besef hoe min die Amerikaners weet van Suid-Afrika.

Ek het een aand vir 6 van Mia en Phil se goeie vriende tradisionele Suid-Afrikaanse geregte gekook,: lamsbredie, bobotie en rys, en gevulde pannekoek vir nagereg, toe een van hul hooggeleerde vriende vir my vra of ons “pools” in Suid-Afrika het. Pools?? Soos in swembaddens??, vra ek vir Mia.

Ek kon nie glo watse idée hulle van SA het nie. Die olifant en leeu-storie is nie meer waar dat hulle dink ons het sulke wildediere in ons agterplaas nie. Wat hul siening nou is, is een van moord, doodslag, agterlikheid, steel van babas. Ek het my lelik vererg vir van die sienings, maar ook besef nadat ek met hulle gepraat het, dat dit die beeld van Suid-Afrika is wat na die buiteland gestuur word deur die media. Die mense sien hierdie goed op TV en lees dit in koerante.

Kyk, ek het besef, jou geboorteland is soos familie. Ons weet presies wat al die foute is en ons kan mos lekker kla ook daaroor, maar niemand van ‘n ander land moet vir ons enige iets negatief se van ons vaderland. Met groot patriotisme, optimisme en positiwiteit het ek ons land en al sy foute verdedig. Vir ‘n aand tussen ‘n aantal vreemdes, was ek trots om ‘n Suid-Afrikaner te wees. * Kontak Tallie op tallietallie@yahoo.com

8 Maart

Dis 18:46 toe ek in Las Vegas land. Buite is dit pikdonker en koud. Nadat ek die beamptes by doeane oortuig het ek bring niks onwettigs die land binne nie, kry ek my bagasie.

Dit was 'n lang vlug. Ek is moeg, maar opgewonde om my meisiekind te sien. Daar is egter geen teken van haar of Phil nie.

My moed sak in my skoene. Wag ek dalk by die verkeerde plek? Baie mense staan rond, terwyl ek ander passasiers se blye ontmoeting met hulle familie of vriende skaapagtig staan en beskou.

Die halfuur wat ek staan en wag voel soos 'n ewigheid. My selfoon werk nie in Amerika nie en lê dus soos 'n onbruikbare kruik in my handsak. Wag was nog nooit een van my sterkpunte nie.

Toe ek net begin rondkyk vir die volgende vlug terug na Suid-Afrika, sien ek 'n gesin met 'n plakkaat wat my naam op het. Ek kyk 'n paar keer na die plakkaat om doodseker te maak dis my naam daarop. "Ja, tog, dit sê TALLIE". Ek stap nader en stel myself voor.

Hulle vra om verskoning dat hulle laat is en verduidelik dat hulle my dat hulle vriende van Mia en Phil is. Hulle moet my dadelik na die hospitaal neem. Klein Emily is nou net gebore. Die tyd van geboorte? 18:46.

Ons ry en gesels onophoudelik. Dit neem 'n rukkie om aan hulle Amerikaanse Engels gewoond te raak en ek is seker hulle sê ook net ja en nee op al my vrae, maar dat hulle partykeer ook nie mooi verstaan wat ek sê nie. Ek steur my egter min daaraan en gesels lustig voort tot by die hospitaal.

Mia is oorstelp toe ek die vertrek binnestap. Sy huil onophoudelik van vreugde. Die volgende oomblik word 'n bondeltjie mens in my arms gedruk deur die suster. "I'm shorre this is the graandma fraam South Aaafrica," sê sy. Inderdaad, dis ek ja.

Toe ek my oë op daai bondeltjie mens neerslaan, verloor ek my hart totaal en al. Dit is die pragtigste gesiggie wat ek nog gesien het, so volmaak geskape.

Buite begin daar liggies sneeu val op die vensterbank en vir 'n oomblik ervaar ek die wonderlike genade van ons Here Jesus Christus. Dit is amper tasbaar en skielik maak die wêreld en sy probleme nie meer saak nie.

Ek plaas Klein Emily op Mia se bors en ek omhels my meisiekind met genoeg liefde om hierdie drie generasies vir altyd regop te hou.

Toe ek opkyk na waar Phil staan, sien ek hoe die trane onkeerbaar oor sy wange loop, en ek weet, Mia en Emily is in goeie hande. Hierdie man sal hulle beskerm met alles wat hy het, hy sal hulle liefhê en versorg soos kosbare kleinode.

4 Maart

Kersfees en Nuwejaar het gekom en gaan sonder enige "wow's" wat met vorige jare gepaardgegaan het.

Ek het begin uitsien na my vakansie in Amerika by my dogter Mia. Mia en Phil, haar verloofde, het vir my 'n vliegtuigkaartjie gekoop om te kom kuier wanneer Klein Emily gebore word.

Die beplanning is dat ek die 15de Januarie arriveer, Mia en Phil die 16de trou, Emily die 21ste gebore word, twee weke later gedoop word en ek dan die 8ste Februaries sal terugvlieg.

Sjoe, ek weet, dis baie dinge wat moet gebeur in 'n baie kort tydjie. Maar ek is gedetermineerd, Mia en Phil se troue, Emily se doop, dit is gebeurtenisse waaroor ek sterk voel.

Op 14 Januarie vertrek ek laatmiddag uit 'n bloedigwarm Kaapstad na Johannesburg, vandaar na 'n sneeubedekte Engeland ,  New York en dan Las Vegas.

