Jare terug het ek ‘n besluit geneem om nooit befoeterd op te staan nie. En ek is een van die heel vriendelikste mense vroegoggend. Kyk, dit kan natuurlik binne ‘n uur of so totaal verander, want duwweltjies kom lê tog wel elke dag op jou pad, maar ek groet elke dag met ‘n happy, smiling gesig.

Terwyl ek nog sukkel om my lekkertes te beplan het die eerste twee maande verbygesnel. Ek probeer nog beplan aan die jaar, toe ruk sy sommer uit haar nate en gooi my en ‘n hele klomp wonderlike compatriots hier van die platteland binne-in die middel van Woodstock op ‘n Saterdagoggend.

Mmmm, mos lekker grootbek toe daar gepraat word oor The Palms in Sir Lowryweg. Hoe kry ons nog voete daar? Ons bring die Weskusmark soontoe! En toe doen ons dit. Die grootsheid van die organisasie en die skielike besef, dis die stad, Poplap, het my eers teen die Donderdag voor die mark behoorlik getref.

En daar op 11 Februarie 2012 maak ons klomp plattelanders ons eerste buiging in die Moederstad ... and what a start!

Daar's vars oesters, wat sommer voor jou deur die oesterboer self oopgemaak word, en Mamma Gladys se gepiekelde mossels, gekook op die outydse manier met knoffel, uie, pietersielie en witwyn, en vars mossels.

Weskusmark by The Palms, Woodstock, Kaapstad

Daar's vetkoeke met mince uit die hande van Doreen Williams, Sanet Eigelaar se befaamde kaaskoeke, Fiamma se terriens, Anna-Rita en die vroue van Nantekara met hul ongelooflike adamsvye, pruime, druiwe en piekelgoed, ma Henriette en dogter Marike van Liev met hul bondels groengoed en blomme, Karen Lelieblom met haar boerbokvleis en plaasbrode, Sonja van Rustic Living met die mooiste tafeldoeke en servette, Eleanor met haar bou-'n-designer-sandwich, Lize van Carmién Tea met ‘n tea tasting al die pad van Citrusdal, beautiful Suzette van Lemberg se wyne, en SARIE se Lou-Ann met haar saxofoon en Ramon op die klawers sorg vir die vibe!

Weskusmark by The Palms, Woodstock, KaapstadWeskusmark by The Palms, Woodstock, Kaapstad

My tafeltjie is ook daar, kreunend onder beskuit van Yzerfontein, wors en droëwors uit die slaghuis van Nicky Lategan van Moorreesburg, olywe van Het Vlock Casteel in die Riebeek-vallei, my eie befaamde tamatie-konfyt, en geroosterde tamaties!

Weskusmark by The Palms, Woodstock, Kaapstad

En terwyl ek nou so sit en skribbel, werk die senuwees, want oormôre is dit weer markdag by The Palms – met nog ‘n hele klomp interessante eetgoed en drinkgoed wat ons uit alle oorde aanry!

Soms, net soms, hardloop daar so ‘n gedagte deur my brein: Is jy gek, madame? Dan onthou ek al my preke van magic en joy, en voeg ek sommer nog een by: Leef elke dag met ‘n tikkie malligheid. Gebruik daai dansbaan wat die lewe vir jou gee, en dance, darling, dance!

Ek vrek oor ‘n mark. Daar is ‘n verskuilde glimlag in jou oog as jy sien hoe jou tafel stelselmatig leeggekoop word. Hoe wonderlike ou bekendes kom dagsê en met arms vol goodies wegstap. Dit laat jou vergeet dat jou voete moeg is of dat jy nou al ‘n honderd mense gesoen-groet en gedruk het – en dit laat jou smile nog steeds tot by jou oë strek!

Weskusmark by The Palms, Woodstock, Kaapstad

Volgende naweek pak ons weer die Weskusmark op Vredenburg aan. Sy kry ‘n facelift, ‘n nuwe inspuiting. Dalk was die mark in die stad nodig om my weer woema vir my eersteling te gee?

Mmm, en so mark ek en beplan etes en troues en vergeet alte lekker van die chaos in die garage en in die tuin. My tuin agter tussen die olyfbome en turksvye (terloops, dis die voordeur na my huis) is nou net ‘n honde-renbaan. Daar's geen teken meer van fyn gebreekte skulp nie. Ek het gewoond geraak aan die hond met die kolle wat baie oefening nodig het, maar met Persent hier is dit die twee meisies se grootste vreugde in die oggend om sirkels in die tuin te hardloop tot die stof behoorlik op hul pelsies lê! Jip, my tuin is nou ‘n dieretuin!

Persent is nou ‘n tiener. Niks giere en geite nie, net lang, lang bene en ‘n smal, skerp gesiggie en hopeloos te veel liefde vir almal wat sy teëkom. Sy moet volgende week begin skoolgaan sodat daar darem een goedgeleerde hond hier op die Duin bly!

‘n Langnaweek op Franskraal kry my met my ronde lyfie in die water om my vrees vir snorkel uit te sorteer. Maar madame dobber bo-op die water, seker maar te danke aan die ingeboude pollyotter!

Ons haal alikreukels uit en maak ‘n arm man se vissop met ongesuurde brode en beplan en bedink 2012. En hier vroeg in die jaar, besluit jy: elke gier en elke geit en elke lekkerte van die jaar gaan ek embrace!

My wens vir julle tot ons weer gesels: klomp smiles en joy en vrede.

Bella Isabella

PS: Mark Saterdag 10 Maart by The Palms, Sir Lowryweg, Kaapstad van 10-uur tot 3-uur. Kom loer in!