My liefste man, Nooit gedink ek sal ná so ’n lang tyd weer vir jou ’n liefdesbrief skryf nie. Het net Sondagaand in die kerk, terwyl ons oudste Belydenis van Geloof afgelê het, met ’n skok besef ... waar het die tyd heengegaan? Ek het daar gesit en teruggedink aan baie jare gelede toe ons saam daar voor in die kerk gestaan en dieselfde gedoen het, hoe ons mekaar in die Sondagskoolklas ontmoet het, skelmpies in die kerk gevry het en toe ons twee, bloedjonk, in dieselfde kerk getrou het. Ek het gedink aan die doop van ons drie seuns in dieselfde kerk. En nou ... nou het ons hier gesit en kyk na ons pragtige oudste seun. En ja, ek het weer daai “butterflies” in my maag gevoel toe jy ons geheime kode gebruik en my hand vyf drukkies gegee het. Daardie drukkies beteken vir ons “ek is lief vir jou”. Maar ek dink nie “butterflies” beskryf die gevoel werklik so goed soos juis die Afrikaanse woord “vlinders” nie. Ja, ek ervaar steeds daardie vlindergevoel vir jou! Dankie dat jy my sterkte is, dat jy my bemoedig selfs wanneer jy ook bang is. Dankie vir jou goue woorde tydens ’n krisis .... “dat ek en jy darem ’n gedugte span is”.Dankie dat jou innerlike sterkte op ’n sagte manier ook in ons seuns weerspieël word.Dankie dat ek weet, dat agter die misleidende somber gesig – waaroor die seuns soms spot – ’n hart van goud is. ’n Hart wat net aan my behoort. Wat ’n voorreg! Toe die lewenstorme ook oor ons woed en die groot “K” oor my uitgespreek word, was my eerste gedagte dat selfs jy, my engel, my nie uit dié een sal kan red nie. En tog tesame met die Genade van Bo, kom ons selfs dít te bowe. Elke keer wanneer my gemoed tot in die donkerste dieptes sak, is jy die een wat my daar uitlig. Jy is die een wat steeds glo dat ons saam sal oud word ... saam die vreugde van ons kinders en kleinkinders sal geniet. Jy is my behoud. My innerlike krag kom net tot sy volheid met jou onderskraging. My engel staan langs my! Die troetelnaampies wat ons so van die begin af vir mekaar gehad het, het oor die jare verander. Van “my skat” en “my engel” na sommer soms net “bok”. En tog dra “bok” steeds net soveel liefde as “my engel”. Onthou jy hoe ons selfs tydens argumente mekaar “my engel” genoem het ... tot groot vermaak van ons vriende wat dit nooit kon verstaan nie. Ek kan nie dink hoe dit sou voel om jou op jou naam te noem nie .... nie reg nie, né? ’n Tasbare bewys van ons liefde saam is daardie drie pragtige seuns ... (wat joune is as hulle slim is ... en myne as hulle stout is). Dankie dat ek na hulle kan kyk en kan weet dat hulle, saam met my, die alles in jou lewe is. Jou liefde vir ons ken geen perke nie. Van ’n pondokkie na ’n paleis. Van ’n goudgeel Kewertjie na ’n bloedrooi Ferrari.Van ’n kleine rooi hartjie na ’n sterk rooi hart wat met alle mag en krag klop en klop ... (enige hartchirurg se droom!). Van ’n kleine vlammetjie na ’n woeste brand. Van 1980 tot 2009. Beskryf dit dalk vir jou hoe jy my laat voel? Van niks na iets! Jy het altyd gesê “ek het jou lief” klink sterker as “ek is lief vir jou”. Ek het jou lief, meer en meer. Altyd joune ... gister, vandag en môre, nou en altyd ... tot in ewigheid.