Vlieg is nie meer soos dit voorheen was nie. Sekuriteit het 'n prioriteit geword waar niks en niemand ontsien word nie. Gelukkig het ek gemaklik gevlieg met inglipskoene, want as ek elke keer moes veters los- en vasmaak wanneer ek my skoene by die sekuriteitspunte uittrek, was ek by die derde punt  lankal nie meer my ordentlike, begrypende self nie. Dus, reis maar lig en gemaklik en hou maar al daardie  goue armbande en kettings in die kluis by die huis.

Dis 'n lang vlug en ek probeer my besig hou met lees, lees en nogmaals lees. Toe dit blyk dat ek my boek gaan klaar lees voordat ek Vegas sien, voel dit vir my ek moet begin stadiger lees, want vir die suur gesiggie langs my sien ek nie kans om mee te begin praat nie. Ek wonder wat in haar lewe aangaan dat haar gesiggie so pyn. Wel, ek gaan haar nie vra nie en om eerlik te wees, wil ek ook nie weet nie.

Engeland en New York is nat en koud. Gelukkig is die aansluitingsvlugte nie te lank uitmekaar nie, en ons is gou weer in die lug.

Dit voel lekker om vir'n slag net te ontspan  en aan die gebeure die afgelope paar maande te dink. Daar moet 'n rede wees waarom alles plaasgevind het soos dit moes, maar ek gaan nie nou daaroor tob nie, wat help dit in elk geval?

Tog, het daar ook groei plaasgevind. Ek dink anders oor baie dinge, ek laat my nie meer so maklik ontstel deur alledaagse jakkalsies nie, en ek het ook geleer om te sien hoe ander mense rondom my kan stres oor dinge wat oor 5 jaar regtig nie meer gaan saakmaak nie.

Ek het al baie die afgelope maande gedink hoe ons ons lewe kan verweef met die grootste klomp onsinnighede denkbaar. Die man wat nie die tandepaste toedraai as hy klaar tande geborsel het nie, die bediende wat die een of ander kledingstuk met die yster gebrand het, bla bla bla bla bla.

99% van hierdie vreeslike "krississe" is nie werklik 'n krisis nie, maar ons is so gemaklik met die feit dat ons dit 'n krisis kan maak.   As die tandepaste-prop jou pla, draai die ding self terug, vervang die gebrande kledingstuk of probeer dit red as jy kan. Wanneer laas het jy gaan sit en die tyd wat jy aan kla spandeer, gebruik om met jou man of bediende te gesels oor wat in hul lewe aangaan?

2 Maart

Dis vandag 5 maande sedert ons die uitslag van die Hooggeregshof gekry het. Baie het intussen gebeur sedert ek laas met julle gepraat het.

Met die uitslag was dit al einde November. Die winkels was vol Kersversierings en -liedere. Wie van ons ken nou nie al Boney M se kersliedjies wat jaar na jaar in ons ore speel  terwyl ons ons swaarverdiende geldjies op kersgeskenke spandeer nie.

Hierdie Kersfees was anders.

Ons kersboom (plastiek) is keurig versier met al ons vorige jare se versierings, behalwe dat ek besluit het om hierdie jaar net goudkleurige blinkballe op te hang. Ons sal hierdie jaar 'n mooi eenvoudige boom he.  Geen oordadigheid meer nie. Die boom se stam was egter hierdie jaar leeg met geen kersgeskenke nie. Dit was al asof boompie sy lyfie groter en ronder gemaak het vir die verlies van sy stammetjie wat hierdie jaar leeg gebly het.

Ek het 'n paar weke  voor Kersfees 'n Trifle gemaak vir 'n vriendin se funksie. Sy het die bestanddele gekoop en ek het die trifle gratis vir haar gemaak. Die gaste by die funksie was versot op die trifle en bestellings het ingestroom.

Vroegoggend van Oukersdag het ek gewoel om die bestellings betyds klaar te kry. Sommige mense het ver gery en teen 2uur die middag was al my bestelling-trifles weg en afgelewer. Ek het met 'n stywe kontantbedraggie in my beursie gesit.

 'n Kerstafel  wat dreun onder talle lekkernye sou nie hierdie jaar ons eetkamer versier nie. Daar was geen duur "crackers", kersservette of kerse op die tafel nie. Lamsboude en gerookte gammons het plek gemaak vir hoenderpastei en geroosterde biefstuk. Ek het self tuisgemaakte mostert gemaak en bedien in een van my mooiste oudtydse sousbekertjies.

Lekker vars slaaie en my gewilde trifle het die prentjie afgerond. Almal aan tafel was gaande oor die ete en niemand het eers al die duur versierings van vorige jare gemis nie. 

Die samesyn van ons gesin en familie was kosbaar. Dit was al asof daar 'n dieper betekenis van Kersfees ingesluip het. Ons het weer besef waaroor Kersfees regtig gaan en dat ons Hemelse Vader nie erg het aan enige tierlantyntjies en blinkheid nie. 

Niemand het hulle Kersgeskenke hierdie jaar gemis nie.

Tallie onthul in April-uitgawe van SARIE

Ja, nou kan jy vir Tallie ontmoet. Sy gesels met ons in die April-SARIE oor hoe haar man se afdanking hul gesin, familie en vriende beïnvloed het. Moet dit nie mis nie!