Wat bly oor ná die euforie en zzzoemende vuvuzelas van die Wêreldbeker-sokker? Is daar nog rede om positief te wees oor SA? Natuurlik is die joligheid nou verby, maar net ek en jy – ons almal – kan keer dat ons positiwiteit oor wat SA as ’n nasie kan bereik saam met Paris Hilton in haar private jet landuit vlieg.

Die advertensie-agentskap, Draftfcb South Africa, het pas 'n nasionale veldtog aan die gang gekry om die energie en passie waarmee dié 2010-skouspel aangepak is, te behou. Dit is 'n feit dat alle gasheerlande ná die wêreldbeker 'n gevoel van neerslagtigheid en 'n sterk dosis emosionele 'babelas' beleef. En noudat al die internasionale gaste hul tasse gepak het, voel ons wees en jammer vir onsself.

Maar, met die nuwe 'flying the flag'-veldtog vier ons eerder Suid-Afrika as 'n nasie: ons passie, ons gees, ons positiwiteit. En daarom word ons aangemoedig om aan te hou om ons vrolike vlag hoog te waai.

Kom ons neem met geesdrif deel!

Let's keep flying the flag!

Dit kan jy ook doen:
Dr. Eddie Wolff, sielkundige van Johannesburg, gee dié wenke om te keer dat ons gevoel van samehorigheid en geesdrif verlore gaan:
• Moenie jou ore uitleen aan kritici, opswepers en sinici nie.
• Maak as gesin saam ’n plakboek oor die Wêreldbeker om julle in die toekoms te herinner hoe ’n positiewe ervaring dit was toe alle Suid-Afrikaners as een nasie trots was.
• Neem vanjaar se Mandela-dag (www.mandeladay.com), waarop mense genooi word om 67 minute van hul tyd af te staan om ’n verskil aan ander se lewens te maak, as voorbeeld en skep jou eie geleenthede waar jy en jou gesin terugploeg in die gemeenskap. Dit wat jy vir ander doen, laat jou goed voel oor jouself.

* Kyk uit vir die Augustus-uitgawe van SARIE vir 'n indiepte-artikel hieroor