Desember op die Weskus is sonskyn, blou see en wind! Kom ons wees eerlik, die Weskus is droog, dor en vaal in die somer. En daarmee saam waai die wind jou so net-net duskant 'n depressie. Maar. En dis 'n groot MAAR. Hier by Casosweg 24, agter die huis op die duin, staan vet, plat gesnoeide wye olyfbome vol kos. Die turksvy bos is vol geel blomme. Die basiliekruid, pietersiele, tamatie en finkel floreer. En my aalwyne dra sulke láng blomme. Elke oggend is ek al halfses met flennie-pajamas besig om al die stof van hulle af te was - bome, bosse aalwyne, als. Sommer die honne ook. Ek love my tuin in die somer met sy fynbos en roosmaryn voor en 'n droombos agter.

As ek nou al ooit gewonder het wat dit met my is dat ek alewig wil skuur, weet ek nou. Dis van pure nuuskierigheid. Ek is so bang ek mis iets. En as ek eers my mind op iets gesit het...sal ek ure en ure rondry opsoek daarna of om daar uit te kom. En dit is juis met daai rondryery dat koppie begin raas en al die gekke idees uitkom. En dis ook wanneer ek op wonderlike goed af kom.

So is Vrystaat se kind niks skrikkerig vir 'n sinkplaatpad nie en Vrydag moet ek grondpad om Darling toe. Eers Hopefield toe om goiingsak-stoeltjies by skrynwerker-vriendin, Ilze, af te gooi. Haar en Inus se dubbelgarage is a treasure trove van ou venster rame, bal-en-klou-meubels wat sy 'n face lift gee met 'n lekker moderne twist. Daar's tot stringe harte en kruise en en en!

Sy maak sterk swart koffie, en die werksuniformpie ruik nog na Sta-Soft. Daar's nog nie stof en saagsels op van skuur en saag nie! 'n Geheimpie: daar is 'n opedag in Hopefield by The Merry Widow met koek en tee vir die van ons wat nie by al die lekker Kersmarkte uitkom nie. Van die 9de tot die 12de Desember, van 10h00 in die oggend tot 16h00 die middag.

Nou's dit Lelieblom Darling toe. Presies 9 km op die grondpad lê die plaas op jou linkerkant. Ek vergeet trollie se wieltjies is ietwat styf gepomp, so I did a bit of skilful bouncing!

Karen Lelieblom is 'n fees! Daar's boerbokke en beeste. Grotes en klein stocky, vet besies. Daar's die hanslam en die hans-boerbok. Maximus die boerboel, Jolly die ever so interesting mix en 'n string klein katjies (met name soos Blondie en Picasso!) Een dan die hane - 'n witte en 'n brons- en goudkleurige een.

Die skuurhuis is 'n belewenis. Al wat ek wou doen is loer en kyk en kyk.

Karen se venue op die plaas kan vyftig mense by lang tafels vat. Persies tapyte as tafeldoeke en sy wat plaaskos maak. Waterblommetjies, plaasbrode, en sy gaan my doodmaak, maar soos sy sê, stews. Ons drink koppies en koppies Five Roses. Nicolette het vlakoekies gebak - sulke groot, stewige harte wat so lekker in die tee gedompel word.

Ons chat en chat en die hane kraai en dan's dit tyd vir ry. Skaap en bok kom groet. Ek wip stadig grootpad toe so tussen die beeste en koeie deur en dan slaan my asem weg. Ek stol sommer vir trollie! Reg langs die pad staan daar die enorme groot beautiful prize-koei met haar rooi oorbel by nog beeste en koeie. En op die gras lê 'n pasgebore papsopnat, loodgrys kalfie. Ek moes my oë knip en knip! Net soos op TV gaan kalfie op sy kniekies, wankel, en met lang, lomp oopgesperde bene probeer hy opstaan. Sy naelstringetjie hang nog en koei het ook goed wat uithang. Ek maak 'n u-turn, gee nie 'n duiwel om oor wip nie, jaag terug plaashuis toe al skreeuend vir Karen dat hulle die koei moet kom help! Sy gee net 'n reuse glimlag en met 'Bella, nature takes care' is ek weer terug wippend! En daar het wankelende wonderwerk haarself (dis 'n dogtertjie) wydsbeen aan een van haar ma se spene gekoppel. En daar sit ek in trane oor die ongelooflike voorreg om so 'n wonderwerk van die natuur te aanskou.

