Die antwoord: ek ry en loop en praat en lag met oop oë...al is hulle op skrefies getrek! Ek soek na magic!

Daar’s 'n quarry-gat so skuins bokant die Duin. Twee witkruisarende se blyplek. Het al oor hulle geskryf. Jy moet mooi ry. Lekker konsentreer om daai dooie boom te sien. En dan op 'n Vrydagmiddag wanneer vreemde gedagtes, dinge en goeters jou pad kruis sit arend in die boom. Ek maak 'n wilde u-turn voor 'n swerm karre. Die naweekers toet en wys hulle gunsteling-vingers. Ek en trollie ry stadig die bult uit. Beloning... daar sweef 'n enorme voël met groot vlerkspan so al voor trollie en perch uiteindelik ook op die dooie boom... meneer en mevrou wit kruis arend! Hoe special is dit. Ek ry tot by hulle en staar en kyk. En 'n verwaande kraai met luide gejuig flerts daar rond net om uiteindelik te besluit, hier lol ek nie!

Huis toe.. duin toe met 'n jubel in my siel!

Teen donker, na 'n character building swem in  die see, stap ek tuin toe om die honde se bak vol water te maak en daar tussen die welige bondels mint skyn twee groen fluoressent liggies... die vuurvliegies is terug! Jaar na jaar is daar vuurvliegies in die tuin. Noem ek dit rol my pelle hul oë en sonner 'n woord weet jy hulle dink: wat drink die vrou!  Nou het ek al slim geword . Ek roep getuies!

'n Geskenk is deftig soos my vriend David Strauss sal sê. Self uitgesoek en mooi toegedraai! ’n Presentjie (die verkleinwoord weergawe)  is vir my iets kosbaar wat in 'n breek van 'n sekonde 'n groot hap uit jou hart vat!

Heel week leer ek skryf by enigma Riana Scheepers. Wow wat 'n leermeester! Soveel amazing energie en 'n fabulous gier om jou lus te maak vir reg skryf, reg praat en reg lees! Daar’s elf van ons om die tafel. Elf heel uitlopende siele...en dan is daar ‘presentjie’. Dit werk so. Op die beautiful plaas De Compagnie aan die voet van Bainskloof in Wellington is daar Minki en Klara die skaaphonde. Vroegoggend as ons daar aanland. Ok, 10 uur as ons daai glasie De Compagnie 10 jaar oue brandewyn skink...het Klara en Minki lankal die perde in 'n hoek vasgedruk. STAAN DAAR. Ewe pikant lê die klein skaaphondjies en hou daai perde onder die oog.

Stap ek op 'n oggend stoep uit lê daar die dingetjie in 'n enorme honne-madjie. Klein. Alleen. Dis Presentjie. Mooie Klara se enigsteling! And the rest is history! Daar ontwikkel die liefde in my hart vir die honne-meisiekind met haar gespotte kwartel-eier snoetjie en ronde hondjie gesiggie!

So Presentjie kom Duin toe! En haar naam bly Presentjie! By the way, Presentjie is simbolies! Sy pas in by die happy happy mood in my Duinhuis.

Net hier af in die pad bly 'n vet Dassie. Te ougat lê hy en bak in die son en roer eers as mens erg naby hom kom. Verder stap die skilpaaie heen en weer oor die paaie, natuurlik in hulle tyd. Die tinktinkies maak nes in die laventel en die wind waai! Elke dag. Sonder 'n almanak is dit die tell tale tekens van einde van die jaar. Van somer op die weskus!

Cornelie en Jacques trou. Saterdag begin met die mooiste weer maar teen vroegmiddag begin die suidooster haar ding doen! En toe die gaste vir die pre-wedding drinks aankom by Lekka By die See begin dit sommer reën. Als good luck natuurlik... maar hulle trou! Daar is so benoude oproep van die amper getroudes om foto’s hier by die Duinhuis te neem. Sy’s 'n beautiful bruid en dis asof die wind die blouste blou in daai oë laat uitspring na jou. En Jacques met sy rooi kop en grys pin stripe suit kan nie ophou om te staar nie!

Dis 'n wedding with a difference. Van die enorme Tretchikoff afdrukke tot die grys geborduurde komberse. Die op mekaar gestapelde hout palette toegepak met tapas, oesters, mossels, perdepote, arikreukel, bredies en Alta Nel se befaamde bokmelkkase...en die giftige PITTEKOU van die Tolbossie Padstal in Laaiplek! Mmmm, pittekou is witblits gemeng met grenadella... dit vertel 'n storie van sy eie!

