Magdalena Schoeman (18), oorspronklik van Somerset-Wes in die Kaap, woon sedert 1997 saam met haar ouers in Nieu-Seeland. Haar oupa woon nog op Oudtshoorn. Dié skoonheidskundige van Christchurch is in April as Mej. Nieu-Seeland gekroon.

"Dit was die wonderlikste gevoel nog. Oorweldigend. Ek het nie gehuil nie, dit was ’n blye oomblik. Kahurangi Taylor, die vorige jaar se Mej. NS, het my gekroon. Ek het by die kroningsgeleentheid ’n elegante swart fluweelaandrok deur die Nieu-Seelandse ontwerper Turet Knuefermann gedra. Sy weet hoe om ’n vrou sexy én stylvol te laat voel.

Die eerste mens vir wie ek per SMS vertel het, was my beste vriendin, Georgia Easter, wat nie daar kon wees nie. My ouers en vriende, asook my vriend, Michael Greene, ’n regstudent, het wel die kroning bygewoon.

As gelukwensing het Michael vir my ’n klein geselligheid saam met ons beste vriende gereël. Ek wil graag die persepsie oor skoonheidswedstryde verbeter en gaan probeer om die meeste geld nóg deur ’n Mej. NS vir liefdadigheid in te samel. Ek wil onthou word as iemand wat werklik ’n verskil gemaak het.

Ek mis SA steeds. Baie van my familie en my beste kindervriendin, Kirsten Conradie, woon daar. Ek is lief vir SA humor en kyk soms na ’n Leon Schuster-fliek. Afrikaans is nog ons huistaal.

Ek streef daarna om in Desember in Johannesburg Mej. Wêreld te word, omdat dit ’n mens die geleentheid gee om jou opinies oor onderwerpe na aan jou hart aan ’n wêreldwye gehoor oor te dra.”