G'n bang haar op dié bonte lyfie nie. Mobe, ons Olimpiese swemmer, is smoorverlief. Hy deel net soene uit en lek Picasso dat sy omval. Die spotted lady is minder vriendelik. En Emma gooi net 'n dooie oog op die nuwe dramaskepper!

Vroegoggend Maandag ry ek met 'n kar vol sakke en bokse, potte, panne en strikke Lelieblom toe vir 'n fotosessie. Ek en Karen maak kos, Johan en Kelvin neem foto's. Dis warm op Darling en die waaier in die kombuis werk erg hard. Ons drink Lime Cordial, hope ys en water. Ons wysig maar die resepte soos ons kook. Ons re-invent, maar dis lekker.

Dis of die diere weet hulle moet mooi prentjies maak en hulle gee almal 'n show... van die bont varke tot die swart stallion en die baba-kuikens!

Karen maak haar famous f*@*#*# stew. (Dit nadat sy op 'n kol vir die gesin dag na dag die lekker soetpeper-en-skenkel stew gegee het, was daar 'n vraag van moet ons alweer die f*@*#*# stew eet?). Ek maak broccoli-en-botterbone-sop....hoender met agt knoffelknolle en roosmaryn en oondgeroosterde groentes.

Uhm, ja, tuisgemaakte pasta! Arnold van ah!-gastehuis laat dit dan altyd so maklik lyk. Gaste sit om die tafel en hy rol en draai en kook sommer so moeiteloos hier neffens langs jou. Hierdie madame kom gou agter dis 'n kuns om pasta te maak en nie lang stringe rubber nie! Sal nou nie myself as bobaas pasta-skepper uitgee nie. Die poeding is pere en bessies in rooiwyn met crème fraiche. En saam met die koffie 'n lekker glasie soetwyn van niggie Su se Graceland-kelder met biscotti uit my kombuis! Die prentjies is beeldskoon en na so 'n dag is jy uitgeput maar fulfilled!

Dinsdag sien die eerste aflewering van Bella's delights (from my West Coast kitchen). Karin en Roland trou Woensdag en elk van die 40 gaste kry 'n silweremmertjie vol biscotti. Dinsdagaand bak ek dat dit bars. Elke hopie biscotti word in mooi swart-en-wit sneespapier met 'n fluweellint toegebind en die emmertjie kry 'n swart naamkaartjie! Dis harde werk, maar só lekker!

Laasweek was een van daardie vol weke wat ek tog so lief - hoe besiger, hoe lekkerder. Vrydagoggend 7h is ons op Clifton se 4de strand om voorblaaie te skiet vir Shape-tydskrif. Dis warm en windstil wanneer die eerste mooi lyf in 'n piepklein bikini op die randjie van die brekende golfies staan. Teen 11h begin die strand vol raak van mooi mense met mooi lywe - eers 'n jong pa met 'n 2-jarige in haar frillie-rooi bikini wat ewe op haar maag lê, toe, mooi gespierde lywe wat op hulle seilplanke staan en roei en toe groot seiljagte wat nader trek om die dag luilekker in te kuier met 'n beautiful view van Clifton en sy mooi mense! Dank die vader daar is darem 'n paar gewone lywe tussen-in en dis lekker om te sien hoe gemaklik hulle rondbeweeg - tuis in hul eie lywe!

Saterdag was dit markdag en vriedin Linda kom van Melkbos om te help met ons nuwe venture - Surprise-broodjies! So 'n week of wat gelede het ek en Kundra by The Kitchen in Sir Lowryweg in Woodstock 'n broodjie gaan eet, en net daar het ek die idee van die Surprise-broodjies gekry.

Jy kies 'n panini of rogbroodjie en dan wat jy alles daarin wil hê - kombinasies van gerookte varknek, komkommerpekel van Graaf-Reinet, avokadopeer, gemarineerde eiervrug, feta, pesto, tamatie en fyngesnipperde rooi sprietuie, olyf-chutney van Van Wyksdorp en 'n stunning tuisgemaakte mayonnaise-dressing. Toegedraai in 'n mooi groen servet, en binne-in 'n outydse kardoesie!

Die cherry vir die week is my seunskind wat hier by sy ma is. Ai, dis lekker om sy beautiful energie oral te voel, sy lang lyf op die bank uitgestrek te sien. Om laatnag hoender-sosaties te braai en te sien hoe daar 'n sagtheid oor sy wese kom as hy Picasso saggies optel, omdop en daai magie krap. Ons stap strandlangs en gaan eet oesters en calamari by Lekka by die See. Hy raas omdat sy ma nie weet hoe om met geld te werk nie, maar vergeet heeltemal van al sy kwaaigeit ná die eerste glas passion fruit en soda. Vir jare toe hy tiener was was dit ons gunsteling-drink - lang glase met dubbeldop passion fruit, baie ys en soda.

Dis windstil vanoggend hier op die Duin. Ek en die honde was al vroegoggend in die water besig om die kamakazi-krappe te side step. Die strand en die dorp is vol en jy kan nie help om daai lekker somervakansie-gevoel te kry nie.

Vir almal - 'n Merry, Merry Christmas. Mag 2011 'n jaar van joy wees. Joy wat jy self skep en geniet. Blessings vir julle hier van my duin af en liefde en vrede.

Bella