Ons woel in Lekka se kombuis...Tassa, Calvinia, Magda, JP en Bianca. Die groot, blink potte word sommer net so met bredie op die tafels gesit, net 'n polkadot servet om elke oor.

Vyf en twintig jaar later is ek steeds 'n absolute wrak om voor mense te praat. Elke keer is ek adamant: nooit weer nie...en kry ek myself dan haal ek alweer vlak asem, of in fact vergeet sommer om asem te haal. Loop met natgeswete handpalms rond en vergeet binne die eerste sekondes my mooi uitgewerkte speech. Ek en Ian van der Westhuizen (ontwerper van formaat en ons deel 'n verjaarsdag) gaan praat by Tygerberg Hoërskool. Ian is te outgat...die het 'n hele power point uitgewerk met appel, peer, aarbei-figure...en 'n soetrissie. En dis toe wat ek is: 'n bleddie soetrissie! Mmmmm amper die einde van 'n goeie vriendskap was ek nie so lief vir die jongman nie.

Ek pas alweer hond op. Taro, liewe rastakop-kind, sprei se vlerke in Luderitz by die wêreld kampioenskappe. Wie is die vinnigste man op die water?! Laasjaar was hy die Afrika kampioen met 92 km (lekker mal)! Vir 'n maand leef die klomp windjaagers van reg oor die wêreld op Luderitz. Hy maak kos, word deur 'n hond gebyt, jaag op sy scrambler...en kuier natuurlik! My kind van die wind.

Onder aan die voet van die Bainskloofpas lê Doolhof 'n wynplaas. Annelize Bosch van aH in Paternoster vertel daarvan. Ons gaan stap rivier langs en hou piekniek. En invest net daar in hulle amazing DARK LADY rooiwyn, sjokolade geure, die mees wonderlike smaak!

Haat praat maar gaan gesels ewe senuagtig by Simone van Val de Vie se wedding workshops. Dis mooi daar. Daar’s wonderlike interessante mense wat praat en die mooiste mooi van trourokke met Kobus Dippenaar en Jenni Button (die rerige Jenni haarself onder haar nuwe etiket Philosophy) en Stephanie Morland! En ek leer Anina Malherbe ken, PR per excellance!

'n Paar jaar gelede leer ek vir Aleit en Madri Swanepoel ken en kyk grootoog hoe die amazing jong man 'n empire opbou van net die beste en net die mooiste troues en onthale! En steeds is hy die stunning jong man sonder pretensies wat diep in jou hart kruip.  Vanjaar leer ek Johnny ken. Artistieke direkteur by Aleit en 'n ongelooflike talentvolle jongmens en hy’s fun!

Saam pak ons Aleit se website foto’s aan met my mees favourite fotograaf en maestro Johan Wilke. Legendariese Algria doen grimering, sexy Portugese Fernanda doen hare en ons het vryheid...go for it! Hoe lekker! Ons doen ons eie ding...create ons eie trourokke van twee enorme meringue onnerokke  in swart en room sommer so bo-oor mekaar met 'n pikante milliter geïnspireerde onderbaadjie van Jenni en 'n bol tulle op die kop. Hoe beautiful is dit!

Dis al die dinge en geite en goeters wat maak dat ek altyd met 'n smile op my gesig wakker word...ok in die volgende paar ure mag daai fraaie glimlag dalk ontwikkel in iets minder cute...but that’s life!

Ek giggel en weet ek sal seker weer binnekort van Taro se Facebook friends geblok word want ek lewer mos kommentaar. Nie sommer gewone kommentaar ek skryf nie, liefde en soentjies en bevraagteken foto’s...waar, wie wanneer? NOT cool!

Hy pos: life is not a spectators’s sport! En ek kyk en ek smile. Hy’t dit nou wel op 'n bumper sticker gesien...maar dit het tussen daai rasta-lokke gaan sit!

Ek salute dit en op my enorme ouderdom weet ek dit: life gooi vir jou curve balls. Jy moet net daai lyf van jou rats hou en hulle vang! En eens jy dit het :you make it your own...gooi weg of hou vas!

Vir my kind met vlerke daar ver in Luderitz maak ek 'n versie: jy dans en gly en tol op 'n dansbaan van God. Ek kyk vir jou ek hou jou dop!

Vrede vir julle. En gly en dans en tol op julle eie dansbaan!

Daar’s nog vyf weke dan is dit kersnaweek. Nog 'n week dan is dit 2012!

Heel Desember word daar elke Saterdag en Sondag lang tafel gedek op die dek met bakke vol vars seekos, self gebakte brood en 'n wyntjie. As jy hier rond is of sommer net lus het, kom eet. My e-mail: bellnie@iafrica.com.

Tot ons weer gesels.

Bella Isabella