Maar as enkelma met 'n knap begroting was dit net 'n vae droom. Toe lees Simon Mantell van Mantelli's Biscuits in die koerant van Junita se droom en hy laat haar Sydney toe vlieg vir die derde kriekettoets. My nuwe jaar het beslis met 'n bang afgeskop.Toe mnr. Mantell my die 29ste Desember bel met die nuus, was ek oorstelp.Gelukkig was my paspoort in orde. Binne twee dae het hy boonop vir my 'n visum gereël.

Toe ek JP met die nuus bel, het hy aanvanklik gedink ek maak 'n grap. Mnr.Mantell het my op 1 Januarie na die lughawe vergesel. My tweede oorsese reis ooit! Ek moes myself knyp om te glo dit gebeur. As enkelma was dit soms moeilik om Luke (10), Julia (19) en JP groot te maak. JP het nog altyd hard gewerk en dit was nou régtig sy groot oomblik.

JP het gereël dat ek in die Radisson Hotel saam met die span bly. Ek en hy het saam aandete by die hawe geniet. Wow! Wat 'n gesig om die aandliggies te sien. Bedags was ek elke oggend om tienuur op die Sydney Cricket Ground. Dit was ongelooflik om mense sy naam te hoor skree.Die beste oomblik was wanneer hy vir my waai as hy opstap. Maar soms is ek maar benoud as hy kolf en 'n bal kom teen 150 km/h op hom afgepyl . . .

Elke aand het ek en hy só lekker gesels, iets waarvoor ons nie gedurende die besige jaar tyd kry nie. Ek het teruggevlieg met 'n opgestopte koalabeertjie vir Luke en die mooiste herinneringe."

Gaan loer by www.cricinfo.com vir meer oor JP en SA krieket.