So het ek dit gesê: “Van die onderpunt van my hart, tot die bopunt van my hart, met my hele hart – ja! Ek neem jou as my wettige man om vir altyd lief te hê.” Jy is my beste vriend, jy dans jou onbeholpe selfuitgedinkte toontrap-wals met my op die Beatles-musiek oor die radio. Jy ruik saggies in my nek en soen my wang terwyl ek skottelgoed was. Jy roep my om na die rooi sonsondergang-berg te kom kyk, en eet al my sjokolade in die kas op as ek dink daar was nog ’n stukkie vir my! Jy redeneer oor alles, en jou analitiese vrydenkende brein daag my deurmekaar kreatiewe feetjieland-uitkyk op die lewe dikwels uit. Jy kook die allerlekkerste kos, en bederf my elke aand met ’n kerslig-ete. Jy sluip saggies by die kamer in as ek slaap en staar na my diep droomverlorendheid, soen my lig op die voorkop en vou die kombers stywer om my lyf. Al word ek effens wakker, maak ek nie die steurnis aan jou bekend nie, want ek voel so gekoester en spesiaal. Onthou jy jou liefdesbriewe aan my? Jy’s so romanties, en eintlik is jy maar net ’n dromer net soos ek. Ek onthou toe jy geskryf het om langs my wakker te word elke oggend van jou lewe, vir die res van jou lewe, sal jou die gelukkigste man in die wêreld maak. Ek glimlag as ek dink aan al die geskenke wat jy na my werkplek toe gestuur het net ná ons ontmoet het. Jy was nog in Australië en ek, nege ure se tydsones weg, in Suid-Afrika. Ons was net dames op die vloer. En al die ander was ook verlief op hierdie onbekende figuur wat my gereeld met geskenke van poësie, musiek en lekkernye bederf het. Ek is mal oor jou passie, jou ywer en die vuur waarmee jy dinge aanpak. Ten spyte van jou prestasies bly jy altyd nederig, stil en beheers. Terwyl ek dit op ’n wye doek vir die wêreld wil uitbasuin, want my hart wil bars van die trots. Jy dra my as ek nie meer kan nie, versorg my, vertroos my. Jy verseker my dat bekommernis ’n vermorsing van energie is en help my om die positiewe in die lewe raak te sien. Jy luister en sing soms in ’n half toonlose heuningstem ons gunsteling-liedjie. Jy help my, jy leer my, jy rig my en jy daag my uit. Jy ondersteun my, verbaas my en laat my soos die gelukkigste vrou in die wêreld voel. Jy’s eerlik, sonder om my seer te maak, lojaal, opreg en betroubaar. Jy gee sulke lekker styfvashou drukkies, wat my hele wese kalmeer, my behoed en my veilig laat voel. Ek lag as ek dink aan hoe ons stry oor wie nou eintlik die mooi foto geneem het, of wie die idee vir daardie lekker resep gehad het, maar ek weet op ons eie is ons iets, maar saam is ons alles.Jy kom luister weer na my koor, al het jy al voorheen die liedjies gehoor, en verseker my dat my kunsklas-projekte lyk soos wat Michaelangelo s’n in sy vroeë dae moes gelyk het! My liefde vir jou het geen begin nie, dit was nog altyd daar. My liefde vir jou het geen einde nie. Jy is my trane en my glimlag. Jy is my lewe elke dag, elke nag. Ek het jou lief soos die somer en soos die reuk van kaneel. Ek het jou lief soos sneeu wat liggies die wêreld omvou, soos reën wat jou voed en behou, soos die sterre van die heelal ver en wyd. Ek het jou lief nou en vir altyd.