Ek kry 'n e-pos: "Vaal kalfie 'n versie. Haar naam Bella. Mother and daughter doing fine." Sy's nie vaal nie Karen, sy's loodgrys. 'n Beautiful dogtertjie in 'n loodgrys kalfie-uniform! Versie Bella se aankoms staan vir ewig gegrafeer in my koppie, dis nou 'n moment of Magic!

Soms na-ure voor die rekenaar, en gewoonlik op 'n dag wat Rona so om my en bo-oor my skoonmaak, hardloop ek weg en gaan sit by die Oyster Catcher hier in die dorp en eet Tjop se soesji. Tjop is 'n self taught soesji-sjef, en hy is briljant.

Só sit ek altyd by dieselfde tafel met al my boeke en potlode en goed rondom my.

Juis op een van een van daai duck and run-ekspedisies is my tafel reeds gevat en ek skuif maar by die volgende tafel in. So tussen lysies maak, raamwerke skryf en spyskaarte optrek, luister ek met 'n halwe oor na die man en vrou agter my se gesprek. En toe sy weer vir 'n hele ruk op die foon is, vra hy iets en ek, moi wat nooit met vreemde mense praat nie, draai om en las by.

Dis res is 'n beautiful storie. Johan en Rina is van Bronkhorstspruit. Hulle is ook mede-eienaars van 'n plaas in die Vrystaat met witleeus, bengaalse tiere, donkies wat nie leeu kos word nie omdat hulle, Johan en Rina, se harte te klein of dalk te groot is.

Ons kuier weer die volgende aand by Leka by die See en dit voel of ek die twee my lewe lank ken. 'n Week later kry ek 'n foto van drie klein welpies, pasgebore!

Waar ek my draai is daar klein goedjies. Klein katjies en ek bedoel kleeeeein. Mandjies vol van hulle. And all I want to is adopt.

Ek weet nie of dit iets in die lug is nie of dit diere kraamseisoen is nie, en of die universe net besluit het let's smile on this girl. Well, Universe, you are doing a sturdy job. Dis of ek heeltyd net wil loop en smile en dankie se vir al die klein wonnerwerkies wat so vir my gewys word.

Nou is daar die klein dilemma: wil ek 'n Karen Lelieblom se Picasso aanneem? Ja ek wil, maar wat gaan die ander robuuste lede van die close little family daaroor sê?

Terloops: Picasso is wit met rooi en swart en grys en elke kleur kol - true original. Ek dink sy sal 'n pikante maatjie vir die gespotte dame wees!

Ons hou weer mark die naweek. Daardie eerste uur terwyl almal hulle goedjies aandra is die heel beste. Die Sardientjie-klub se bejaardes met hulle liters pannekoek deeg is altyd eerste. Daar word geskerts en drukke uitgedeel en planne gemaak om almal in te pas.

Sit vir my net 'n voorskoot om my lyf en ek kry 'n splinternuwe persoonlikheid. Ek kan in eenoggend die mushroom lady, die chicken pie fundi en die biscotti queen wees. En as dit moet hou ek sommer 'n wynproe ook. My hart jubel want dit is lekker om al die bekende gesigte te sien en deel te wees van 'n wonderlike energie. Ons hou sommer nog 'n mark die maand vir die vakansiegangers. Môre stryk Rona, wat nie lief vir stryk is nie, my voorskoot en pak solank my mandjies en potte. The table has to be dressed. Daai stylist-streep kry jy nie uit my nie. Ek het gister al begin goed inryg vir my ou groot chandelier wat ek in die middel van die steeg ophang. En die ou SAR-wateremmer is reg vir sy bosse laventel en roosmaryn en mint. (Ek het MASSAS wildemint wat sommer so tussen die skulpe opkom).

More maak ek klapperys, dalk koop iemand daarvan! Anders weet almal nou wat hulle vir Kersgeskenke kry! Voila! En sodra ek 'n kerrievis resep by my liewe vriendinne Ingrid en Carmen kry, maak ek kerrievis Saterdag die 18de se mark!

Lekker week tot 'n volgende gesels.

Bella.