Die lang, donker Weskuspad rol sommer vinniger verby. Ek luister nooit radio in die kar nie... in fact, ek luister na niks. Dis dinktyd. Droomtyd. Kop-uitsorteer-tyd! Weet nie hoekom ek die knoppie gedruk het nie. Daar is Margo Luyt se stem, en toe Louis wat sy gunsteling-gedigte voorlees en dit vat my terug na kleindogtertjie-badtyd. As my mooie ma, Issie, my so op die toilet laat staan het om my met die growwe songedroogde reusehanddoek af te droog het sy altyd so met die laaste toevouslag en 'n reuse-klapsoen gesê: "My nooi is in 'n nartjie..." dan 'n lekker kielie en sy't voortgegaan met: "Ouma is in kaneel!"

'n Mens se ma is jou kosbaarste juweel. Al is sy lankal nie meer hier nie skitter sy elke dag oral waar ek kyk, oral waar ek luister.

Dis woelig hier op die Duin in 2011. Ek het al amper normaal begin raak, so net-net my edge van histerie begin verloor. Daai oordosis adrenalien wat jou so op jou tone hou wanneer daar soveel dinge en goeters en projekte en, en, en, is dat jy vergeet om asem te haal. Wanneer jy maar met 'n mooi designer-papiersak voor die bed slaap vir daai hyper ventilate session! Al daai lekker histerie is terug. Lekker!

Die naweek kuier die familie vir die eerste keer hier. Susan is klein en fyn en maak wyn. Ongelooflike rooiwyn op hulle plaas Graceland. Paul is sjarmant, 'n interessante boekopslurper... Wêreldoorlog 2 - sy grootste liefling. Hy weet van goeters. En op army leave is Alexis, die middelste seunskind wat 'n parabat in die Engelse army is en nou in Afghanistan werk. Wow! Wat 'n stunning kind. Wat 'n stunning familie.

Taro, doodmoeg en broken (ander woord vir seer) ge-kite, kry ná 'n yskoue Black Label en honderde vrae sy eerste fillet op 'n skinkbord om te braai. I salute you, my boy. Jy braai 'n engelvissie en kabeljou dat mens die grate aflek... but you also do a mean filet!!!

In die oggend is strandlangs gestap vir gebakte eiers en cheese grillers by Lekka by die See en die aand eet ons prawns op die stoep by Beira Mar in Slippersbaai. Hoe lekker is dit om nuwe familie te hê.

Maandag pak ek en Rona die garage reg. Oukie, ons het gepoog. Lekker langtand vir die rommelhoop. Ek giggel so onder my blad vir dié wat verbystap en hier sit ek op 'n plastic emmer en Rona op 'n ou blikemmer en sorteer deur hope caccerai! Daar's wonderlike goed gevind. Daar's byvoorbeeld drie Hilti's , 'n versameling hammers, hekelnaalde, breinaalde in elke grootte, kiste vol wol en bokse met ou juwele. Dis soos 'n Pandora's box.

Ek bak op versoek tot laatnag biscotti en probeer om wonderlike stilis Hannes se fabelagtige sjokolade-fondant na te maak. Vroegoggend word koekies in mooi papier toegedraai, blikke kry strikke à la strikkie-queen se reputasie!

En Dinsdag is my eerste lang visuele vergadering by SARIE. Hoe lekker! Ek het vergeet hoe amazing dit is met almal om die tafel. Die idees vlieg, die humorsinne glip nuwe hoogtes in! Daai lazy brein kry 'n goeie blerts Q20 anti-rust spray!

Dan Vineyard Hotel toe vir meeting met Gerrie, my advertising guru-pêl. Talk about one of a kind! Ons leer 'n goeie begrip het net 'n halwe woordjie nodig. Nee, o nee! Gerrie het net die eerste letter nodig. Hy is die wonderlikste sounding board, so vinnig soos jy idees na hom toe gooi, so bounce hy vir hulle in triple-voud terug!

Gerrie is ook een van die Hermanuspietersfonteiners... dis hy wat die advertensies uitdink. Die nuutste een het geen woorde, net simbole wat al die dinge en goeters van Hermanuspietersfontein uitbeeld.

Dat hy bleddie kreatief is, is 'n given, maar nou het hy nog hope styl ook!

As julle weer op Hermanus is gaan mark toe by Hermanuspietersfontein. Gerrie is die kaasman en wonderlike Gerard was altyd die wynman... nou socialise hy net! En Anuta, being a woman, reël die hele mark! Dis lekker daar by hulle. Dis net daar waar ek ook die inspirasie vir ons eie Vredenburg-kosmark gekry het. Net jammer ons het nie 'n Kleinboet of Martha om aan te teug nie!

Dis warm in die stad vandag. Seker maar die bietjie ekstra gewig en natuurlik die jare... mmm, 55. Ek soek lap vir tafeldoeke. Ek weet wat dit is. Ek kan dit nie verduidelik nie. Marcel en Marlon trou einde die maand en volgende naweek is hier 'n ete waar ek nou al my nuwe décor idees wil toets en ja, tussen Henna en tannie Sarah moet daar volgende week gewikkel word met skel-pienke en -oranjes! Vir 'n madam wat al vir 24 jaar amper net gitswart dra, is ek o, tog so brave!

My silwer trollie staan volgepak hier buite met vandag se vondse. Langsteel-bolling-turkoois blompotte, polkakol-lappe, romanties-gekleurde glase. Als no name brands wat eers 'n paar tafels feestelik gaan laat lyk... and then they too retire to the garage! (Om later weer met geesdrif gevind te word.)

Op pad terug laai ek die trollie tot oorlopens met kompos, tuinteëls en KRUIE! Dis kerriebos en salie, pietersiele en Thaisebasiliekruid, tiemie, nog tiemie en origanum. Nog pietersiele, boontjies en artisjokke.

Die groot vriendlike man vra so ewe, "nou waar's CR... Langebaan? Dis mos by die see? Wat gaan Mevrou met die goed daar doen?"

"Hallo! Ek het 'n pikante, ougat groente-en-kruietuin op my sandduin."

"Is Mevrou seker?" vra hy.

Ek ruk my Bessie daaruit en gee hom 'n volledige slide show van my vinkel-en-pietersiele-bakke en swaar dragtige olyfbome. My bondels basiliekruid. Die kar ruik soos 'n vars pakkie mixed herbs en ek ry stadig duin toe. My ma, Issie, het ons geleer: We each sing our own song! We make our own music. En skeilik weet ek. Moeder was reg: This is my song! En daar loop die trane!

Ek verlang na my ma. Dit was nou die dag haar verjaarsdag. En dalk nou eers verstaan ek van die gesingery en musiekmakery. Ek onthou skielik hoe lief sy vir haar teetjie was. Net die fynste porseleinkoppie. Nooit uit 'n beker nie. 'n Hele ritueel het ma Issie daarvan gemaak. Eers word die koppie met kookwater uitgespoel, dan koue (kamerkoue) melk en dan so 'n wye swirl van die teepot voordat jou tee geskink word. As ek my oë toemaak, proe ek haar tee. Ruik ek haar Ralph Lauren Safari waarvoor sy tog so lief was.

Happy birthday, ouma Issie!

Daar's drie paar oë wat deur die gleuwe van die hekkie loer... daar's 'n dosyne little holes en twee enorme excavations. Dank die vader my mooi houtvis is nog nie begrawe nie! Soos die drie teen die trappe opjaag kosbak toe, kom Picasso met haar knock knees ondertoe... sy klim nie die trappe nie, nee die merrie spring van stapeltjie boeke tot stapeltjie boeke!

Soos die son sak, seil my blouoogkind met sy klein bootjie by die hawe in. En ek wag vir daai hello mother dearest.

Die snoeke lê en wag vir môre se vinnige braai om Saterdag smoorsnoek te maak. Die glase staan uitgepak en blink gepoets vir Piet van Doornkraal se wyne. Vroegoggend gaan ek plat brode bak en patees maak en kaas met brandewyn-geweekte rosyne, want die gaste eet sommer Duinkos. Saterdagoggend kom kuier hier dertig stuks, want dis Tanya O'Conner en Hallo, Lewe se party hier by ons. En soos Mrs Jones genoem het: We will all gather at her feet and listen!

Daar's mense van oraloor. En liewe Karen Lelieblom gaan met trots sien hoe haar plaaskat, Picasso, 'n beach kitten geword het! En hoe sy die hele huishouding met die kap van 'n sagte pooitjie regeer!

Lekker naweek, en werk aan daai song van jou!

Bella Isabella.